Mabuza se beëdiging uitgestel

Adjunkpres. David Mabuza (Februarie 2019) (Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency/ANA)

Die ANC het ingestem tot ʼn versoek van sy adjunkpresident, David Mabuza, om sy beëdiging as lid van die parlement uit te stel.

Mabuza het die versoek gerig ná ʼn verslag van die ANC se integriteitskommissie bewerings bevat het dat hy die ANC se aansien en integriteit skade berokken het.

“Die adjunkpresident het aangedui dat hy ʼn geleentheid wil hê om sy kant van die saak aan die integriteitskommissie te stel,” het pres. Cyril Ramaphosa in ʼn verklaring gesê.

Ramaphosa sê Mabuza wil desnieteenstaande doen wat sy gewete vir hom sê en wil uit respek vir die ANC se instellings en prosesse sy beëdiging as LP uitstel. Volgens Ramaphosa glo Mabuza die ANC, as regerende party, moet kiesers se belange bevorder in ʼn omgewing van openbare vertroue.

“Die ANC loof adj.pres. Mabuza vir die standpunt wat hy ingeneem het en ek persoonlik bewonder sy onderneming om die ANC eerste te stel,” het Ramaphosa gesê.

Die ANC het die integriteitskommissie tot stand gebring om sy lys van kandidate vir die Nasionale Vergadering en die provinsiale wetgewers te ondersoek.

Buiten Mabuza se naam, het dié van die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, ook in die verslag opgeduik.

Luidens berigte is nóg hooggeplaaste ANC-kaders, waaronder Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane, Fikile Mbablula, Zizi Kodwa en Thabang Makwetla óók in die kommissie se verslag uitgewys.

Die parlement in Kaapstad is vandag ʼn miernes van bedrywighede waar sowat 400 lede van die Nasionale Vergadering deur hoofregter Mogoeng Mogoeng beëdig sal word. Elke nuwe LP sal ook hul ampseed onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Beediging geskied deur te sweer in die naam van God van die Bybel . Hoeveel van die mense word ingesweer wat Hom ontken ? Stel eerder ‘n bevestiging in sonder om Sy naam te misbruik en te ontheilig .

Lerato ·

Die hoop beskaam nie.
Cyril het al van ‘n hele klomp vuil wasgoed ontslae geraak. En ek glo as slim onderhandelaar gaan nog ‘n trop die trekpas kry.
Hou moed daar is hoop.

JG ·

Ja natuurlik, cANCer se belange word mos eerste gestel…bo die van lands-belange…soos Zuma hulle geleer het.

Henk ·

Hierdie man is n slang. En daar waar n slang in die gras is, is n probleem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.