Mabuza vanmiddag as LP beëdig

David Mabuza, adjunkpresident van die ANC.

David Mabuza, wat eers sy reputasie in ere wou laat herstel voordat hy as parlementslid beëdig word, word nou vanmiddag (Dinsdag) as LP ingehuldig.

Dit kan moontlik die weg baan vir sy heraanstelling as adjunkpresident.

Mabuza het vroeër met die ANC se integriteitskommissie vergader om die bevinding teen hom te bespreek. Die bevinding het behels dat hy die ANC se aansien en integriteit skade berokken het en hy het aangedui hy wil eers die geleentheid hê om sy kant van die saak aan die kommissie te stel.

Mabuza, die ANC se adjunkpresident, word om 16:00 by die presidensiële gastehuis in Pretoria beëdig. Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal die beëdiging doen.

Mabuza se besluit, om eers terug te staan totdat hy met die kommissie vergader het, het baie mense onkant betrap.

Ná groot bespiegeling oor die naweek dat pres. Cyril Ramaphosa sy kabinet gister sou aankondig, het die presidensie Sondag in ʼn verklaring gesê dié aankondiging gaan eers later in die week gedoen word.

Die Grondwet bepaal die president moet binne vyf dae nadat die Nasionale Vergadering hom verkies het, sy amp opneem. Hy moet daarna ʼn kabinet aanstel.

Maroela Media het vroeër berig daar is kragtens die Grondwet geen spesifieke tydsbeperking teen wanneer die president die kabinet moet aanstel nie. Daar is net die verpligting op die president om wél ’n kabinet aan te stel, wat beteken die huidige situasie – die gebrek aan ʼn kabinet – kan nie onbepaald voortduur nie.

Intussen is die direkteurs-generaal in beheer van hul departemente en sal die staatsdiens soos gewoonlik bly funksioneer. Hulle kan ook bedryfsbesluite neem. Geen beleidsbesluite sal egter geneem kan word solank daar nie ministers as politieke hoofde aangestel is nie.

“Pres. Cyril Ramaphosa het dit benadruk dat die nuwe uitvoerende gesag die nodige vaardighede, ervaring, verteenwoordiging en ʼn verbintenis tot die staatsdiens moet hê wat die werk van die sesde administrasie vorentoe kan neem,” het die presidensie vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Genieve ·

OK so CR het dan eers vir hom gewag voordat hy sy kabinet so bekend stel.

SjN ·

Wag seker ook nog vir die tent om opgeslaan te word by die gastehuis.

piet piet ·

Sa se grootste probleem is werkloosheid onder sy burgers,die land het al naby n miljoen “refugees” wat werk in Suid afrika van Etiopië wat nie stemreg het nie so die werkloses stem anc en DA en dit is hoe CR en sy bende in beheer bly in enige land met n hoë intelegensie vlak sou CR nie eers naby n kabinet gekom het nie wat nog van om een te kies en n Mabuza sou n gevangene gewees het.

Thinus ·

So ‘n persoon wat ‘n donker wolk van korrupsie, poging tot moord oor sy naam het word ingesweer as visie president. Nou wat het van CR se skoon regering geword? Nog ‘n leun…

TikTok ·

In die tweede laaste paragraaf, weerspreek julle julself. “Direkteurs Generaals kan beleidsbesluite neem maar geen beleidsbesluite sal egter geneem word as daar nie ministers aangestel word nie”. Beteken dit dus dat die hoofde van departemente kan slegs operasionele besluite neem totdat die nuwe ministers aangestel word om beleidsbesluite te neem?

Willie ·

Ek het n gevoel ons gaan baie teleurgesteld wees met die mid weg new dawn parlement wat CR gana aanstel. Dit gaan beslis weereens n suiwer ANC kyk-na-mekaar-en-werf-stemme sitting wees

Theoman ·

Hierdie Mabuza ou het n grooterplan saam met die EFFies,hoekom het Malema daarop aan gedring dat DD 2de in bevel moet wees, Rama sal voorentoe katvoet moet loop hier kom n ding.

Ore ·

Maar net weer ‘n bewys,dit wat voor verkiesing onderneem/belowe word kom tot niks na die verkiesing.Kan mens nog enigsins iets glo wat politici aan ons vertel? Is daar nog ‘n land waar kriminele in ‘n parlement dien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.