Machadodorp-video: Talle vas ná gewelddadige betogings

Die brandende vragmotor op die N4 Vrydag. Foto: Twitter via @Crimeairnetwork.

Altesaam tien mense is in hegtenis geneem ná die onlangse vlaag gewelddadige betogings wat verlede week in Macahdodorp en Belfast uitgebreek het.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het bevestig ses is Vrydag vasgetrek en vier vandag.

Die inhegtenisnemings volg nadat woedende gemeenskapslede Dinsdag die plaaslike polisiestasie bestorm en die pad versper asook Ridwaan Ismail, ʼn plaaslike sakeman, se winkel afgebrand het.

Sake van intimidasie en brandstigting word ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig Bruce Botha (29) en Wayne Swart (20), die twee mans wat tereg staan op aanranding met die doel om ernstig te beseer in verband met ʼn video van hulle wat ʼn man na ʼn bakkie toe sleep en hardhandig hanteer, het Vrydag in die Belfast-streekhof verskyn.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het aan Maroela Media bevestig dat albei op borgtog van R500 vrygelaat is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer is ook teen die beweerde slagoffer op die video gelê nadat hy en twee makkers glo Maandag een van Ridwaan Ismael, ʼn plaaslike sakeman van Machadodorp, se werknemers aangerand het en Ismail toe vir Botha en Swart, plaaslike veiligheidswagte, gebel het om te kom ingryp.

Toe Botha en Swart Vrydag in die hof verskyn, het  ʼn skare mense buite die hof in Belfast saamgedrom en geëis dat Botha en Swart se aansoek om borgtog nie toegestaan word nie.

“Die palissades van die hof asook twee polisievoertuie is beskadig. Die polisie het rubberkoeëls gebruik om die skare uiteen te jaag,” het Hlathi gesê.

Woedende betogers het daarna die N4 tussen Belfast en Machadodorp op pad na Nelspruit afgesper en ʼn vragmotor gebrand.

Die eerste ses verdagtes, Pricilla Maelane (26), Donald Mafika (26), John Thela (52), Khomotso Chiloane (33), Sipho Bholosha (18) en Khanyi Ceza (42), het Maandag in die Belfast-landdroshof verskyn vir openbare geweld en is vrygelaat op borgtog van R300 elk. Hulle moet 3 Oktober weer in die hof verskyn.

“Die oorblywende verdagtes sal ook in dieselfde hof verskyn hangende verdere ondersoek,” het Bhembe gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

RR ·

Vorige regering was daar ook sulke opsetlike oproerigheid en opruiende voorvalle maar met dié verskil, onluste polisie was effektief om sommige dinge in kiem te smoor VOOR die massas kon hoofpaaie beset brande stig en vragvoertuie brand. Beriggewing was ook verskillend sommige “mense” en gewoontes nog dieselfde.

HPV ·

Evert, nie die oproermakers, as hulle maar gedwing kan word om die skade te betaal sal alle oproer dadelik stop. Nee, soos gewoonlik die belastingbetaler met sy daagliks krimpende inkomste. Vir hoe lank nog weet nugter alleen.

Elsa ·

Ek wonder wat sou gebeur het as die twee veiligheidswagte swart was? Selfs as dit blanke polisiemanne was, sou hulle seker ook aangekla gewees het. Die feit dat die sogenaamde slagoffer reeds ander mense aangerand het en dat die veiligheidswagte se hulp ingeroep is, tel niks by die oproerige skare nie. Ons land word mos deesdae regeer deur oproerige skares en brandstigters, want hulle het meer regte as ander ordentlike of wetsgehoorsame landsburgers.

bb ·

Woedende betogers…gryp jou aan. Sulke terme laat dit klink of die vandale die reg gehad het om so op te tree; ‘n beter beskrywing sou gewees het “kranksinnige vandale”. Die mense het nie gesonde verstand nie en ook nie die vermoe om hulself te beheer nie. Daarby is hul aksies vandalisties deur besittings waarvoor ander gewerk het te vernietig sonder enige redelikheid. Deur versagtende terme te gebruik word sulke optredes deur joernaliste geregverdig en dit moet nooit toegelaat word nie, want dit sterk net kranksinnige vandale verder aan in hul kwaad.

Sarel ·

Ons moet ophou om misdaad teen een persoon of persone teenoor n ander verskillend te sien. Misdaad is misdaad ongeag.
Waar het jy meer haat en rassisme gesien as die vrou in die video wat so tekere gaan?
Sy moet aangekla word dat sy die opset gehad het om regsverydeling te pleeg en ook misdaad aangemoedig het, sowel as om haar met die misdaad wat deur die verdagte gepleeg is te vereenselwig. Het seker geweet dat n geleendheid om die besigheid te stroop noodwendig sou kom.
Die SAPD lede wat slegs staan en toekyk is besig om regsverydeling te pleeg.
Indien die polisie efektief is sal dit nie vir die publiek nodig wees om van ander metodes gebruik te maak om hulself te beveilig nie.
Die video toon dat die veiligheidswagte hul uiters beheer het. Weet nie of ek dieselfde sou kon doen nie. Hoop die veiligheids personeel eis siviel van die bevelvoerder sowel as die beamptes wat die arrestasie gedoen het in hul persoon en nie net van die SAPD nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.