Maclear-moord: ‘Ma het alles verloor’

Veron en Louis van der Berg, sowat ‘n maand voor die aanval. (Foto: verskaf)

Die 74-jarige Veron van der Berg is dood kort voordat een van haar man, Louis, se vermeende moordenaars in die hof ná die aanval op die bejaarde egpaar kon teregstaan.

Die Van der Bergs is in Oktober 2016 op hulle plaas buite Maclear aangeval. Veron is ernstig beseer; Louis (74) het nie die aanval oorleef nie.

Cebo Andile Mgabashe het verlede week – byna drie jaar ná die aanval – in die hof op die dorp verskyn nadat hy vroeër in Qumbu aangekeer is. Die saak teen hom is uitgestel en sy vier makkers is nog soek.

“Met dié dat hy (Mgabashe) gevang is, is dit asof die wonde oopgekrap is en net van voor af begin bloei,” het Veronica Barnard (54), die egpaar se dogter, aan Maroela Media gesê.

“My ma kon nooit regtig praat oor my pa se dood nie. Sy het nie eintlik iets gesien nie, maar in ʼn oogwink het sy alles verloor. Haar man, haar huis. Hulle was 53 jaar lank getroud en alles wat hulle bymekaargemaak het, was skielik weg – alles deur vyf boosdoeners,” het Barnard gesê.

“Ek weet nie of sy dit verwerk het nie.” Barnard het gesê haar ma het op 1 Junie vanjaar in haar arms gesterf. Hoewel sy letsels van die aanval oorgehou het, was sy eintlik gesond.

Sy het ná die aanval by Barnard en haar man, Bertie, in eMalahleni (Witbank) gaan woon. Veron het kort voor haar dood gesê sy sukkel om asem te kry en sy is dood terwyl hulle reggemaak het om dokter toe te vertrek.

“Die huis is koud en leeg.” Barnard sê hoewel haar ma destyds nie kans gehad het om haar pa te groet nie, glo sy hulle is nou weer bymekaar.

Sy sê sy het vroeër die verslag oor haar pa se nadoodse ondersoek gelees, maar dat sy dit van haar ma weggehou het. Louis het glo nog gelewe nadat hy aanvanklik met ʼn skerp voorwerp aangeval is, en is vermoedelik later doodgeskop. Veron is aangerand en het ná die aanval aanvanklik gesukkel om te sien en selfs te loop. Sy het sedertdien goed herstel.

“Ek glo hulle gaan die ander ouens ook kry. Ek is nie ʼn haatdraende mens nie; ek het hulle vergewe, maar met dié alles, dis moeilik.

“Ek wil graag weet hoekom. Wat was die motief? As iemand op sy siekbed lê, is dit dalk makliker om te aanvaar. Maar moord? Ek wil weet hoekom. Ek glo, ek hóóp daar is uiteindelik antwoorde in die hof.”

Barnard sê hulle sukkel intussen steeds om die plaas waar haar ouers gewoon het, te verkoop.  “Alles is van ons weggeneem. Hoe verwerk ʼn mens dit? Ek sal weer plaas toe gaan en dié boek gaan toemaak, maar ek weet nie hoe nie. Ek glo die Here gaan my krag gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

ryan ·

Shame hulle geken. Die oom was vir jare die sheriff op die dorp. Baie maal by hulle koffie gedrink.

janneman ·

Innige simpatie, ek ken daai gevoel. Die jaar is al 20jaar, en my ouers se moordenaars was al verskeie kere vasgetrek net om weer te ontsnap. Dan gaan n paar jaar verby, en skielik skakel die polisie jou om jou reg te hou vir n hof verskyning, net om weer en weer en weer te hoor daar is nog ander soek. Die saak word uitgestel tot die uitstaandes aangekeer word, maar dit gebeur net nooit. Dis net n sirkus. Ek hoop om die een wat ek ken eendag self raak te loop, die res sal ek seker nooit wie dit was nie. Maar daai een…..

ryan ·

Dit maak my boos, daar word gesê ons moet stilbly en saamstaan, maar vir wat? die tipe dinge? Neewat jong.. Ek sal veg en baklei tot die bitter einde, maar sulke dinge kan ek nie net aanvaar nie..

Al ·

My hart gaan uit na die kinders. Waarom moet ons stilsit terwyl ons arme bejaardes doodgeskop word?
Geen mens verdien om na sy vroeë graf gestuur te word deur vermoor te word nie.

Cora Simpson ·

Baie baie hartseer. Die vraag HOEKOM spook ook by my nadat hulle my suster geskiet het en gelag het terwyl sy sterf. Haar seun moes dit aanskou. Ek vra ook elke dag Hoekom. Vat wat julle he maar hoekom moet julle moor?

Drieks ·

Verskriklik Cora….die pyn te erg. Die naasbestaandes moet die regering kan dagvaar. Hoekom help niemamd ons met dit nie.

Oujongvrou ·

Dit is presies wat hulle beoog. Maak die boere dood, die plaas le onbewerk, en niemand wil n plaas koop deesdae nie. En dis wat die regering gese het, diè plase gaan eerste verniet gevat word. Regering werk met n plan.

Jurie ·

Agriforum se regspanne moet volgens die grondwet voluit gaan om die regering en polisie aanspreeklik in die hof te laat aanvaar. Dit sal die pad oopmaak vir die slagoffers wat agterbly om die Kommisaris van polisie krimineel te dagvaar. Hoekom dwing niemand die regering om die weermag wat net lê en sleg word te gebruik vir patrollies nie.

Willie ·

Dis platante volksmoord! Niemand doen niks, die Malemas en Andiles spreek dit uit… en die ANC verdra dit, stilbly oor dit is om daarmee saam te stem… Dis moeilik… dis asof mens jou beurt afwag!

CallieL ·

Hulle moor en Ramaphosa ontken dit. Seker logies as jy na grondonteiening kyk. Ek daag Ramaphosa uit om te ontken hy ondersteun die moorde. Ek is jammer maar ek kan nie glo mense beweer hulle het die aanvallers vergewe nie. Ek wens die aanvaller alles erger toe as wat hulle gedoen het. Ek mag die woord nie gebruik nie maar dit is wat hulle is

En nou? ·

Daar is miljoene dinge wat ons nie verstaan nie, maar moet nooit die Here se aksies bevraagteken nie!

Gesiggie ·

Veronica.. kan my self net indink deur wat jul as n familie moes gaan, en veral Mamma wat met al die seer moes lewe en al die gebeure moes onthou, maar nou is sy herenig saam Pappa en hul twee is baie gelukkig in die hemel saam, waar niemand hul ooit weer sal seer maak. Ja dit sal n mens laat beter voel as daar n antwoord kan wees? hoekom moet hul Moor en aan goeie mense doen wat jul doen? n mens soek berusting… want vir altyd sal jy dink… wat as dit anders kon wees. Maar Mamma en Pappa is veilig by Jesus en die bose monsters gaan betaal,,, as dalk nie nou nie Eendag”’ sterkte aan jul.

Danie ·

Sterkte aan julle ons dink aan julle .Ons het ook 4 familie lede verloor 2016 die jongste 9JAAR OUD en ek kan jou belowe ek kan hul nie vergewe nie sal ook nooit nie

Al ·

Die tragedie is dat produktiewe plase die lewensaar van baie dorpe se ekonomie is. Baie werk en toerisme skep.

anton ·

Wel ja Veronica, ek kan jou antwoord en se waarom hulle vermoor is maar dink nie dit sal geplaas word nie en buiten dit, twyfel ek of baie mense dit sal glo.
Ons lewe mos in ”Denial” oor wat aangaan in die land.
Solank as wat ons weier om te sien wat aangaan en besig is om te gebeur, sal ons so aan ploeter tot in ewigheid. Of tenminste tot daar geen blanke meer oor is in s.a nie.
Baie Sterkte vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.