Madagaskar-sikloon eis 29

Stormskade in Tamatave. Foto: Xinhua/Chen Jianjiang

Minstens 29 mense is dood, talle beseer en meer as 13 000 dakloos gelaat weens die tropiese sikloon Ava wat die naweek Madagaskar getref het.

Ava het die oostelike gedeeltes van Madagaskar, die eiland noordoos van Suid-Afrika, Vrydag en Saterdag met hewige reën en ʼn windspoed van tussen 140 km/h en 190 km/h getref.

Melisa Venance, woordvoerder van die eiland se nasionale rampbestuurkantoor, het Maandag die dodetal bevestig en gesê dit spruit uit ʼn voorlopige verslag.

Agt van die oorledenes is almal van dieselfde familie. Hulle het saam vir ʼn begrafnis byeengekom toe ʼn modderstorting die huis waarin hulle was in die administratiewe streek van Haute Matsiatra, 400 km suid van die hoofstad Antananarivo, verwoes het.

Nagenoeg 16 000 leerders se klasse is tot Donderdag opgeskort weens die risiko van verdere modderstortings en oorstromings.

In Maart verlede jaar het sikloon Enawo die eiland getref en minstens 78 mense se lewe geëis.

Stormskade in Tamatave. Foto: Xinhua/Yan Feng

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.