Madelein Rust: ‘Dié siekte sal nie hierdie vreugde van my steel’

Madelein Rust (Foto verskaf)

Sy het die Afrikaanse boekbedryf met ʼn vaart getref en almal was meteens bewus van hierdie opwindende nuwe Afrikaanse skrywer van misdaadfiksie. Madelein Rust se debuutroman, Die 13e kaart wat in 2014 verskyn het, was kort ná publikasie reeds op Nielsen se internasionale topverkoperlys. In dieselfde jaar is die boek ook vir ʼn ATKV-woordveertjie benoem. Haar tweede boek, Monstersaad, verskyn ʼn jaar later en is ook dadelik ʼn treffer by resensente en lesers. As nuwelingskrywer het Madelein Rust presies geweet wat haar lesers wil hê.

In die nege jaar sedert Die 13e kaart se verskyning, het daar agt ander krimi’s verskyn asook Kanker Schmanker, haar outobiografiese vertelling van die pad wat sy moes loop nadat borskanker by haar gediagnoseer is. Ook hierdie boek het groot lof ontvang vir die eerlike manier waarop sy haar tog op die moeilike kankerpad beskryf het. Dis ʼn boek wat ʼn mens tegelykertyd hardop laat lag, en dan weer laat huil. Dit is ʼn verhaal van oorwinning en daarom het dit aan soveel lesers hoop gegee. Kanker is nie noodwendig altyd ʼn doodsvonnis nie.

Daar het pas weer ʼn outobiografiese vertelling van Madelein verskyn: Van vrees na vrede. Dis ʼn boek wat sy aanvanklik glad nie wou skryf nie, sê Madelein. In Januarie 2020, ná byna vyf jaar in remissie, het sy die slegte nuus gekry dat haar kanker teruggekeer het. Dit het nie bloot net teruggekeer nie; hierdie keer moes sy hoor dat die fase 2-beenkanker waarmee sy gediagnoseer is, ongeneeslike kanker is.

“My ma het vir my gesê: ‘Mampie, jy het in Kanker Schmanker geskryf jy gaan nooit weer kanker kry nie, maar nou is dit terug. Wat gaan jy nou vir die mense sê? Gaan jy net hieroor stilbly?’ Sy het my gereeld daaroor gevra. Ek was egter vir lank so siek en het soveel pyn gehad, dat ek myself nie so ver kon kry om dit te doen nie. Op ʼn dag het ek besluit tot hier toe en nie verder nie. Ek sal die boek skryf,” vertel Madelein.

Vir haar is dit so hartseer dat haar ma dood is voordat die boek verskyn het en sy dit kon lees. Haar ma het verlede November siek geword en is op Kersdag oorlede.

“Ek dink tog my ma is bewus daarvan dat die boek klaar geskryf is en sy voel baie gelukkig daaroor, maar nou ja, sy is nou op ʼn plek waar sy nie nodig het om ʼn boek te lees nie.”

Wat Madelein se verhaal so verstommend maak, is dat sy nie net gaan lê het toe sy gehoor het dat die kanker teruggekeer het nie. Een van die dinge wat sy sal aanhou doen, is om te skryf, het sy besluit. Terwyl sy aan Van vrees na vrede gewerk het, het sy ook aan haar toekomsroman Moederland gewerk. Sy vertel dat sy weeksoggende besig was met die manuskrip van Moederland, en dan het sy Saterdag- en Sondagoggende gebruik om Van vrees na vrede te skryf. Moederland het in Augustus 2022 verskyn.

“Dis wonderlik hoe ʼn ou se kop werk. Dis asof jy weet jy moet nou heeltemal ʼn verskuiwing maak. Ek was gewoonlik aan die einde van ʼn harde week van toekomsfiksie skryf, redelik lus vir ʼn verandering. Op Sondagoggende, wanneer ek klaar geskryf het aan Van vrees na vrede, het ek weer gesmag na iets anders. Hierdie boek het meer dinge wat my diep geraak het. Terwyl ek daaraan geskryf het, het ek gereeld gehuil. Sommer snot en trane sit en huil. Dan het ek weer die skop, slaan en doodskiet van die toekomsfiksie nodig gehad om net weer aan die gang te kom,” sê sy.

Sy lag wanneer ʼn mens haar vra wat haar motiveer om te bly skryf. Pure hardkoppigheid, sê sy. Sy werk tans aan ʼn roman wat hopelik volgende jaar sal verskyn. Ten spyte van intense pyn en ongemak, bly sy skryf. Sy weier dat die siekte hierdie vreugde van haar steel.

Tanya, Madelein en Nico het ook tatoes gekry. (Foto verskaf)

Madelein praat met groot lof van haar onkoloog wat ʼn besondere pad met haar stap. Aanvanklik het sy geweier om hormoononderdrukkers te gebruik, omdat die gemoedskommelinge, woede-uitbarstings, gewigstoename en gloede haar lewensgehalte aansienlik ingeperk het toe sy daarmee begin het. Uiteindelik het hy haar tog oortuig om ʼn ander tipe hormoononderdrukker te gebruik en dit werk tans baie goed. Daaroor is sy hom oneindig dankbaar omdat dit beslis help om die kanker se groei te beperk.

Sy vertel dat die kanker in haar een heup begin het, en toe ook na haar bekken, ander heup en rugwerwels versprei het. Wanneer sy buite haar huis beweeg, is dit in ʼn rolstoel. Sy kan ook glad nie meer haar eie motor bestuur nie. In 2020 moes sy ʼn nege uur lange operasie ondergaan om haar regterheup te vervang. Die dokters het gevrees dat haar femur deur haar heupsok tot in haar bekken kon steek.

Madelein se wonderlike humorsin word duidelik nie deur haar siekte ingeperk nie en sy lag wanneer sy die volgende storie vertel. Een van die dinge op haar nou-of-nooit-lysie was om ʼn tatoe te kry. Haar dogter Tanya het die tatoe vir haar as ʼn verjaarsdaggeskenk gegee. Ook sy en haar broer, Nico, het elkeen daardie dag ʼn besondere tatoe gekry waarmee hulle altyd hul ma se liefde sal onthou.

“Op my linkervoorarm staan die woord Unbreakable saam met die kankerteken omdat ek weier dat kanker my breek. Deesdae voel dit vir my asof die kanker nou ook na die linkervoorarm versprei het, aangesien ek geweldig baie pyn daar het. Ek en die onkoloog het lankal reeds besluit ons gaan nie meer enige skanderings doen nie. Ons sal bloot die skade herstel indien daar iets breek. Sê nou maar hierdie linkerarm breek en ek daag by die hospitaal op met die woord Unbreakable en die kankerteken op die gebreekte arm getatoeëer. Hulle sal beslis vir my sê: ‘Mevrou, jy tart die noodlot. Moet tog asseblief nêrens anders op jou lyf die woord unbreakable tatoeëer nie’.”

Vir Madelein het die proses om te aanvaar dat haar siekte hierdie keer terminaal is, nie dadelik gebeur nie. Aanvanklik, kort na haar diagnose, was sy bloot daarop ingestel om die heupoperasie te ondergaan wat haar sou help om te kon bly loop. Eers daarna het sy weer gedink aan die groter prentjie. Sy het doelbewus aan haar naderende dood gedink en wanneer haar gedagtes wou wegspring na iets anders, het sy haarself gedwing om dit vierkantig in die oë te kyk. Sy kon by tye haar man en kinders om haar sterfbed sien staan, en kon hulle hartseer voel. Iets wat haar baie ontstel het.

“Dit was vir my die heel ergste ding. Ek self is nie bang vir die dood nie, want dit is tog ʼn onlosmaaklike deel van die lewe. Ek is nuuskierig om te sien wat wag volgende op ons. Tog het die idee dat die mense vir wie ek die liefste op aarde is so swaar moet kry wanneer ek sterf, my geweldig gepla. Ek wou nie aan hulle hartseer en verlorendheid dink nie. Al is Nico en Tanya albei in hulle dertigs, vra hulle steeds vir my raad oor sekere dinge. Wat gaan hulle doen as ek nie meer daar is nie?

“Daardie gedagte het my regtig gevang en ek het besef ek sal hulle en my man, Jaun, moet gewoond maak aan die feit dat ek ʼn verkorte lewe gaan hê. Tog weet ek glad nie hoe lank ek nog gaan leef nie. Volgens die inligting wat ʼn mens op die internet kry, leef ek reeds langer as wat pasiënte wat dieselfde fase beenkanker het gewoonlik leef. Niemand kan sê hoe lank ek nog gaan leef nie, maar dis nie nodig dat ek weet nie. Ons behandel nou maar die kankersimptome en die kanker soos wat dit kom,” sê sy.

Vir Madelein beteken die goeie terugvoer wat sy reeds op Van vrees na vrede kry, besonder baie. Dit is nie bloot net ʼn biografiese vertelling nie, maar gee ook praktiese raad vir enigeen in dieselfde situasie. Wenke oor pynbestuur, palliatiewe sorg, boedelbeplanning en hoe om ʼn hospies te benader is onder meer van die dinge wat sy aanraak. Dit was juis die gedagte dat sy haar familie met ʼn onafgehandelde boedel gaan agterlaat, indien sy nie daarmee plan maak nie, wat die skryf van die boek help motiveer het. Nou is al daardie dinge in plek.

Met Kanker Schmanker het baie vroue aan haar geskryf en vertel dat die boek hulle geïnspireer het om vir ʼn mammogram te gaan en daaroor is sy dankbaar. Een van die redes waarom haar kanker teruggekeer het en in die been ingegaan het, is juis omdat haar borskanker eers gediagnoseer is toe dit reeds ver versprei het, selfs na haar limfkliere toe. Sy hoop uiteindelik dat Van vrees na vrede mense na God toe sal lei. In alles bly Hy vir haar die Anker in haar lewe.

Die voorblad van Madelein Rust se jongste boek getiteld “Van vrees na vrede”. (Foto verskaf)

“Ek en die Here het al diep gesprekke met mekaar gehad en ek het Hom van soveel nader leer ken sedert my eerste diagnose. Nog meer met die tweede diagnose. Ek het die dood nou op ʼn heel ander manier in die oë leer kyk. Ná my heupoperasie het ek in 2020 Covid opgedoen en ek moes terugkeer hospitaal toe. In daardie tyd het ek vir 24 uur in ʼn bed in my eie urine gelê en niemand het gekom om te help wanneer ek die klokkie lui nie. Die verpleegpersoneel het ook die kos so ver van my af neergesit, dat ek dit nie kon bykom nie. Tog het God my wonderbaarlike krag gegee om op my eie genade reg te kom.

“Dit is tye soos daardie wat ʼn mens weet jy het net die Here om aan vas te klou. Terwyl ek my gesin voorberei het op die dood wat nou ʼn groot moontlikheid is, het daar soms dinge uit my mond gekom wat ek nie beplan het om te sê nie, maar dan kon ek sien hoe hierdie woorde vrede bewerkstellig vir hulle. Ek voel dikwels soos ʼn klein dogtertjie wat op God se skoot wil opkrul en rustig in Sy arms lê, terwyl ek weet Hy sal vir my sorg.

“Ek is selfs dankbaar oor die kanker want ek het in die laaste paar jaar die Here se teenwoordigheid ervaar soos nog nooit van te vore nie. Daarom sê ek dankie. Dankie dat God bemoeienis maak met my. As Van vrees na vrede kan help om ander mense by Hom uit te bring, sal dit my so gelukkig maak.”

Lux Verbi is die uitgewers van Madelein Rust se boek Van vrees na vrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

Sterkte. Dis nie ‘n maklike pad nie. Maar met soveel genade van ons Vader sal jy en jou gesin wel die pad stap. En met die Wederkoms, sien ons almal mekaar weer, sonder pyn en vrees en trane. Net vreugde en geluk. Mag God julle almal toevou in Sy genade en liefde.

piet ·

Dis jammer dat sy deur die pyn moet gaan. Ek het van haar boeke gelees. Goeie skryfster.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.