Madiba-begrafnis: LUR en 11 ander op borgtog vrygelaat

‘n Standbeeld van oudpresident Nelson Mandela. (Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA)

Sindiswa Gomba, die LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap en elf ander beskuldigdes is op borgtog vrygelaat toe hulle Vrydag vlugtig in die hof verskyn het op aanklag van korrupsie, geldwassery, bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur by die Buffalo City-munisipaliteit. Dit hou verband met bewerings van bedrog tydens oudpres. Nelson Mandela se begrafnis.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Phumzile Mkolo, Zukiswa Veronica Ncitha, Themba Tinta, Luleka Simon-Ndzele, Sindiswa Gomba, Tembelani Prideaux Sali, Ondela Vatile Mahlangu, Viwe Vazi, Zintle Nkuhlu (ʼn trustee van die Lilly Rose Trust), Nosiphiwo Mati en Nqaba Ludidi is in die Oos-Londen-streekhof vrygelaat op borgtog.

“Die elf persone is vrygelaat op voorwaarde dat hulle hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig, nie enige misdaad pleeg terwyl hulle op borgtog is nie, nie met enige van die getuies kommunikeer nie en elke Sondag telefonies met die ondersoekbeampte kontak maak,” het Ngwema bygevoeg.

Die persone staan tereg op die aanklagte saam met Vazi en Mati se onderskeie maatskappye, Forty Winks Lodge en Mpidos Emergence and Training. Nog ʼn beskuldigde, Dean William Fanoe, wie se maatskappy, Mantella Trading 522 BK, ook aangekla sal word, het nie in die hof verskyn nie, omdat hy aan Covid-19-protokol moet voldoen.

Maroela Media het vroeër berig ʼn komplot is gesmee om die Buffalo City-munisipaliteit uit R10 miljoen te bedrieg ná Mandela op 5 Desember 2013 dood is.

Alhoewel R5,9 miljoen suksesvol aan die beskuldigdes oorbetaal is, het die munisipale bestuurder, Andile Fani, ʼn stokkie gesteek voor verdere betaling van R4,1 miljoen.

Mkolo het op 6 Desember 2013, nog voor die munisipaliteit kans gehad het om diensverskaffers amptelik te oorweeg vir die begrafnis, ingestem dat Mzwandile Sokwali van Victory Ticket ʼn verhoogde kwotasie vir die vervoer van roubeklaers na verskeie lokale sou indien. Sokwali is ook gevra om ʼn kwotasie van nog ʼn diensverskaffer te bekom – vir ʼn bedrag hoër as Victory Ticket sʼn. Dit is gedoen en MNI Transport het ook ʼn kwotasie, ter waarde van R10 580 000 ingedien, aldus Ngwema.

“Na bewering het munisipale beamptes met ʼn gemeenskaplike doel voor oë opgetree om die munisipale aanskaffingsprosse te bedrieg en te manipuleer om seker te maak dat Victory Ticket aangestel word. Boonop het Nkuhlu, Mati en haar maatskappy, Mpidos, die opbrengs van onwettige aktiwiteit ontvang, soos wat Mkolo en Sokwali gereël het.

“Die plan was, eerstens, om die munisipale raad te mislei en te aanvaar dat daar van die munisipaliteit verwag word om finansies beskikbaar te maak vir die vervoer van roubeklaers na verskeie lokale waar gedenkdienste gehou sou word. Hulle het daarna die situasie gemanipuleer sodat finansiering gebruik kan word vir doeleindes anders as dit waarvoor dit amptelik goedgekeur is.”

Sokwali en sy maatskappy, Victory Ticket, het in Desember 2014 skuld beken op aanklag van bedrog en geldwassery ná hy ʼn pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is ʼn boete van R100 000 opgelê waarvan R50 000 opgeskort is en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Ngwema het gesê die saak is tot 5 Maart 2021 uitgestel sodat die verdediging afskrifte van die dossier kan bekom en dat die ander verdagtes in die hof kan verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Wonder wat sou hul ikoon se as hy kon praat .

Frederik C

‘n Verdere mors van geld. Die eerste een se vonnis is in geheel opgeskort, wat daarop dui dat die ander lot se vonnisse ook in geheel opgeskort gaan word. Wat is dan die doel daarvan om hulle te vervolg ??

Nie Verbaas

Nou toe nou. Tronkstraf alweer vir kaders in geheel opgeskort. Wonder of ek met so aanklag ook tronkstraf sal vryspring?

Francois Le Cochon

Nou verstaan ek waarom die wat voor in die stoet gestap het, Viva Mandela geskreeu het.

Cecilia

Met alle respek aan Nelson Mandela. Maar hy draai in sy graf om vandag. Dit maak my SIEK. Om selfs tydens n begrafnis bedrog te pleeg. Dit wys net weer dat d kaders GEEN integriteit het nie!.
D munisipaliteit is ook heeltemal onnosel om soveel te gaan betaal vir kamtige vervoer. Sover ek weet is daar prosedures en hoedkeurings deur d raad nodig vir enige tenders. Munisipale lede is hier met hul vingers in d spreekwoordelike “pie” betrokke