Madiba in goeie luim; bekendes stuur hul wense

Nelson Mandela tydens sy 94ste verjaarsdag op 2 Junie 2009 Foto: Nelson Mandela Foundation/SAPA

Voormalige president Nelson Mandela is in ‘n “goeie luim” tydens sy hospitaalbesoek om behandeling te ontvang vir ‘n herhalende longinfeksie.

“Mandela is in ‘n goeie luim en het ‘n volle ontbyt vanoggend geniet,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, gesê. “Die dokters sê hy maak goeie vordering.” Maharaj sê Mandela ontvang steeds behandeling en is steeds onder observasie nadat hy Woensdag net voor middernag by ‘n onbekende hospitaal opgeneem is.

Pres. Jacob Zuma het Donderdag aan BBC News gesê mense moet “die angs laat afneem”. “In Zulu, wanneer iemand sterf wat baie oud is, sê mense hy of sy is huis toe. Ek dink dit is van die dinge wat ons moet bedink,” het hy glo gesê.

Barack Obama, president van Amerika, het Donderdag sy gedagtes en gebede aan Madiba gestuur. “Obama beskou pres. Mandela as ‘n inspirasie vir sy eie lewe, maar ook in sy professionele loopbaan,” het Josh Earnest, woordvoerder vir Obama, gesê.

Twitter was Vrydag volop goeie wense vir Madiba. Josh Groban, sanger, het oor sy liefde vir hom getwiet. “Ek hoop hy voel sommer vinnig beter. Die wêreld het hom nodig so lank as wat ons hom kan hê #madiba,” het Groban getwiet.

Marzia Faraz van Afghanistan het ook ‘n ondersteuningsboodskap getwiet: “Hoe gelukkig is ons om in #mandela-era te bly! Een van die wêreld se belangrikste vredesmakers. Hoop jy voel vinnig beter.”

Evita Bezuidenhout, ikoon van Suid-Afrika, het ‘n belofte getwiet om Mandela van sjokolade te voorsien: “Mag dit ‘n Goeie Vrydag vir elkeen wees, veral vir ons geliefde Madiba. Jou paaseier wag, liewe ou skat XXX”.

Madiba is vroeër die maand in ‘n Pretoriase hospitaal opgeneem vir ‘n geskeduleerde ondersoek wat met ‘n langdurige buikprobleem te doen het. Hy is die volgende dag ontslaan. In Februarie is hy met ‘n maagprobleem in die hospitaal opgeneem. In Desember het Mandela 18 dae lank in die hospitaal spandeer om galstene te verwyder en behandeling vir sy herhalende longinfeksie te ontvang.

Mandela was voor dit laas in Januarie 2011 in die hospitaal toe hy by Milpark-hospitaal opgeneem is vir roetineondersoeke in verband met asemhalingsprobleme.

Suid-Afrika se eerste swart president het ‘n lang geskiedenis van long probleme, wat dateer uit die tyd toe hy tydens apartheid ‘n politieke gevangene was op Robbeneiland. Hy het tuberkulose in die tronk opgedoen.

Lede van die Media het Vrydag buite Mandela se andersins rustige huis in Houghton, Johannesburg, saamgedrom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.