Madiba reageer “positief” op behandeling

Nelson Mandela tydens sy 94ste verjaarsdag op 2 Junie 2009 Foto: Nelson Mandela Foundation/SAPA

Voormalige president Nelson Mandela “reageer positief” op die behandeling vir ‘n herhalende longinfeksie wat veroorsaak het dat hy weer in die hospitaal opgeneem moes word.

“Die dokters het laat weet dat voormalige president Nelson Mandela positief reageer op die behandeling,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, gesê. “Hy bly onder observasie en behandeling in die hospitaal.”

Maharaj het vroeër gesê Mandela is by sy volle bewyssyn toe hy Woensdagaand net voor middernag na ‘n onbekende hospitaal geneem is. Hy sê met Mandela se ouderdom en mediese geskiedenis het dokters met absolute sorg en verantwoordelikheid opgetree en besluit om hom eerder in die hospitaal op te neem. “Hy ontvang behandeling vir die infeksie en om hom so gemaklik as moontlik te hou.”

Maharaj sê infeksie versprei vinnig. Op ‘n vraag of dit die geval met Madiba is, het hy geantwoord: “Dit gebeur altyd.”
Joernaliste het Donderdagmiddag kameras buite 1 Militêre Hospitaal in Pretoria opgestel in afwagting dat Mandela moontlik daar opgeneem is. Soldate het die hek beman en mediamotors, wat die hospitaal wou betree, weggewys.

Madiba is vroeër die maand in ‘n Pretoriase hospitaal opgeneem vir ‘n geskeduleerde ondersoek wat met ‘n langdurige buikprobleem te doen het. Hy is die volgende dag ontslaan. In Februarie is hy met ‘n maagprobleem in die hospitaal opgeneem. In Desember het Mandela 18 dae lank in die hospitaal spandeer om galstene te verwyder en behandeling vir sy herhalende longinfeksie te ontvang.

Mandela was voor dit laas in Januarie 2011 in die hospitaal toe hy by Milpark-hospitaal opgeneem is vir roetineondersoeke in verband met asemhalingsprobleme.

Sy laaste groot verskyning in die publiek was in Julie 2010 tydens die finaal van die Fifa Wêreldbeker by Soccer City-stadion in Johannesburg. Sedertdien het hy sy tyd tussen Johannesburg en sy huis in Qunu in die Oos-Kaap spandeer.

Suid-Afrika se eerste swart president het ‘n lang geskiedenis van long probleme, wat dateer uit die tyd toe hy tydens apartheid ‘n politieke gevangene was op Robbeneiland. Hy het tuberkulose in die tronk opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.