Madibeng-burgemeester kry trekpas

Jostina Mothibe. (Foto: madibeng.gov.za)

Die ANC-burgemeester van die Madibeng-plaaslike munisipaliteit in Noordwes, Jostina Mothibe, en die burgemeesterskomitee is gister uit hul ampte verwyder ná ʼn stemming in die munisipale raad.

Madibeng bedien die dorpe Brits, Hartbeespoort en Mooinooi.

Elsa Lourens, ʼn VF Plus-raadslid van die munisipaliteit, sê die stemming het gevolg nadat die party in Augustus verlede jaar ʼn mosie van wantroue in die burgemeester ingedien het.

Lourens sê die VF Plus het die provinsiale regering al herhaaldelik versoek om by die munisipaliteit in te gryp.

“Sulke ingrypings het tot dusver geen konkrete resultate opgelewer nie,” sê sy.

“Die VF Plus het daarom geen ander keuse gehad nie as om die mosie vir die verwydering van die burgemeester in te dien.”

Lourens sê intussen is die munisipaliteit tot op die rand van die afgrond bestuur met gereelde korrupsieskandale en infrastruktuur wat in duie stort.

“Van gesonde finansiële bestuur en beplanning was daar geen sprake nie,” sê sy.

Madibeng was een van die munisipaliteite wat geld in die nou ontbinde VBS Mutual Bank belê het. Luidens berigte het die munisipaliteit R50 miljoen belê waarvan hy R30 miljoen verloor het.

Die ANC het in Desember 2018 ook besluit om Mothibe uit haar pos te verwyder, maar sy was sedertdien steeds in die tuig.

Lourens sê die VF Plus hoop dat die mosie ʼn boodskap sal uitstuur na alle munisipale ampsdraers en amptenare dat wanbestuur en korrupsie nie langer geduld sal word nie.

“Kiesers moet in die komende plaaslike verkiesing sterk standpunt inneem teen wanbestuur en korrupsie en verseker dat ANC-beheer in munisipaliteite tot ʼn einde kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Die ANC burgemeester het geen benul van bestuur nie. Die provinsiale ANC regering het geen benul van bestuur nie so gryp nie in nie. Die ANC het geen benul van bestuur nie so gryp nie in by provinsiale bestuur nie. Opsomming van nutteloosheid in kort. So sy en haar hele raad is afgedank net om plek te maak vir die volgende span ANC onbevoegdes.

Samuel

ANC onbevoegdes en Kaders

Blikkantien

Dis om van te… naar te word.

Ian

Dit blyk waar n sekere party aan bewind is dinge nie goed verloop nie. Hoe bly die party aan die beheer van sake.

Anton

Ag nee, sy is dan so effektief ????