Madonsela beveel KZN-regering om fluitjieblaser weer aan te stel

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), het Dinsdag die KwaZulu-Natal provinsiale regering opdrag gegee om Fikile Hlatshwayo-Rouget, die voormalige tesourie-beampte, weer in haar pos aanstel. Hlatshwayo-Rouget is afgedank nadat sy korrupte bedrywighede binne die regering aan die lig gebring het.

Madonsela het haar verslag, getiteld “Rocking the boat”, Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie bekendgestel. Die OB is gevra om bewerings van magsmisbruik en viktimisering van Hlatshwayo-Rouget deur die provinsiale tesourie te ondersoek.

Sy het bevind Hlatshwayo-Rouget is onregmatig afgedank en dat sy binne 30 dae weer in haar posisie aangestel moet word. Sy het ook bevind alle salarisse wat aan haar betaal sou word, indien sy nie afgedank is nie, moet met rente aan haar betaal word.

Madonsela het Belinda Scott, die KwaZulu-Natalse LUR vir finansies, opdrag gegee om Hlatshwayo-Rouget binne 60 dae te vergoed vir enige ander finansiële verliese wat sy gely het weens haar afdanking. Die provinsiale owerhede moet ook ʼn brief van verskoning aan Hlatshwayo-Rouget uitreik.

Hlatshwayo-Rouget, wat die adjunk-direkteur-generaal vir finansies in die KZN tesourie was, is op 30 Oktober 2013 geskors, nadat sy beweerde onregmatige verkrygingsbedrywighede in die provinsiale tesourie aan die lig gebring het. Die bewerings het konsultante wat oorbetaal is en die befondsing van nie-kern aktiwiteite, soos lugskouvertonings en die Durban-Noord Sea Jazz Festival, waarin sommige tesouriebeamptes onbekende belange gehad het, ingesluit.

Sy het die ongerymdhede aan die lig gebring slegs twee weke nadat sy deur die regering in diens geneem is. Sy is die afgelope drie jaar werkloos sedert sy in Desember 2013 finaal deur die KZN tesourie afgedank is.

Madonsela het gesê Hlatshwayo-Rouget is afgedank sonder enige vooraf waarskuwing en sonder dat sy die geleentheid gegun is om haarself te verdedig of om aanpassings te maak aan haar beweerde hiërargiese en dominerende bestuurstyl.

“Die skorsing en afdanking van die klaer op grond van die onbenullige aanklagte was irrasioneel, onredelik, onregverdig en kan met reg gesien word as ʼn manier om haar uit die pad van die [destydse KZN LUR vir finansies], Ina Cronje en [die hoof van die departement], Smiso Magagula, te kry wat verkies het om Dr Clive Coetzee te ondersteun teen Hlatshwayo-Rouget se beskuldigings van korrupsie,” het Madonsela gesê. “Die beskuldigings is sedertdien deur ʼn forensiese ondersoek bevestig.”

Madonsela het ook beveel die KZN-premier moet toesien dat Scott sekere regstellende maatreëls volgens ʼn gegewe tydlyn implementeer en aan die provinsiale wetgewer en OB terugvoer gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niccy ·

Thuli ons land gaan jou mis. Hopelik is jou opvolger net so skerp soos jy!

Lance ·

Ek stem ook vir Thuli as president …SA gaan haar BAIE mis …hoop sy kan nog n bydae lewer op n manier asb as sy weg is by die OB !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.