Madonsela pak Tafelberg om studente te help

Prof Thuli Madonsela (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Prof. Thuli Madonsela gaan poog om geld in te samel vir studente uit werkersklas- en middelklashuishoudings wie se hoër onderwys-drome in gedrang is weens ’n tekort aan fondse.

Madonsela, bekleër van die Universiteit Stellenbosch (US) se regsfakulteittrust se navorsingsleerstoel in maatskaplike geregtigheid, sal op Sondag 22 November saam met die US-studenteraadvoorsitter, Xola Njengele, ’n klimtog op Tafelberg lei en op Saterdag 28 November ’n walkathon in Pniel, net buite Stellenbosch.

Hierdie geleenthede maak deel uit van die #Action4Inclusion-veldtog, ’n inisiatief vir studentebefondsing wat vroeër vanjaar deur die studenteraad en Madonsela van stapel gestuur is.

Die doel van #Action4Inclusion is om te verseker dat geen student weens hul finansiële omstandighede agtergelaat word nie.

“Studenteskuld is wêreldwyd ’n hindernis vir toegang tot hoër onderwys. Sommige studente moet noodgedwonge hul studies laat vaar wanneer hulle op die punt staan om te gradueer. Die probleem raak veral studente van die verlore middelgroep en studente uit arm werkersklasagtergronde wat nie meer vir NSFAS-befondsing kwalifiseer nie; dikwels om redes buite hul beheer,” verduidelik Madonsela.

“Die Covid-19-pandemie het ons planne vanjaar kom omverwerp, maar met ontspanne beperkings wat tans geld, is ons nou gereed om ons beplande aktiwiteite aan te pak — natuurlik met die nodige veiligheidsmaatreëls,” voeg sy by.

Volgens Karen Bruns, senior direkteur van ontwikkeling en alumni-betrekkinge by US, sal hierdie inisiatief inderdaad ’n aanvulling wees tot die bestaande inisiatiewe om fondse vir Matie-studente in te samel.

“Dit is aangenaam om te sien hoe ons studente en personeel bymekaar kom om mekaar te ondersteun terwyl ons daaraan werk om gelyke geleenthede vir almal te verseker,” sê sy.

Kaartjies kos R54 per persoon vir die Tafelberg-geleentheid en R150 per persoon vir die walkathon en kan op die dag gekoop word. Meer inligting is hier beskikbaar. Mense wat nie aan die beplande aktiwiteite kan deelneem nie, kan ook hier ’n donasie maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Estelle

Ek het altyd respek vir haar gehad, maar behoort haar dogter nie aan die EFF nie? Wonder wie sal baat vind by die fondsinsameling/bewusmaking of gaan ras die kriteria wees.