Madonsela sal voor SAUK-ondersoekkomitee getuig

Argieffoto

Argieffoto

Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, Faith Muthambi, minister van kommunikasie en die sogenaamde SAUK8 is Dinsdag almal by ʼn lys getuies ingesluit, wat voor die ad hoc komitee wat die SAUK-raad ondersoek, sal verskyn.

Die komitee, wat Dinsdag vir die eerste keer vergader het, het ook ingestem dat getuiebeskerming aangevra sal word vir die meer as 30 mense wat versoek sal word om te getuig. Lede van die sogenaamde SAUK8 beweer hulle het doodsdreigemente ontvang, daar is onder meer glo by een van hulle se huis ingebreek en glo op ʼn ander geskiet.

LP’s uit al die politieke partye het die voorstel vir getuiebeskerming ondersteun. Patrick Chauke van die ANC het aan die komiteevoorsitter, Vincent Smith, gesê hy moet voor die einde van die dag ʼn vergadering met die SAPD hou daaroor. Die DA se Phumzile van Damme het gesê die SAUK8 het beskerming nodig teen mense met “mafia-neigings”.

Die SAUK8, wat voorheen geskors is nadat hulle die uitsaaier se redaksionele beleid bevraagteken het, het hulle nou na konstitusionele hof gewend teen wat wyd beskou word as sensuur by die openbare uitsaaier.

Smith het ook ingestem dat getuies wat bang was om in die openbaar te getuig, toegelaat word om hul getuienis agter geslote deure af te lê. “Ek dink ons het ʼn saak wat sterk genoeg is. Dit gaan daaroor om seker te maak almal voel vry om te kom getuig.” Die komitee het Thuthuzeli Vanara, die parlementêre regsadviseur, as getuieleier aangewys.

Madonsela sal ondervra word oor haar verslag When Governance and Ethics Fail, waarin sy dissiplinêre stappe teen Hlaudi Motsoeneng aanbeveel het. Muthambi het egter hierdie stappe geïgnoreer en Motsoeneng in ʼn permanente pos aangestel. LP’s het ingestem dat die komitee getuies toelaat om regsverteenwoordiging te hê, maar Smith het beklemtoon hulle moet self daarvoor betaal, aangesien die komitee se begroting ongeveer R400 000 is.

Die komitee is gevra om die bevoegdheid van die drie lede van die SAUK-raad te ondersoek. Die raad het net drie lede oor gehad, nadat Krish Naidoo en Musi Mavuso verlede maand bedank het in protes teen die besluit om Motsoeneng weereens in ʼn top-pos aan te stel. In ʼn nuwe verwikkeling het dit egter Dinsdag aan die lig gekom nog twee raadslede, Nomvuyo Mhlakaza en Aaron Tshidzumba, het ook oor die naweek bedank.

Die presidensie het intussen bevestig dat hul bedankings ingedien en aanvaar is.

Smith het Dinsdag gesê die onlangse bedankings het nie ʼn invloed op die mandaat van die komitee nie, selfs al bedank die laaste oorblywende raadslid, die voorsitter Mbulaheni Maguvhe, ook. Maguvhe het voorheen gesê die ondersoek na die raad sal hom nie oortuig om sy bedanking in te dien nie.

Smith het aan verslaggewers gesê hy het daarop aangedring dat die Wet op Maatskappye deel vorm van die komitee se oorwegings om in die toekoms behoorlike bestuur by die uitsaaier te verseker. Muthambi het minstens twee keer in die verlede, wanneer die raad se besluite as onwettig gekritiseer is, dit verdedig deur te sê die besluite stem ooreen met bepalings van die Maatskappyewet, wat die Wet op Uitsaaiwese troef.

Die komitee se volgende vergadering is vir 29 November geskeduleer. Die finale verslag van die ondersoek moet op 15 Februarie 2017 aan die Nasionale Vergadering oorhandig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Beste wat van die bolla gaan kom is n episode vir 7e Laan.

Doris ·

Mooi so Thuli gaan sê jou sê want hulle wil nie gehad het die Publiek moet weet van al hulle dinge nie Jy is n vrou duisend hulle moet jou eintlik n goue medalje gee vir al die waarheid wat jy uitbring , jy is n mens wat glo aan eerlikheid , ek sal u graag persoonlik wil ontmoet want ek het iets wat ek graag met u wil deel.

Justice ·

Thuli het beslis nie regsverteenwoordiging nodig nie aangesien sy self ‘n bekwame advokaat is wat haar man kan staan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.