Madonsela-verskoning afgeskiet

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Voorstel deur opposisiepartye dat die parlement se portefeuljekomitee oor justisie vir Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), om verskoning moet vra vir hul deurlopende en soms bitter kritiek teenoor haar verlede jaar, is Donderdag afgeskiet.

Madonsela het die komitee ingelig oor haar kantoor se strategiese en begrotingsplan vir die 2016/17 finansiële jaar. DA-LP Werner Horn het aan die komiteevoorsitter, Mathole Motshekga, voorgestel dat die komitee Madonsela om verskoning moet vra na aanleiding van die konstitusionele hof se uitspraak verlede week dat die OB se bevindings bindend is en speaker Baleka Mbete se onlangse uitsprake dat sy jammer is oor die manier waarop die komitee met Madonsela gepraat het.

“Die eerste ding wat gedoen moet word, is dat die komitee die kantoor van die OB en haar persoonlik verskoning moet vra vir die persoonlike manier waarop gesprekke met haar gevoer is,” het Horn gesê. “Ek dink dit sal net gepas wees as ons om verskoning vra en probeer om ons verhouding met hierdie artikel 9-instansie te normaliseer.”

Motshekga het egter geweier en gesê die ANC het reeds om verskoning gevra en hy wil nie “partypolitieke geskille in die vergadering inbring nie”.

Steve Swart, LP van die African Christian Democratic Party, het die DA se voorstel gesteun. “Dit is nie partypolitiek nie. Die speaker het gesê sy is jammer oor die vyandige behandeling wat die OB verlede jaar van die komitee ontvang het. Ek is bereid om om verskoning te vra vir die optrede teenoor die OB verlede jaar,” het Swart gesê.

Bongani Bongo, die ANC-LP, het egter hiervan verskil en gesê ʼn verskoning is nie op die agenda vir Donderdag se vergadering nie. “Voorsitter, ek dink nie ons moet vir enigiets om verskoning vra nie. Die saak wat vandag bespreek moet word is begrotingskwessies en die strategiese beplanning van die OB se kantoor. Ek dink om daarvan af te wyk, sal die hele debat waarvoor ons gekom het omvergooi.”

Madonsela het verlede jaar by die parlement gekla oor die vyandige houding wat sy ervaar het tydens vergaderings met die komitee. Gedurende ʼn vergadering oor die Nkandla-verslag van die minister van polisie waarin hy bevind het dat pres. Jacob Zuma nie enige van die belastinggeld wat aan sy private woning spandeer is, hoef terug te betaal nie, het Motshekga gesê dat Madonsela die nasie mislei het met haar Nkandla-verslag.

Die konstitusionele hof het egter verlede week ten gunste van Madonsela se verslag beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ouman ·

Adv Madonsela is ver bo die ou Zupta kaders in alle aspekte. Sy kan ten minste wys dat sy wraggies werk vir haar geld terwyl die kaders nie eers verdien om enige vergoeding te ontvang nie. Matoli en sy vriend Bongo is sprekende voorbeelde van voting cattle soos beskryf deur Julius

christo ·

Adv. Madonsela kan wragieswaar haar man staan en ek is seker sy het groot respek by van ons suid afrikaners ingewin.

Francie ·

Die pragtige Nederlandse spreekwoord is van toepassing om die optrede van die regerende party te beskryf:
“Ek swyg in al die tale.” – overgeset synde : Ek het nie woordeskat om die situasie te beskryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.