Mafe doen later aansoek om borgtog

Zandile Mafe in die hof. (Foto: Facebook/ Zandile Mafe)

Die beweerde stigter van die brand wat groot dele van die parlement vernietig het, se dringende borgtogaansoek kon Saterdag nie in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word nie.

Zandile Christmas Mafe (49) is Woensdag in die landdroshof in Kaapstad vir 30 dae lange psigiatriese waarneming gestuur. Mafe is voorlopig met paranoïese skisofrenie gediagnoseer en die staat het aanbeveel dat hy vir waarneming gestuur word.

Dr. Zelda van Tonder het Mafe aanvanklik met skisofrenie gediagnoseer en die staat het aangevoer die hof het ʼn verpligting om hom vir waarneming te stuur.

Hy sou onmiddellik in die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal opgeneem word, maar Mafe voer aan daar skort niks met hom nie en het hom tot die hooggeregshof gewend vir ʼn dringende borgtogaansoek. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) was hy só oortuig van sy saak dat hy gedreig het om op ʼn hongerstaking te gaan, sou sy borgtogaansoek nie aangehoor word nie.

Regter John Hlophe, wat die saak Saterdag aangehoor het, het egter gesê die hersiening van ʼn ander regter of landdros se uitspraak kan nie net deur een regter behartig word nie. Hy het dus gereël vir ander regters om die hersiening van die landdros se besluit Donderdag te oorweeg.

“Nadat regters Donderdag die partye se argumente aangehoor het, sal hulle waarskynlik aan die einde van die dag tot ʼn beslissing kom. Die borgtogaansoek sal dus volgende Saterdag aangehoor kan word,” het Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die NVG, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Waarom al die media dekking oor Mafe. Wat van Zuma en Hoed. Hul is aan baie meer skuldig as Mafe. Ek praat nie goed wat Mafe goedoen het nie, maar hy kan nie gestraf word as Zuma en Hoed nie gestraf word nie. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, maar nie in hierdie land van ons nie. Hier loop die grootste misdadigers rond en sit in poste in die Regering en kom absoluut niks oor vir hul misdade nie.

MakersMark ·

Onbekende witman hom met die doodstraf gedreig as hy nie meedoen om die parlement af te brand nie……..toe gaan hy maar. Wat ‘n spul snert.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.