Mafe se borgtogaansoek wéér aangehoor

Zandile Christmas Mafe tydens ’n vorige hofverskyning. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Zandile Christmas Mafe, die vermeende brandstigter wat glo verantwoordelik is vir die reuseskade aan die parlementêre kompleks in Kaapstad, se borgtogaansoek sal op 30 Mei weer deur die Kaapstadse hooggeregshof aangehoor word.

Mafe se borgtogaansoek is in Februarie van die hand gewys nadat hy op 2 Januarie in hegtenis geneem is. Hy het dié uitspraak teengestaan.

Regters James Lekhuleni en Daniel Thulare het Mafe se appèlaansoek op 25 April aangehoor, maar uitspraak voorbehou. ʼn Derde regter is nou aangestel om die argumente in dié aansoek weer aan te hoor, het die Nasionale Vervolgingsgesag Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Mafe staan tereg op aanklagte van huisbraak met die doel om terreur en brandstigting te pleeg, terreur, brandstigting en diefstal.

Gedurende die appèl het senior staatsadvokaat Mervyn Menigo aangevoer dat die hof – gegewe die bewyse en argumente wat aangehoor is – die regte besluit geneem om nié aan Mafe borgtog toe te staan nie. Volgens Menigo het Mafe versuim om “uitsonderlike omstandighede” voor die hof te bring wat die toestaan van sy borgtog regverdig.

“Die appellant [Mafe] het geen argumente aangevoer of enige wesenlike foute rakende feite of die reg uitgewys wat die appèlhof tot ʼn beslissing sou lei dat die aanvanklike uitspraak ‘verkeerd’ was nie. Die appèl moet gevolglik van die hand gewys word.”

Mafe se saak sal op 9 Junie in die hooggeregshof voortgaan nadat dit vroeër vir verdere ondersoek uitgestel is. Die staat het onder meer op ʼn finale verslag oor die omvang van die skade aan die parlement gewag.

Ander uitstaande verslae, onder meer ʼn brandstigtingsverslag, sal glo binnekort afgehandel wees.

Menigo het die hof verseker dat dié verslae, asook die magtigingsertifikaat wat vereis word wanneer ’n beskuldigde van terrorisme aangekla word, met die volgende verskyning gereed sal wees.

Hy het verder gesê dat ’n akte van beskuldiging op Mafe beteken sal word en dat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word. Mafe het voorheen in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Landdros Ronel Oliver het die uitstel op versoek van die staat in belang van geregtigheid toegestaan.  Sy het versoek dat die akte van beskuldiging gereed moet wees om op 9 Junie beteken te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Waarom al die hofsittings oor Mafe maar Zuma sit nog steeds nie, dit is duidelik dat die “Justisie” en Regering bang is vir Zuma of iets wegsteek

marius ·

Vernietig die paaie , brand vragmotors , gooi voertuie met klippe en dan word jy nie eers vervolg nie . Wat maak hierdie wit olifant anders ?

Wondermaarnet ·

Wie betaal elke keer vir sy regskostes? Kry klaar met die saak.

Marcello ·

Hoop maar hy word ook toegesluit vir altyd soos diearme boeremag lede, of is dit nou erg vir hom?

Manie ·

Aan die SAPD en NVG: Het julle onweerlegbare bewyse dat julle die regte persoon gearresteer het en nie halsoorkop na ‘n skuldige soek om die blaam op te plaas en van julle rooi gesigte ontslae te raak nie? Indien wel, kla die man aan en gaan voort met die saak. Indien nie, laat die man vry en vind die regte verdagte.

Spyker ·

Maak hom n minister. Hy het bewys hy het die nodige porensiaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.