Mafikeng-kampus heropen dán, sê NWU

Die skade wat deur betogers aangerig is op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Facebook

Die skade wat deur betogers aangerig is op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Facebook

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het Dinsdag aangekondig wanneer sy Mafikeng-kampus sal heropen nadat ʼn plundertog deur betogers verlede week veroorsaak het dat die kampus noodgedwonge gesluit moes word.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het gesê die senaat van die Mafikeng-kampus het Maandag vergader en besluit dat die kampus op 29 Maart vir akademiese aktiwiteite sal heropen. “Studente sal toegelaat word om op 28 Maart in die koshuise in te trek. Alle personeel het reeds hul bedrywighede op 29 Februarie hervat,” het hy gesê.

Volgens Jacobs sal die maand wat voorlê genoeg tyd wees om die kampus op te ruim en die situasie op die kampus te stabiliseer.

Maroela Media het vroeër berig betogers het verskeie geboue op die kampus aan die brand gesteek, insluitend die administrasiegebou wat, tesame met alle amptelike rekords, heeltemal vernietig is. Die personeelkafeteria is geplunder, ʼn motorfiets en sleepwa is aan die brand gesteek en ʼn veiligheidsmaatskappymotor is vernietig.

Jacobs het gesê maatreëls is ingestel om te vergoed vir die tyd wat verlore gaan terwyl die kampus gesluit is. “Die Maart/April-reses sal ’n week korter wees, die toetsweek sal tydens gewone onderrigperiodes plaasvind en daar sal klasse op Saterdae wees. Dit sal verseker dat genoeg tyd opgemaak sal word sodat die eerste semester se eksamens kan begin soos dit geskeduleer is,” het hy gesê.

“Bestuur vertrou dat hierdie reëlings in ons almal se beste belang is om seker te maak dat ons die akademiese aktiwiteite van die eerste semester en die 2016-akademiese jaar volgens skedule kan voltooi. Dit is jammer dat personeel en duisende onskuldige studente en hul ouers geraak is deur die uiters onverantwoordelike en kriminele optrede van ’n klein groepie studente wat deur eksterne elemente ondersteun is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Knersus ·

Ek dink weer nie so nie – die brand skade is omvangryk en daar is strukturele skade. Ek dink hierdie is paai-woorde terwyl Mnr Jacobs hulle plan-B voorberei. Ek dink dat die studente met baie min gaan wegkom hier. Basiese verblyf, maar baie ingeperk. Klasse? Slegs ‘ n paar fakulteite sal beskikbaar wees.

A ·

Niks van die klasse of die koshuise is afgebrand nie, net die admin gebou. Klas kan voortgaan. Hulle gaan net ‘n ander plan maak met die personeel wat op kampus werk. Dit raak glad nie die studente nie. So daar is geen rede hoekom klasse nie kan voortgaan nie.

Martli stwyn ·

Ek wil net graag weet wie gaan vir die skade betaal?????? Hopelik nie die ander NWU kampusse se ouers nie???? Gaan die EFF dit betaal????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.