Magalies Water jammer oor lang onderbrekings

(Argieffoto: pixabay)

Magalies Water het verskeie dorpe in die Magalies-gebied, waaronder Rustenburg, Moses Kotane en Thabazimbi wat die afgelope paar dae gebuk gegaan het onder wateronderbrekings, om verskoning gevra.

Magalies Water sê hy het vasgestel ʼn ondergrondse hoogspanning-kragtoevoerkabel by die Vaalkop-waterwerke is stukkend nadat kragtoevoer na die aanleg onderbreek is.

“Ons prioriteit bly steeds om skoon drinkwater aan inwoners te voorsien, wat hul basiese mensereg is,” sê Sandile Psychology Mkhize, uitvoerende hoof van Magalies Water.

Volgens Mkhize is tegnici Vrydag in die vroeë oggendure na die aanleg gestuur nadat die krag die gees gegee het. Daar is vasgestel die fout lê by die ondergrondse kabel, wat nou opgegrawe en vervang moet word voor die aanleg weer gebruik kan word.

Gegewe die omvang van die probleem, het herstelwerk egter langer geduur as wat aanvanklik verwag is. Gevolglik het die grootmaatpypleiding opgedroog en teen die tyd wat die herstelwerk afgehandel was, was die watervlak op kommerwekkende lae vlakke.

“Die aanleg kon nie dadelike resultate lewer nie wat betref die beskikbaarheid van water aan inwoners nie,” sê Mkhize.

Hy sê Magalies Water verstaan die frustrasie van inwoners, maar dat dit die verantwoordelikheid van die onderskeie munisipaliteite is om inligting daaroor te verskaf.

Watertenks is binne 48 uur nadat die fout opgespoor is na die geraakte gebiede gestuur.

Mkhize waarsku ook dat wanneer die wateraanleg vir ʼn lang tyd buite werking was, kan dit tussen twee en vyf dae duur voor die stelsel weer na normaal terugkeer.

Hy sê dit is die verantwoordelikheid van Magalies Water om water op grootmaat aan munisipaliteite te verskaf. Die water moet aan ʼn spesifieke standaard voldoen en word gemeet op ʼn punt waar die water van Magalies Water na die onderskeie munisipaliteite se infrastruktuur oorgegee word.

“Sodra die water die verkooppunt verbysteek, gaan drinkwater die netwerk binne – wat ook die reservoirs insluit. Dit word besit deur die verskillende munisipaliteite en dit word dus outomaties hulle verantwoordelikheid om te verseker die water voldoen aan bogenoemde standaarde,” sê Mkhize.

Volgens hom is die water wat Magalies Water voorsien deurlopend van goeie tot uitstekende gehalte.

Watervoorsiening aan Rustenburg bly egter ʼn probleem, hoofsaaklik weens die vinnige groei wat die stad ondervind.

“Die huidige vraag na water is egter veel meer as die verskaffingsvermoë van die stelsel,” sê Mkhize.

Magalies Water het al in 2009 langtermynoplossings vir die gebied voorgestel. Dit sluit in opgraderings aan die Vaalkop-waterwerke en die inbring van water deur die Pilanesberg-watervoorsieningskema.

Na uitgerekte onderhandelings met die Rustenburg-munisipaliteit en die departement van water en sanitasie, is die projek nou op ʼn inwerkingstellingfase wat vandeesmaand sal begin.

“Wanneer die projek afgehandel is, sal bykomende grootmaatwatervoorsiening van sowat 70 megaliter per dag na Rustenburg gestuur word om die huidige watertekorte te hoof te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Madz ·

Please do not fear ….. as the Kuban Engineers are near!!
(Ek kry nie ‘n opsie van ‘n GIF-Pic om te add op hierdie kommentaar van my nie….maar gebruik gerus jou verbeelding)

Philip ·

In die land van die blindes het ou Eenoog die platform om sy weergawe aan die verbruiker wat betaal op te dis. Ek persoonlik self vat dit met n knippie sout soos vele ander spinstories wat in die land gereeld verkondig word.

Miskruier ·

Dalk moet hul nie meer water aan Limpopo lewer nie, dit verhoog die invloei van mense op klein dorpies. Dorpies wat nie krag kan voorsien en ander dienste. Skole wat nie plek het vir al die kinders. Die natuur het ook nie genoeg bome vir almal wat wil vuur maak nie.

Anoniem ·

Wonder net hoekom water tekorte en water herstel 25 jaar gelede selde plaasgevind het?

Grassie ·

Psychology – dit is die mees ongewone naam wat ek nog ooit raakgelees het. Maar miskien is dit paslik. Sy openhartige verduideliking van wat presies die probleem veroorsaak het, wat hulle daaraan doen en dan nog ‘n verskoning boonop sal die verbruikers sielsrus gee dat hulle aanstons weer water sal hê.

Annalize ·

Die feit is ongelukkig dat dit nie beter gaan raak nie. Suid-Afrika is nie oppad na ‘n waterkrisis nie. Ons is DAAR! Gelukkig is daar privaat ouens wat oplossing het vir alternatiewe, volhoubare water. Van hulle is self op 1000 Solar Impulse Efficient solutions wereldwyd genoem. Daar is net 8 SA Maatskappye. Maar Maskam Water en die ander word net misgekyk of geignoreer. Gemeenskappe gaan dinge maar in hulle eie hande moet begin neem, deur te kyk na oplossings soos Maskam Water se Fusion vir waterherverbruik. Ongeluk is dit nou ons verantwoordelikheid as individue

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.