Magaqa-fluitjieblasers vrees hul lewe, sê openbare beskermer

Sindiso Magaqa (Foto: ANA)

Twee fluitjieblasers in die Sindiso Magaqa-moordsaak is blootgestel aan ʼn moontlike sluipmoordaanval, weens nalatigheid deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, aldus die openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane.

Dié verdoemende bewerings, wat ook polisieminister Bheki Cele impliseer, is vervat in ʼn verslag van die openbare beskermer wat nog nie bekend gemaak is nie.

“Die versuim deur die minister van polisie en die SAPD om veiligheidsbeskerming vir mnre. Stuta en Zulu te verskaf, stel hulle bloot aan die risiko van sluipmoordaanvalle,” lui die verslag. “Dit stel ook die SAPD en die Suid-Afrikaanse regering bloot aan ʼn risiko vir onnodige regseise en finansiële verliese, aangesien die twee mans se families kan besluit om eise teen die regering in te stel en skade vir hul verlies van lewe indien hulle vermoor sou word.”

Thabiso Zulu, ʼn lid van die ANC, anti-korrupsie aktivis en vriend van Magaqa, en Les Stuta, ʼn beampte by Harry Gwala-munisipaliteit, het die beweerde motief vir Magaqa se sluipmoordaanval aan die lig gebring. Magaqa was die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga en raadslid by uMzimkhulu-munisipaliteit tydens sy afsterwe.

Magaqa is in Julie 2017 saam met sy kollegas Nontsikelelo Mafa en Jabu Msiya in die uMzimkhulu-gebied geskiet. Hy is in September 2017 oorlede as gevolg van “komplikasies van verskeie skietwonde”. Mafa en Msiya het albei die aanval oorleef.

Sedert Zulu en Stuta die bewerings van korrupsie tydens Magaqa se begrafnis bekend gemaak het, het hulle verskeie doodsdreigemente ontvang. Hulle het die polisie genader vir bystand en is van bakboord na stuurboord gestuur. Zulu het uiteindelik die openbare beskermer genader.

Mkhwebane het in November 2017 die voormalige minister van polisie, Fikile Mbalula, skriftelik genader en daarna Bongani Bongo, minister van die staatsveiligheidagentskap, en hulle versoek om risiko-assesserings te doen op die twee fluitjieblasers.

Albei ministers het binne ʼn week reageer en gesê die assesserings sal gedoen word. Dit het uiteindelik in Desember plaasgevind, maar, volgens haar verslag, het Mkhwebane steeds nie die verslag ontvang nie.

Albei mans ontvang steeds doodsdreigemente. Hulle glo ook hul telefoonoproepe word gemonitor. Zulu beweeg nou tussen verskeie liggings in die provinsie rond.

Die SSA-assessering, wat bevind het dat hulle dringend beskerming benodig, het eers in April 2018 plaasgevind.

“Die minister van polisie en die SAPD se optrede wat betref my versoek om beskerming te bied aan die twee fluitjieblasers kan slegs as growwe nalatigheid beskryf word. Die gedrag van die minister en die polisie is onbehoorlik.”

Volgens Mkhwebane behels regstellende optrede dat pres. Cyril Ramaphosa Cele “berispe” vir sy “gebrek aan oordeel” wat betref die SAPD se versuim om beskerming aan Zulu en Stuta te verskaf, “nadat daar bepaal is dat hulle dit benodig”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Hulle almal het gehelp saai aan die gif appels , kankerbosse en dorings en dis nou oes tyd …..

Karolis ·

Thabiso en Les, welkom in SA met die regering waarvoor julle twee ook gestem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.