Magashule: ‘Ek het met Zuma vergader’

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, spreek ‘n geleentheid toe op 3 September 2018. Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het Dinsdag erken dat hy verlede week met oudpres. Jacob Zuma in Durban vergader het, maar ontken berigte dat daar planne is om pres. Cyril Ramaphosa te ontsetel.

Magashule het Dinsdag in ʼn onderhoud met eNCA gesê hy moes met Zuma vergader. Hy het gesê hy het ook vir Dudu Myeni, voormalige raadsvoorsitter van die SAL, Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, en ander individue by die geleentheid gesien.

“Ja, ek was in ʼn vergadering met voormalige pres. Jacob Zuma soos gereël. Die vergadering was oor [ANC] organisatoriese kwessies. Dit was nie die eerste keer dat ek met Zuma vergader het nie, dit was nodig vir ons om te vergader,” het Magashule aan eNCA gesê.

“Daar was baie mense daar, ek en Zuma het ons eie vergadering gehad. Ek dink hy het daarna met Supra vergader en ons het net daar gewag. Terwyl ons op pad was om te gaan, het ons almal buite bymekaargekom. Ek weet nie wat Supra en Zuma bespreek het nie.”

Magashule het gesê hy was in KwaZulu-Natal om probleme in die Moses Mabhida-streek op te los en het met die voorsitter daar vergader.

Hy het die volgende dag vir Zuma gebel en gevra of hulle kan byeenkom, want daar is kwessies wat hy met hom wou bespreek. Op ʼn vraag of die ander ANC-leiers geweet het van die vergadering met Zuma, het Magashule gesê hy het hulle ingelig nadat hy met Zuma vergader het.

“Daar was kwessies wat ek met hom wou bespreek – nasionale beamptes het nie toe geweet ek vergader met Zuma nie. Maar ek het hulle daaroor ingelig in ons Maandagvergadering.”

Die Sunday Times het die afgelope naweek berig dat grootkoppe in die ANC, onder wie Magashule, betrokke was by geheime samesprekings om Ramaphosa te ontsetel. Volgens die berig was Zuma, Magashule, Mahumapelo, Matuba Meokgo, sekretaris van die ANC-Vroueliga, en Thanduxolo Sabelo, leier van die ANC-Jeugliga in KwaZulu-Natal, glo Donderdag by die vergadering by die Maharani-hotel in Durban.

Volgens die koerant het dit gevolg op ʼn eerste vergadering wat die vorige dag in Umhlanga Rocks gehou is waar Myeni ook teenwoordig was.

Magashule sê die ANC-leiers het sy redes vir die vergadering met Zuma aanvaar, maar hy kan nie bekend maak wat hul terugvoer was nie. “Hoe kan ek partysake bekend maak? Ek kan nie interne sake wat deur nasionale beamptes en die nasionale werkkomitee bespreek is, bekend maak nie. Dit is nie hoe ek geleer is nie. Sommige van hierdie sake het niks met die media te doen nie. Dit is hoe ons as leiers optree. Organisatoriese kwessies bly organisatories.”

Daar word beweer dat Magashule deel is van ʼn groep wat Nkosazana Dlamini-Zuma gesteun het om pres. Jacob Zuma as president op te volg, en na bewering die uitslag van die ANC se verkiesingskonferensie in Desember wil betwis. Die groep is volgens bewering van plan om aan te voer dat daar grootskaalse onreëlmatigheid by takke was en dat die meeste konferensie-afgevaardigdes onregmatig daar was.

Op ʼn vraag of hy meen daar is gronde om die uitkoms van die Desember-konferensie te betwis, het Magashule gesê sy werk is om die ANC te verdedig.

“In die ANC gebruik ons alle moontlike interne prosesse voordat ons na die howe keer. Ons het ʼn dispuutoplossingskomitee. My rol is om die ANC te verdedig teen enige regsaksie … dit is ook die rol van die ANC in geheel. Ek is ʼn beginselvaste persoon en sal altyd die besluit van die ANC-meerderheid verdedig.”

Magashule het bygevoeg daar was wel ontevrede partylede wat sy kantoor ná afloop van die konferensie genader en met regstappe gedreig het. Hy het gesê sulke regskwessies word na die party se regspan verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Heksie ·

En ek is Levinia Heks!!
Gaan praat strooi op ‘n ander plek. Ons glo jou gladnie!

Callie ·

Hy is erger as Ramaphosa. Het homself soos Supra verryk. Wil nou soos Ramaposa wat Zuma in sy staatskaping ondersteun het maak asof hy onskuldig is

vissie ·

Kan nie sien hoe daar oor enige iets met Zuma bespreek moet word nie sy rekord spreek vanself…korrupsie en bedrog.

My mening ·

En dit nadat hulle hoog en laag gesweer het dit het nie gebeur nie! Dink hulle regtig enige siel glo ‘n woord wat iemand van die ANC se?

Karin ·

Beginselvas, sê hy. Beginsels verskil duidelik van mens tot mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.