Magashule se kierangs begin braai

Ace Magashule. Foto: ANC/Facebook

Die net span al nouer om Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, namate die kierangs van sy omstrede ampstermyn as premier van die Vrystaat die een na die ander begin braai.

Magashule sal hierdie week aan drie fronte moet veg namate die beweerde wandade tydens sy bewind algaande vermeerder.

Eerstens het dit vandag aan die lig gekom dat ʼn skildery van ʼn Oos-Vrystaatse berglandskap deur die kunstenaar JH Pierneef, uit Magashule se eertydse premierskantoor in Bloemfontein verdwyn het – glo omdat hy dit gegee het aan Ricardo Mettler, ʼn werknemer met wie hy op baie goeie voet is. Die skildery behoort aan die staat.

Die skildery is tussen R6 miljoen en R8 miljoen werd, en die weergawe wat Mettler aan die webblad The Daily Maverick vertel het, is dat hy per abuis die skildery tussen Magashule se private besittings geplaas het toe laasgenoemde sy premierskantoor ontruim het, en dat Magashule die skildery toe aan hom gegee het.

Mettler meen dis maar net ʼn eerlike fout, dis al.

Daar is ook ʼn ander weergawe van gebeure, berig The Daily Maverick. Dit is naamlik dat ʼn sakeman van Bloemfontein navraag gedoen het oor die waarde van die skildery, dat ʼn kunskenner die skildery as staatseiendom herken het, en dat die hele sak patats toe uitgekom het.

Die tweede hond uit sy verlede wat na Magashule se hakskene hap, is onthullings deur ʼn voormalige Vrystaatse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, Mxolisi Dukwana.

Luidens ʼn berig dié naweek in die Sondagkoerant City Press het die omstrede Gupta-broers in 2011 – toe Magashule al premier was – vir Dukwana R2 miljoen per maand vir tien jaar aangebied as hy sou afteken op ʼn beplande projek van R2,9 miljard om ʼn stad van die toekoms op die vlaktes van die Noordwes-Vrystaat te bou, gesetel in die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit rondom Welkom.

Volgens Dukwana het hy geweier. Hy beweer die Guptas het aan hom vertel hoe hulle met Magashule kop in een mus is in ander staatsprojekte.

Die Vrystaatse DA dring nou daarop aan dat Magashule voor die Zondo-kommissie oor staatskaping gedaag moet word om oor die kwessie te getuig.

En derdens begin ʼn hofsaak môre in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria om die bevindings wat die openbare beskermer, adv. Busi Mkhwebane, oor die omstrede staatsprojek om tydens Magashule se termyn as premier ʼn suiwelprojek by Vrede in die Oos-Vrystaat te vestig, tersyde te stel.

Kritici meen die verslag oor dié projek, waarby die Guptas groot baat gevind het, was hopeloos te sag op die politici wat daarby betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Johann ·

En dan die res van die Vrystaat wat hy en sy mede ANC kaders leeg gedra het! Onaantasbare houding alla ANC LEGACY!!!!!!!

honourable member ·

Ag rerig? Gaan hierdie man ooit iets oorkom. Hy het mos die ANC wat hom beskerm.

Gert van Wierdapark ·

“Ace” het sy hand so effe oorspeel en al wat nou in sy vuis oor is, is die “Joker” in die pak wat vir hom geen “Vrede” gaan bring nie. He-he-he!

B-man ·

Wat van die behuisingskandaal waarby sy dogter betrokke is en wat met hom verbind kan word?

Careltjie ·

Uiteindelik. Die man het meer geraamtes in die kas as wat mense ooit sal besef. Groot skurk. Mag hy sit.

SjN ·

Hoop sy Ace smelt vinnig. met ys ja, met ys, so kom al die wurms uit die blik, cheers.

Andrea van Vuren ·

Sy baas, die president, gaan hom beskerm. Cyril lieg mos so lekker. Hy gaan Ace loslieg en die dokumente laat v erdwyn. Hy gaan vir tyd speel soos die Guptas en Zuma en dan sal die lewe maar net weer aangaan soos altyd. Siener van Rensburg sou dieselfde gesê het…

Alida ·

Dit was lankal tyd om die skelm te ontmasker. Ons raak nou haastig om te sien wie gaan die oranje oorpakke dra en wie nie. Dit vat gans en al te lank.

O aarde ·

Ace se skelmstreke is ‘n oop geheim in die Vrystaat. My swart kollegas sê die verkiesing van hom as ANC se SG, was beplan om hom in ‘n moeilike situasie te plaas, en hom dan permanent uit te kry en te laat aankla.

jean ·

Hoogtyd!!!!!…..ag, en die ou skilderytjie sommer net n foutjie….Nê?

waarheid ·

Pel van ramapaddapot – dit is waarom hy nog ‘dien’.

posman ·

Kom ek se so bietjie iets hy was in 1994 n meeter leser in Bloemfontein met geen papiere nie toe maak hy vriende met die anc nou is hy n geleerde wonder waar het hy opleiding gekry SEKER BY DIE ANC want hy was nie op universeteit nie

Andrew ·

Diegene wat hom in sy huidige pos ingestem het, sal hom weer beskerm. Om hulle self te beskerm.

Alida ·

Begin solank bou aan n tronk net vir ANC lede en bestel oranje oorpakke. Daardie is net n droom want NIEMAND gaan gestraf word of tronkstraf kry nie. Ons is nou biljoene in die rooi agv al die ondersoeke

Basjan ·

Eers as Magashule agter tralies sit, sal ek glo sy kierangs braai. En daar moet nog baie water in die see invloei voordat dít gaan gebeur, indien dit ooit gaan gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.