Magashule se voormalige assistent in VSA vas

Ace Magashule in die hooggeregshof in Bloemfontein. (Argief)

ʼn Dekade nadat ʼn bedrieglike tender in die sogenaamde asbeskontrak van R255 miljoen deur die Vrystaatse departement van menslike nedersetting uitgereik is, is Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent in die VSA vasgetrek.

Moroadi Cholota sou na verwagting Maandag daar in die hof verskyn en die staat sal so gou moontlik begin met die uitleweringsproses om haar terug te bring na Suid-Afrika, waar sy sal verskyn vir haar beweerde aandadigheid.

Die kontrak is destyds deur die departement van menslike nedersetting aan Blackhead Consulting toegeken om asbes by huise in sommige van die Vrystaat se armste gebiede te oudit, te assesseer en dan te verwyder. Die hofverrigtinge was deel van ʼn voorverhoor waarin 18 beskuldiges, onder wie Cholota en Magashule, van onder meer bedrog en korrupsie aangekla word.

Regter-president Cagney Musi het ook ʼn lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van Olly Mlamleli, destyds LUR van menslike nedersettings in die Vrystaat, omdat sy glo weens siekte nie die verhoor bygewoon het nie.

Die ander beskuldigdes het vlugtig in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn.

Tydens dié verskyning het die hof gehoor die verhoor kan nog nie begin nie. Dít omdat ʼn maatskappy en een van die beskuldigdes steeds nie regsverteenwoordiging het nie en ’n voormalige LUR en ook ʼn beskuldigde in die saak, Sarah Mlamleli, steeds siek is en eers in Julie vanjaar in die hof sal kan verskyn.

Magashule, Edwin Sodi, Blackhead Consulting en Thabane Zulu het vroeër ʼn aansoek gebring om die hof te vra om te bevind dat ʼn prima facie-saak nie tot ʼn skuldigbevinding teen hulle kan lei nie. Die aansoek is van die hand gewys. Hulle word saam met Cholota, Nthimotse Mokhesi, Mahlomola Matlakala, Sello Radebe, Kgotso Manyeki, Sarah Mlamleli, Nozipho Molikoe, Albertus Venter, Margaret-Ann Deidericks, en drie ander maatskappye, 602 Consulting Solutions, Mastertrade 232 en Ori Groep, aangekla van bedrog, korrupsie, geldwassery en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Die saak is tot 14 Junie vir die voorverhoor uitgestel. Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Vrystaat, sê hulle hoop die partye sal dan ooreenkom op ʼn geskikte verhoordatum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Almal is deesdae te siek om in die hof te verskyn!! Wel, as jy te siek is, hoort jy in die hospitaal. En dan, soos in baie lande, kan die beskuldigde uit die tronk getuienis lewer. En die spul wat so kort kort regsverteenwoordigers vervang, moet ook beperk word. In geen ander land hou hofsake so lank aan soos hier nie. Ons het ‘n uitsonderlike regstelsel. HY MOET NET REG GEIMPLEMENTEER WORD!!!!

Yvonne ·

O genade.. ek hou nie asem op dat een van al die honderde korrupsie sake afgehandel sal word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.