Magashule-skorsing ʼn ‘gemors’ – Mpofu

Ace Magashule vra die hof om sy tydelike skorsing uit die ANC om te keer. (Argieffoto)

Die stryd tussen die ANC en sy geskorste sekretaris-generaal het Donderdag voor ʼn volbank regters in die Johannesburgse hooggeregshof begin.

Ace Magashule het hom tot die hof gewend in ʼn poging om sy tydelike skorsing uit die ANC te laat omkeer.

Ramaphosa, Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, en die ANC as party is die respondente in die geding.

Magashule is in Mei uit die party geskop ingevolge die ANC se opsystaan-reël wat bepaal dat diegene wat van ernstige misdade aangekla word, tydelik van hul amp onthef moet word. Magashule, wat teregstaan op aanklagte van onder meer bedrog en korrupsie, het dit nie vrywillig gedoen nie, waarna die ANC hom geskors het.

Ná sy eie skorsing het Magashule op sy beurt ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur waarin hy die president skors. Die ANC erken nie die geldigheid van die skorsingsbrief nie.

Magashule vra die hof nou om sy skorsing ter syde te stel, asook dat die opsystaan-reël as ongeldig, onreëlmatig en ongrondwetlik verklaar word.

Sy regspan, onder leiding van adv. Dali Mpofu SC, het vandag voor regters Jody Kollapen, Sharise Weiner en Edwin Molahleli aangevoer die Grondwet beskerm die reg van enigiemand om deel te neem aan die bedrywighede van ʼn politieke party van sy keuse.

Mpofu voer aan Magashule se reg hierop is deur sy skorsing geskend.

Die hof wou by Mpofu weet of dit dan sou beteken dat niemand ooit uit ʼn politieke party geskors mag word nie omdat dit inbreuk op hul regte sou maak.

Mpofu het egter aangevoer dit is nie die geval nie, maar dat ʼn skorsing regmatig gedoen moet word en dat die Grondwet en reëls van ʼn politieke party in ooreenstemming met die Grondwet moet wees.

Hy het voorts aangevoer Magashule is geskors voor hy die kans gehad het om sy weergawe van die gebeure te gee – en dit ondanks die feit dat hy na verskeie vergaderings, onder meer een by pres. Cyril Ramaphosa se huis, genooi is.

Mpofu sê Magashule se betoog dat sy skorsing onreëlmatig was, berus op 12 redes. Dit sluit in die kwessie dat die besluit deur ʼn onbevoegde persoon gemaak is, dat dit voortydig was, dat die verkeerde reëls toegepas is en dat Magashule nie die kans gegun is om die besluit teen te staan nie.

Volgens hom is die ANC se reël 25.70, die bepaling wat gebruik is om Magashule te skors, ongrondwetlik. Mpofu voer aan die reël skend Magashule se regte ingevolge die Grondwet. Hy het aan die hof gesê indien daar bevind word dat die reël wél grondwetlik is, is Magashule se skorsing geldig.

Mpofu hou egter vol dat die reël “geslag” en aangepas is. Hy sê die reël lui dat iemand geskors “mag” word, nie dat iemand geskors “moet” word nie.

“Dit is nie menslik moontlik om te bevind dat hierdie skorsing regmatig is nie … Dit is ʼn gemors.

“Om die kroon te span, kom sê jy dan dat ons nie net die opsystaan-reël aangepas het nie, maar ook reël 25.70.”

Magashule se regspan hervat hul betoë Vrydagoggend, waarna adv. Wim Trengove SC namens die respondente aan die beurt sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kokerboom ·

Ons ervaar ekonomiese en gesondheidsprobleme van katastrofiese omvang dan mors die aartsskelm en sy medeboewe nog die howe se tyd assook die belastingbetalers se geld!!!Dit ALLES te danke aan die siek verrotte ANC!!!

JohanR ·

Die pawpaw het die hele Suid Afrika se regte geskend! Waars daai Checkers sak met R800000 wat jy iewers in die Vrystaat in die donkerte van die nag ontvang het?

Anel ·

Pleks die howe aan gewend word om te doen wat hulle veronderstel te doen, ophou met hierdie sirkusse en om die belastingbetalers se geld te mors. Sluit die sirkus toe en kry klaar. Soveel ander wat korrupsie gepleeg het van minder sit klaar in die tronk. Wat maak die sirkus meer belangrik?

Ovelia ·

Ja nee, hy is skuldig maar hy het al sy voordele behou. In Parys is die mense baie ongelukkig oor hom .hulle wil ni he hy mut hiernatoe kom ni. Hul se hy mazk nt beloftes voor die vetkiesing. Na di verkiesing ht hy van hulle vergeet

Natasha ·

Verstaan ek reg? Die ANC sê dat die president (van ons land) wat hulle verkies het “onbevoegd” is? Ek sê skors die hele ANC! Dis ok dat hulle ander mense te na kom, so lank dit net nie hulle self is nie?

Willem ·

Sluit hom sommer klaar toe voor hy nog bedrog gaan pleeg!!!!

Deon ·

Ace Magashule mors die staat se tyd en geld…. Hierdie is n arbeidskwessie, hy werk vir die anc en sy werkgewer het hom geskors wat op dees aarde maak hierdie saak n hoog geregshof saak? Met nogals 2 dae opsy gesit vir sy arbeids aangeleentheid?

Persheks Adri ·

Kyk hoe vinnig kan hy sy grondwetlike regte gebruik ekskuus tog verskoon my! Korrupte kaders het darem baie regte magtag, maar nie ons nie tsek ANC tsek

annie ·

Darling is mos ‘n vriend van die EFF? Hoe nou? Ace se invloed word deur die skorsing gekortwiek. Hy wil met radikale beloftes en opsweping erge skade aanrig. Die onluste wat staatsamptenare beplan oor salarisse gaan deur hom aangevuur word.

Jr ·

Dlali Mphofu?? se niks meer nie. Hy sal moet die rassis kaart weer speel. Nog n saak hy gaan verloor???

Hannes ·

Wag laat ek loop vuur maak en n vleisie reg kry hierdie sirkus mis ek vir NIKS!

Yvonne ·

Ag asb…hoeveel skuldiger moet jy dan wees voor jy geskors kan word…..liewe genade.

Kobus ·

Ek verstaan nie.Die ANC grondwet word deur die ANC opgestel en deur almal aanvaar,Ace ingesluit. Nou word hy aan dieselfde stel reels onderwerp en skielik is dit ongrondwetlik? Hou hierdie spasie dop,Ace gaan hierdie rondte wen

Anoniem ·

Wys jou net hoe laag party se IK’s is. Dan wil hul leiers wees. Hy moet val, hard val , tot op sy werkers klas dat hy voel waardeur die mense gaan met die ANC se kommunistiese neigings. Hul eie mense wat ly as gevolg van húl wandade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.