Magashule ‘wys middelvinger’ vir ANC

Ace Magashule. (Foto: Itumeleng English/ANA)

ʼn Groep ANC-lede in die Vrystaat wat sê hulle voer ʼn veldtog teen staatskaping, het hul teleurstelling te kenne gegee met die optrede van die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, wat Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van korrupsie verskyn het.

Magashule staan tereg op 21 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery. Hy is op borgtog van R200 000 vrygelaat.

Die groep sê die ANC het vroeër onder meer onderneem dat kaders wat van korrupsie beskuldig of daarby betrek word, aan die party se integriteitskomitee verslag doen of tugstappe die hoof moet bied. Hy sê die ANC het ook onderneem dat diegene wat nie ʼn redelike verduideliking vir die bewerings kan gee nie, die tuig moet neerlê of geskors word.

“Kameraad Magashule het saam met ander lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) en die kamma Vrystaatse ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) ʼn middelvinger vir nie net die ANC gewys nie, maar ook vir die samelewing wat korrupsie verafsku en hulle onderwerp aan die Grondwet en die oppergesag van die reg,” lui die verklaring.

“Sy gedrag, die gedrag van sy NUK-ondersteuners en volgelinge wat met busse vir die borgtogaansoek aangery is, lyk na ʼn doelbewuste demonstrasie om spiere te bult teen alles in die ANC wat beginselvas en eties is.”

Die groep sê hy glo die ANC moet spoedig teen Magashule optree omdat hy die indruk wek dat hy gereedmaak om die ANC en die land deur intimidasie, leuens en verdraaiings saam met hom te laat ondergaan.

“Ons het gedink as voog van ANC-resolusies, beginsels en dissipline sou hy aankondig dat hy die tuig neerlê om voor te berei vir sy verdediging van die 21 aanklagte van korrupsie, bedrog, omkopery, misbruik van amp en gesag asook pligsversuim wat die Nasionale Vervolgingsgesag in die Bloemfonteinse landdroshof teen hom ingedien het.”

Die groep bestaan onder meer uit Tshidi Setai, ʼn kommunikasiespesialis en voormalige kommunikasiehoof van die departement van vervoer, asook Deon Leeuw, ʼn senior ANC-lid van die Xhariep-distrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

dis mooi ace, druk die anc en sy kaders onder die grond in

Rentia

Ace is ‘n gevaarlike man… hy weet alles van almal, wie het wat gedoen. Dis goed dat hy ook moet antwoord vir sý dade, oppas net… Hy weet baie en sal nie alleen ondergaan nie.

Toffie

Die ANC moet maar vir hulle kry, hulle het hierdie gemors self geskep.

Kokkie

En dan sê hy jou waarlikwaar dat hy ‘n eerlike mens is en dat hy hoegenaamd nie korrup is nie………

Jannie van Niekerk

Maak nie wat wie sê nie, die ANC bly misdaad en korrupsie goedgesind. Dit het die President se stilswye oor mnr Magashule se optrede asook die afgelope tussenverkiesings weereens bewys.