Magdaleen Krüger groet ná 32 jaar by RSG

Magdaleen Krüger. (Foto: RSG)

Magdaleen Krüger het in haar laaste skrywe in RSG se nuusbrief die luisteraars hierdie week gegroet na sy meer as 30 jaar by die SAUK werksaam was.

Sy het Vrydag afgetree na sy die uittrede-ouderdom van die openbare uitsaaidiens bereik het. Haar kollegas het met ʼn afskeidsgeleentheid haar uitgedaag om sommer dadelik ʼn trui te begin brei en dit op sosiale media te deel; iets wat sy onderneem het sy gaan doen met haar nuutgevonde vryheid na aftrede.

“Soos Amanda Strydom sing ‘skielik is ek vry’ en ek sien daarna uit. Wat gaan ek doen met my aftrede vra jy? Ek gaan vir die eerste keer in my lewe ʼn trui brei, leer tik sonder om op die toetsbord te kyk en die bekfluitjie bemeester,” het sy laat hoor.

Krüger het gesê die SAUK het in die tyd vir haar ongelooflike geleenthede as verslaggewer, regisseur, redakteur, omroeper en stasiebestuurder gebied.

“Vanweë my werk kon ek talle geskiedkundige mylpale meemaak: die vrylating van oudpresident Mandela, die val van die Berlynse muur, die eerste demokratiese verkiesing, Kodesa 1 en 2 en die oorlog in die Midde-Ooste, om net enkele hoogtepunte te noem.

“Ek kon my liefde vir alles soorte musiek en die letterkunde uitleef in programme wat ek gemaak het; ek kon my belangstelling in politiek, regsgedinge en aktualiteit uitleef in die radioprogramme wat aan my toegeken is. Dit is maar net ʼn fraksie van die wonderlike deel van my werk gewees.”

Krüger het bygevoeg dat die minder lekker deel ongetwyfeld die burokrasie, verslae, reëls en regulasies was.

“My kollegas het geweet dat ek allergies is vir die woorde ‘template’ of ‘summit’.”

Volgens Krüger is die SAUK se 189-afleggingsproses ook verby en word daar tans heelwat vakante poste by die SAUK geadverteer.

“RSG se nuwe bedryfsmodel maak voorsiening vir 12 permanente poste, waarvan vyf gevul is. Die ander sewe poste word tans en in die komende weke geadverteer.”

Louise Jooste, wat die afgelope 14 jaar RSG se bemarkingsbestuurder was, sal nou die leisels by Krüger oorneem as besigheidsbestuurder. Dit is die nuwe benaming van die stasiebestuurder.

“Louise volg my op aan die einde van April na 32 jaar se diens. Sy het ook die afgelope jaar waargeneem as programbestuurder, tesame met haar pligte as bemarkingsbestuurder. Louise is deeglik bewus van wat RSG se uitsaai en uitdagings behels en sal ook die taak hê om RSG se digitale aanbod uit te brei,” het Krüger bygevoeg.

Jooste het op RSGplus gesê dit is haar man en twee seuns se ondersteuning wat dit vir haar moontlik maak om haar beroepslewe met ʼn passie uit te leef. In haar huis is dié manne in haar lewe net so bedrewe agter die kospotte en voor die opwasbak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Vreemde regstellende aksie; wit vrou vervang met ‘n wit vrou. Weet die EFF van dit?

Johan ·

Dis nou fopnuus,nê Realis? Word stil mense,hier gaan n groot gees verby….

Maalstroom ·

Ek dink dat as daar ‘n hoogste eerbewys en toekenning vir die uitbou en bevordering van Afrikaans in Suid-Afrika is, moet dit ongetwyfeld gaan aan Magdaleen Kruger.

Deur Magdaleen se uiters bekwame leierskap en bestuur het RSG onder die moeilikste omstandighede denkbaar as ‘n radiostasie gegroei in statuur as ‘n gebalanseerde en nugter boodskapper en vermaaklikheidsaanbieder van hoogstaande plaaslike en internasionale standaard.

Magdaleen, jou professionele nalatenskap vir Afrikaans sal as ‘n ligbaken die toekoms bly verlig.
Baie dankie dat jy vir ‘n leeftyd jou talente met ons almal gedeel het.

Seënwense en goeie gesondheid met jou aftrede.

annie ·

… ek… ek… Halleluja! Ons hoop sy bly ver weg van die chaos wat sy agterlaat. Bye!

Boon ·

Dankie Magdeleen, jy het n groot bydrae tot 0Afrikaanse kultuur gelewer d.m.v. RSG programme en jou goeie bestuur van die stasie
Geniet jou a aftrede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.