Maggi-noedels is veilig, sê Nestlé

maggi-noedelsNestlé SA het Suid-Afrikaanse verbruikers verseker dat hulle steeds Maggi 2 Minute-noedels kan geniet, ondanks bewerings van loodbesmetting in Indië.

“Ons wil graag ons Suid-Afrikaanse verbruikers gerusstel dat die gehalte en veiligheid van al ons produkte ’n nie-onderhandelbare prioriteit vir ons is en dat ons Maggi-noedels dus absoluut veilig is vir verbruik,” het Millicent Molete, Nestlé SA se bestuurder van mediaskakeling, aan Health24 gesê.

Die owerheid in Lucknow, Indië, het Nestlé versoek om nagenoeg 200 000 pakkies Maggi-noedels te herroep nadat toetse glo getoon het dit bevat verhoogde vlakke van lood en spore van mononatriumglutamaat (MSG). “Die beweerde voorval is ’n geïsoleerde geval in Indië en word steeds ondersoek,” het Molete gesê.

Sy het aan Health24 gesê Nestle SA gebruik nie dieselfde resep vir sy noedels as Nestlé in Indië nie. “Nestlé is ’n gedesentraliseerde maatskappy en ons produkte word plaaslik by ons Maggi-fabriek in Babelegi, Tshwane, vervaardig.”

Wetenskaplikes in Indië beweer hulle het ’n loodkonsentrasie van 17,2 deeltjies per miljoen (dpm), nagenoeg sewe keer meer as die toegelate perk wat wissel van tussen 0,01 en 2,5 dpm, in die noedels gevind.

Lood is ’n swaarmetaal wat natuurlik in die aarde se kors voorkom, aldus Irene Labuschagne, ’n dieetkundige van Nicus, die voedingsinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch (US). “Dit is teenwoordig in klein hoeveelhede in die hele omgewing weens sy natuurlike voorkoms en vrylating in die omgewing deur menslike aktiwiteite soos mynbou, smelting en batteryvervaardiging. Lood in die grond kan deur plante geabsorbeer word, waaronder plante wat gekweek word vir kos.”

Hoekom lood gevaarlik is

Labuschagne het aan Health24 gesê oormatige blootstelling aan lood kan ’n uitwerking op neuro-ontwikkeling hê. “Blootstelling aan groot hoeveelhede lood, hetsy deur voedsel of enige ander bron, kan talle liggaamstelsels, insluitend die sentrale senuweestelsel, die niere en die immuunstelsel, beïnvloed.”

Nestlé, wie se hoofkantoor in Switserland is, het aan Health24 gesê dat hy sy eie ondersoek na die voorval sal doen. “Die gehalte en veiligheid van ons produkte is topprioriteite vir ons maatskappy,” het Lydia Méziani, senior woordvoerder van Nestlé, gesê.

Méziani het beklemtoon dat Nestlé streng veiligheidsmaatreëls toepas. “Ons pas streng voedselveiligheid- en gehaltebeheer by ons Maggi-fabrieke toe, waaronder deeglike gehaltebeheer in elke stadium van ons roumateriaalaankope- en produksieproses. Dit sluit omvattende toetse in om te verseker dat Maggi-noedels voldoen aan alle toepaslike wette rakende voedselveiligheid, sowel as ons eie hoë standaarde van gehalte en veiligheid voordat dit ons verbruikers bereik.”

Health24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tonginniekies ·

Dis hoekom daar so baie mense in Indië is, hulle het te veel lood in hulle potlode…

Pietie ·

Lood is op sy heel gevaarlikste wanneer dit uit ‘n vuurwapen se loop afgevuur word.

Liefdeskind ·

Hoekom moet daar in elkgeval ENIGE persentasie lood in kos wees?? Gelukkig eet ek nie die @rap nie.

Daar is ook 3000 klagtes in Amerika oor Nestle (Purina) se hondekos ontvang in verlede week. Van die honde is dood aan maagbloeding oor dieselfde nie toelaatbare middels.

Peet Schabort ·

Dalk weet ons nou die oorsaak van al die loodswaaiers (stakers) in die land.

SNEL ·

Enige een met twee breinselle weet daar is skadelike bestandele en goed wat kanker aanwakker in sulke kitsprodukte. So dit maak nie saak lood of de nie, daai kitskosse is nadelig en vorentoe dra mens die gevolge. Koop so naby aan die vars produk en leef gesonder. An apple a day keeps the doctor away, but if the doctor is cute, forget the fruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.