Mahikeng-onluste: Nog geen besluit oor premier gemaak

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa was Vrydagaand ure lank in samesprekings met die ANC-strukture in Noordwes in ʼn poging om ʼn oplossing te vind vir die voortslepende geweld in die provinsie.

Ramaphosa het sy beleggingsveldtog in die Verenigde Koninkryk kortgeknip om dringend na Suid-Afrika terug te keer om aandag aan die situasie in Noordwes te gee. Hy het Vrydagmiddag in Mahikeng aangekom en laataand ná die geslote vergadering die media toegespreek.

Inwoners in die stad en omliggende nedersettings het Woensdag begin betoog om onder meer te eis dat premier Supra Mahumapelo bedank. Die betogings gaan gepaard met geweld, plundering en die vernietiging van eiendom, en bedrywighede in Mahikeng is heeltemal tot stilstand gedwing.

Ramaphosa het ná afloop van die vergadering gesê die party wil verdere samesprekings voer met rolspelers voordat ʼn besluit geneem word oor die kwessies wat aangevoer is. Die kwessies behels die toekoms van die premier, die stand van die regering en korrupsie.

“Nadat ons na al die insette geluister het, het ons besluit om verder in gesprekke met verskeie mense, veral die inwoners, te tree,” het Ramaphosa gesê. “Die kwessies sal beslis in die regering bespreek word en ook met die regerende party in die provinsie.”

Obed Bapela, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het Vrydag gesê die party het die mense van Noordwes se stem gehoor.

“Die kwessies wat hulle opper is aangehoor en ons betrek alle rolspelers om weer te luister,” het hy aan verslaggewers gesê voor die geslote vergadering begin het. “Ons sal die bewerings van korrupsie ondersoek en optree teen enige verkeerde dade,” het hy gesê.

Die regering het intussen die gewelddadige betogings veroordeel en kalmte in die gebied versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Ek kyk vandag na foto’s van die plundering en beskadiging van eiendom en winkels deur die oproeriges. Ek wil amper sê dit was net n klomp kriminele wat betrokke is by die oproerigheid en die polisie verroer nie n vinger. Wat die onnosele anc nie besef is dat as so iets op verkeerde plek plaasvind gaan jy met n klomp dooie mense sit want ek gaan nie toekyk dat my eiendom so verinneweer word deur wie ook al

snoefie ·

geen reg, geregtigheid of logika durf in die pad van die anc se visie van vryheid staan nie.

Michael ·

Ek dink CR bluf die mense hulle het vir hom gese gaan maar terug SA toe. ons stel nie belang om geld daar te bele nie .Nou is hy hier om alles uit te sort in noord wes en en al te lekker ook vir comrad se begrafnis is hy die president of n komediant?

Duitser ·

Hy kruip nou oral want hy wil die verkiesing wen en die boere sonder vergoeding van hulle plaase afsit ,hy wil seker n plakkerskamp begin vir hierdie boere.??

Alwyn ·

Wat ek nogal moelik vind om te verstaan is die feit dat mense eers skade moet aanrig voordat die ANC sê “Ons het die mense se stem gehoor”
Hoekom kan hulle nie dood gewoon na die mense luister sonder al die skade wat gereeld aangerig word nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.