Mahikeng weer ‘kalm’ ná dae van onluste

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Die Noordwes-polisie het Saterdag gesê die situasie in Mahikeng is weer kalm nadat onluste sedert Woensdag in die omgewing geseëvier het.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê buiten twee voorvalle deur die loop van Vrydagaand, is die situasie in die gebied weer “relatief kalm”.

Hy het gesê in die eerste voorval is ʼn petrolbom teen die huis van ʼn verkeersbeampte gegooi wat geringe skade aangerig het. Niemand is tydens dié voorval beseer nie.

In die twee voorval is ʼn petrolbom teen ʼn gebou gegooi wat aan die Mmabana-stigting behoort. Dit was egter onsuksesvol en het geen skade aangerig nie. ʼn Gedeelte van dieselfde gebou is Donderdag ook aan die brand gesteek.

“In dié stadium, ten spyte van sigbare voorwerpe wat nog paaie versper, vloei die verkeer op die meeste paaie in die gebied en kan inwoners hul eindbestemmings bereik,” het Mokgwabone gesê.

Volgens Mokgwabone is altesaam 23 verdagtes teen Vrydag op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Maandag in die Mmabatho-landdroshof verskyn.

Die polisie handhaaf ʼn hoë teenwoordigheid in die gebied om die situasie te monitor.

Pres. Cyril Ramaphosa was Vrydagaand ure lank in samesprekings met die ANC-strukture in Noordwes in ʼn poging om ʼn oplossing te vind vir die voortslepende geweld in die provinsie.

Ramaphosa het sy beleggingsveldtog in die Verenigde Koninkryk kortgeknip om dringend na Suid-Afrika terug te keer om aandag aan die situasie in Noordwes te gee. Hy het Vrydagmiddag in Mahikeng aangekom en laataand ná die geslote vergadering die media toegespreek.

Inwoners in die stad en omliggende nedersettings het Woensdag begin betoog om onder meer te eis dat premier Supra Mahumapelo bedank. Die betogings gaan gepaard met geweld, plundering en die vernietiging van eiendom, en bedrywighede in Mahikeng is heeltemal tot stilstand gedwing.

Ramaphosa het ná afloop van die vergadering gesê die party wil verdere samesprekings voer met rolspelers voordat ʼn besluit geneem word oor die kwessies wat aangevoer is. Die kwessies behels die toekoms van die premier, die stand van die regering en korrupsie.

“Nadat ons na al die insette geluister het, het ons besluit om verder in gesprekke met verskeie mense, veral die inwoners, te tree,” het Ramaphosa gesê. “Die kwessies sal beslis in die regering bespreek word en ook met die regerende party in die provinsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Weereens ‘n bewys dat die anc gelewer het wat hulle belowe het. Beloftes doen gestand (of so iets).
Die terroriste het gesê dat hulle Suid Afrika onregeerbaar sal maak en hulle het absoluut geslaag daarmee! Bad luck vir hulle is dat dit nou op hul eie lessenaars beland het en hulle word uitgelag terwyl hulle hul eie beloftes in reverse probeer sit.

Stephen Namibia ·

Afriforum stuur berigte en fotos na die buiteland aub.

Vreedsaam ·

Dalk sal plundering en busse brand ook help om aandag te gee aan plaasmoorde en verkragting?

Eliza ·

Al wat die buiteland hoor is die droogte in die Kaap. Verder geen nuus. Al wat hulle onthou is Mandela, apartheid en Oscar. Elke land het sy eie probleme. Hulp moet kom uit eie geledere.

Michael ·

Ja heeltemaal reg Eliza. Dit is al wat die buiteland hoor Dan vra hulle vir geld hulp vir die droogte om die boere te help. As hulle hulp kry word geen boer gehelp nie. Dan skep hulle weer.

Hansie slim ·

ANC, dis hoe julle mense leer om probleme op te los. Kry vir julle. Net jammer onskuldiges kry seer in die proses.

Adriaan ·

Petrolbomme is baie ernstig. Dit is nie “relatief kalm” nie.

Ben ·

As ‘n mens ongelukkig is bv. by jou werk dan bedank jy en kry vir jou ‘n ander werk. As die mense dan ongelukkig is hier, hoekom verlaat hulle nie Suid Afrika nie en gaan op in Afrika. Daar is baie grond. Dit is nie nodig om ander onskuldige mense se huise of besighede af te brand nie. Julle het ander keuses. Dit is tyd vir self ondersoek en bietjie dink. Hou op om ander mense te blameer vir julle lot.

jaco ·

Te veel mense het in Mahikeng betoog dat mens kan glo die DA of EFF sit agter dit. In wese het die ANC teen die ANC betoog. Maar volgende verkiesing stem die hele Mahikeng maar net weer ANC. Iets maak nie sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.