Mahlangu: ‘Departement is daagliks met regstappe gedreig’

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: Brenda Masilela/ANA

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, en die vrou wat wyd geblameer word vir die Life Esidimeni-tragedie waartydens 143 psigiatriese pasiënte dood is, het Woensdag ontken dat sy ooit briewe en e-posse gesien het waarin daar teen die oorplasing van die pasiënte gewaarsku is.

Adv. Adila Hassim vir Artikel 27 het Mahlangu gevra oor ʼn e-pos wat op 9 Desember 2015 aan haar gestuur is, waarin daar verwys word na regstappe teen die departement in verband met die beëindiging van die kontrak met die Life Esidimeni-groep.

Mahlangu, wat haar getuienis voor die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor voortgesit het, het gesê sy het nie dié brief gesien nie.

Hassim het hierop geantwoord: “Maar daar was dreigende regstappe.”

Mahlangu het gereageer: “Die departement word elke dag met regstappe gedreig.”

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, wat voorsitter is van die arbitrasieverhoor, het tussenbeide getree en Mahlangu gevra of sy ontken dat sy hierdie belangrike briewe gesien het.

Sy het hierop geantwoord: “Ek onthou nie regstappe nie.”

Hassim het Mahlangu herinner aan ʼn e-pos wat op 12 Februarie 2016 aan haar gestuur is deur die projekbestuurder, Levy Mosenogi, waarin hy ʼn beroep op haar doen om van plan te verander.

Mahlangu het gesê sy was in daardie tyd met siekteverlof en het nie hierdie e-pos gesien nie.

Moseneke, wat verward gelyk het, het gevra: “Die brief van mnr. Mosenogi wat hierdie kommer binne die departement gelug het, het nooit by jou uitgekom nie?”

Sy het geantwoord: “Ek kan nie onthou nie … Ek was siek. Ek was by die huis besig om te herstel.”

Hassim het voortgegaan om Mahlangu met pertinente vrae te peper ten spyte daarvan dat sy gesê het sy het die meeste gebeure vergeet wat tydens die projek plaasgevind het.

Hassim het Mahlangu gevra of sy geweet het van die briewe en die waarskuwing oor regstappe teen die oorplasing van pasiënte na Takalani, waar volwassenes en kinders saamgevoeg is.

Mahlangu het geantwoord: “Kan ek môre antwoord?”

Hassim het volgehou dat Mahlangu die vraag moet beantwoord, waarna Moseneke ingetree en gesê het die feit dat mans en vroue by Takalani gemeng is, het daartoe gelei dat verkragtings plaasgevind het.

Mahlangu het versoek dat alle kwessies rakende Takalani eers Donderdag bespreek word. “Ek is net ʼn mens, ek kan hierdie goed vergeet,” het sy verdedigend gesê.

Moseneke het geïrriteerd geklink en Mahlangu herinner dat transkripsies aan haar voorsien is.

“Hoekom wil jy eers môre hierdie kwessie bespreek? As jy vir ʼn hof sê Takalani is reg en pasiënte kan soontoe gaan en dan kry hulle ingewandskoors, het dit nie iets met geheue te doen nie. Is dit nie net doodgewoon verkeerd nie?” het Moseneke gevra.

Mahlangu het geantwoord: “Ek doen my bes om deur die getuienisse te gaan. Ek probeer sover moontlik om voorbereid te wees wanneer ek hiernatoe kom.”

Sy het verduidelik dat haar vorige regsverteenwoordiger verlede jaar die transkripsies gehad het en dat sy eers die dokumente op 10 Januarie ontvang het.

Hassim het gelees uit ʼn Augustus 2016-verslag oor die probleme by Precious Angels.

“Daar is geen kosspyskaart nie, die meeste van die kosprodukte in die stoorkamer het verval, daar was ʼn probleem met netheid, pasiënte het nie toiletware gehad nie en dit was oorvol,” het Hassim gelees.

Moseneke het Mahlangu gevra wat sy gedoen het toe sy ingelig is oor die haglike omstandighede by Precious Angels. “Kyk na daardie lang lys probleme. Het jy daarna gekyk en gedink alles sal oukei wees?” het Moseneke gevra.

Mahlangu het geantwoord: “Dit is probleme wat, soos daar vir my gesê is, uitgesorteer sou word.”

Toe sy gevra is of sy bewus is van die werksgeleenthede wat verlore gegaan het nadat Life Esidimeni toegemaak het, het Mahlangu gesê dit was die verantwoordelikheid van dr. Barney Selebano, die voormalige hoof van geestesgesondheid, en die departement van menslike hulpbronne om seker te maak al die werknemers is deur die departement in diens geneem.

Die verhoor gaan vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Blatante gewetenlose leunaar. Eg eie aan wat die ANC se legacy van onaatasbare kaders voorstaan. SIEK!

Genieve ·

Syt noggie eers die vraag geanwoord nie bly met n ander weergawe. Hoekom wil sy dit more beantwoord???

Tanz ·

Dit is so maklik om die skuld voor iemand anders se deur te lê. Hoop almal word van moord aangekla!

Rita ·

Geheueverlies gaan nie vir altyd help nie! Sy het baie elende en hartseer veroorsaak, en moet dienooreenkomstig gestraf word. Wat ek sien is iemand wat net bloot nie omgegee het toe sy die verslae gesien het nie.

Vraagteken ·

Is die nuwe (tweede groep) organisasies ooit aangespreek na die voorval? Ek bedoel, almal gaan agter die politici aan, maar hoekom was die regte oortreders (die ongelisensieërde oppassers) nie aangekla van moord nie? Die mense het mos gesterf onder hulle sorg? Of is hulle aangekla?

Pop ·

As sy haar werk gedoen het en op haar pos was soos sy moes wees sal sy die e-posse gekry het.

Louis le Roux ·

Wonderlik hoe selektiewe amnesie toeslaan as jy skuldig is. Dis lyk vir my na ‘n baie aansteeklike siekte, want almal wat deesdae ondersoek word kan skielik niks onthou nie.

Petro ·

Soveel hartseer, ellende en dood veroorsaak en sy bly net arrogant en gewetenloos. Dit gaan my verstand te bowe hoe hierdie vrou slaap in die nag met 143 weerlose mense se bloed op haar hande. My hart breek vir elke familie wat daar sit en haar blatante leuens moet aanhoor. Sy hoort in die tronk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.