Mahlangu ‘hou vakansie terwyl pasiënte sterf’

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR van gesondheid in Gauteng wat wyd geblameer word vir die dood van 143 psigiatriese pasiënte tydens die Life Esidimeni-tragedie, het Donderdag haar humeur tydens die arbitrasieverhoor verloor en gesê haar karakter word aangeval.

Mahlangu en adv. Lila Crouse vir Legal Aid South Africa het koppe gestamp vir die grootste deel van die dag, tot op die punt waar Mahlangu gevra het of sy isiZulu kan praat. Sy het egter binne vyf minute die hulp van die tolk geïgnoreer.

“Ek kry die indruk ek is hier in die arbitrasieverhoor oor my karakter meer as enige iets anders. As dit oor my karakter gaan, dan moet ek ʼn prokureur hê. Ek raak ongemaklik,” het Mahlangu gesê.

“Ek het gewilliglik na hierdie verhoor gekom om te getuig sodat die families kan afsluiting kry. Ek bevind myself in ʼn moeilike situasie. Die vrae wat ek gevra word is tegnies. Geen politikus in Suid-Afrika sal dié vrae verstaan nie.”

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het aan Mahlangu gesê dit is sy werk om aan die hoof van die arbitrasie te staan en hy sal intree indien sy onregverdig behandel word. “In ʼn arbitrasie moet jy vrae beantwoord. Jy gaan vrae gevra word oor wat gebeur het. As jou karakter aangeval word, sal ek ingryp,” het hy gesê.

Sy woorde het egter min gehelp om Mahlangu, wat besig was met haar derde dag in die getuiebank, gerus te stel.

Crouse het voortgegaan om Mahlangu met vrae te peper. “Ek sien uit die brief wat jy aan die ombudsman gestuur het dat jy Dubai toe gereis het net voor die verslag bekendgemaak is. Was jy op vakansie?” het Crouse gevra.

Mahlangu het teruggekap: “Hoekom is hierdie vraag relevant?”

Crouse het geantwoord: “Mense was besig om dood te gaan en jy was op vakansie.”

Moseneke het ingetree en aan Crouse gesê dit is nie relevant waar ʼn getuie vakansie hou nie. Crouse het gesê sy dink dit is wel relevant omdat dit Dubai is.

Moseneke het gesê: “Ja, Dubai is baie omstrede. Dit is nie ʼn staatskapingondersoek nie.”

Crouse het egter vasgestaan en gesê: “Ons weet hierdie getuie was in die hospitaal en het nie haar verpligtinge nagekom nie. Ons weet sy was besig met veldtogte en het nie haar verpligtinge nagekom nie. Ons weet sy was op vakansie en het nie haar verpligtinge nagekom nie.”

Toe Mahlangu verder uitgevra is oor e-posse en briewe waarin sy gewaarsku is teen die toemaak van Life Esidimeni, het Mahlangu steeds volgehou sy het nooit dié kommunikasie gesien nie omdat sy in die hospitaal was, of sy het die saak na dr. Barney Selebano, die voormalige hoof van geestesgesondheid, verwys.

Moseneke het aan Mahlangu gevra hoekom sy nie na die families geluister het toe hulle by haar gekla het nie.

“As ek kon vooruit sien, sou ek dinge anders gedoen het. Ek het die beamptes vertrou,” het Mahlangu gesê.

Crouse het Mahlangu gevra hoekom sy nie dissiplinêre stappe ingestel het teen die beamptes wat vir haar gelieg het en valse inligting aan haar gegee het nie. Mahlangu het gesê die departement is steeds besig met die ombudsman se verslag.

Crouse het Mahlangu daarvan beskuldig dat sy meer bekommerd is oor haar politieke loopbaan as oor pasiënte.

Mahlangu het geantwoord: “Kan jy asseblief vir my leiding gee hoe jy tot daardie gevolgtrekking gekom het?”

Crouse het geantwoord: “Ek is bekommerd daaroor om afsluiting vir die families te bring. Jy weet die arbitrasie is vertraag oor jou. Het jy dit geweet?”

“Ek het dit nie geweet nie,” het Mahlangu ongeërg gesê.

Moseneke het geïrriteerd gelyk en gesê: “Jy het ʼn slegte en disrespekvolle houding, want jy het almal laat wag. Dit is wat aan jou gestel word.”

Mahlangu het geantwoord: “Dit was nie met opset nie. Ek dog ons het dit reeds hanteer.”

Moseneke het Mahlangu herinner aan Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, se stelling aan die parlement dat die nasionale en provinsiale gesondheidsdepartement se fondse om na psigiatriese pasiënte om te sien nie uitgeput was nie. “Wat sê jy daaroor?” het hy gevra.

Mahlangu het gereageer: “Ek weet nie wat aanleiding gegee het dat hy so ʼn uitlating sou maak nie.”

Moseneke het haar gevra of sy impliseer dat daar nie geld was om na die psigiatriese pasiënte om te sien nie en of sy sê hulle wou die geld vir die toekoms spaar. “Verwerp jy dus die minister se stelling?”

Mahlangu het gesê sy het geen kommentaar nie.

Ter afsluiting van haar kruisondervraging het Crouse aan Mahlangu gesê sy het nog geen aanspreeklikheid getoon nie.

Mahlangu het geantwoord: “As ek nie aanspreeklikheid getoon het nie, sou ek steeds ʼn werk gehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ada ·

Sy voel ‘n veer vir almal – behalwe haarself.
Sy kan nie minder omgee oor ander se lewens nie – en dit is baie duidelik.

Johan ·

As jy aanspreeklikheid aanvaar bedank jy EN jy word strafregtelik aangekla….in die land hoef jy net te bedank en dan is alles vergeet en vergewe…..en as jy lank genoeg vakansie gehou het…kan jy weer n toppos kry in n ander departement…..

Johan ·

As mense dood gaan op n myn….word die persoon wat inbeheer is van daai skag ondersoek en stafregterlik aangekla….al was dit nie die betuurder se nalatigheid nie……hier is iemand wat nie eers n dokter is in beheer geplaas van gauteng se gesondheid….en sy kom weg daarmee net deur om te bedank..seker met volle pensoin……

Johann Marx ·

En NET HIER verduidelik sy Suid Afrika se politieke potensiaal: “Die vrae wat ek gevra word is tegnies. GEEN POLITIKUS in Suid Afrika sal die vrae verstaan nie.” Gaan lees maar hoe baie LUR’e is in die sop…….want hulle verstaan nie hulle pligte nie, en kan nie hulle verantwoordelikhede nakom nie.

Ella ·

Jy is absoluut reg Johann. Verkeerde mense in poste oor hulle “vergoed” word vir “dienste gelewer”

snoefie ·

die arrogansie wat beskerming bied. oor n maand of drie berskyn hulle ook stilletjies as kolonelle of hoër op die weermag of sapd se betaalstate.

Frans C ·

Ek dink sy ken nie die verskil tussen verantwoordelikheid en aanspreeklikheid nie.

Ella ·

Jy is absoluut reg Johann. Verkeerde mense in poste oor hulle “vergoed” word vir “dienste gelewer”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.