Mahlangu van strafbare manslag aangekla

Jack Bloom buite die Sentraal-Johannesburg polisiestasie. Foto: Thembelihle Mkhonza/ANA

Jack Bloom buite die Sentraal-Johannesburg polisiestasie. Foto: Thembelihle Mkhonza/ANA

Die DA het Vrydag aanklagte van strafbare manslag teen die voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, ingedien.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in die provinsie, het gesê aanklagte in verband met die oortreding van die Wet op Geestesgesondheidsorg en die Wet op Nasionale Gesondheid is ook ingedien. “Hierdie aanklagte hou verband met die weerhouding van voldoende gesondheidsdienste en die versuim om ontslagverslae uit te reik,” het Bloom gesê.

Mahlangu het bedank nadat die gesondheidsombudsman ʼn verdoemende verslag bekendgemaak het oor die dood van psigiatriese pasiënte. Die pasiënte het gesterf nadat hulle van die staat se provinsiale kontrakteur, Life Esidimeni Sentrum, na 27 nie-regeringsorganisasie (NRO’s) regoor die provinsie oorgeplaas is.

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng, het bedank.

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng, het bedank.

Bloom het gesê die party het die aanklagte ingedien omdat dit noodsaaklik is dat daar gevolge is vir politici wat die wet oortree en omdat hy nie vertrou dat die provinsiale regering soortgelyke aanklagte teen Mahlangu sal indien nie.

“Die omvang van die sterftes en die nalatigheid maak dit ʼn mediese Marikana waarin aanspreeklikheid van die oortreders en geregtigheid vir die slagoffers geëis moet word.”

Intussen het die EFF Donderdag aanklagte van moord teen die Gautengse gesondheidsdepartement ingedien.

Malegapuru Makgoba, die gesondheidsombudsman, het Woensdag onthul minstens 94 psigiatriese pasiënte het ná die oorplasings na die NRO’s gesterf en nie 36 soos Mahlangu vroeër in die Gautengse wetgewer beweer het nie.

Volgens die verslag is die pasiënte na NRO’s oorgeplaas wat nie die basiese bevoegdheid en ervaring gehad het om na hulle om te sien nie. Die organisasies het ook nie die leierskapkapasiteit gehad om vir psigiatriese pasiënte te sorg nie en is met ongeldige lisensies bedryf. Die getal pasiënte wat gesterf het, kon sedert Desember verlede jaar gestyg het, aangesien die pasiënte sedertdien steeds in die sorg van die NRO’s is.

Mahlangu word deur die voormalige adjunkminister van gesondheid, Gwen Ramokgopa, vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

zoom zoom ·

Gebruik haar pensioen en ander gelde wat sy het om die naasbestaandes te vergoed vir haar fout. Ook die wat haar gehelp het met die besluit. Ook moet hulle name op ‘n rekord geplaas word sodat hulle nie weer in enige werk aangestel mag word nie

Daan Erasmus ·

Die olifant in die kamer is dat daar beweer word dat daar ‘n disproporsionele hoeveelheid blanke mans dood is. Kan iemand syfers gee?

Gert ·

As dit nou ʼn wit MEC was wat verantwoordelik was vir die gemors het Makura saam met die hele ANC leierskapskorps getoi-toi dat hy vervolg moet word. Nou sê hulle niks

hennie ·

Sy weet nie eers hoeveel mense gesterf het nie. Hoe onverantwoordelik kan jy nou wees? Sy voel duidelik niks vir n lewe nie. Massamoord is die woord. Waar kom strafbare manslag in?

Johann ·

Massa Moord…en sy bedank so ewe? Asof dit genoeg is? En dis ONMOONTLIK dat net een persoon so iets kon laat gebeur. Wat van haar trawante? En die actual plekke waar die mense dood is? Welkom in die HUIDIGE SA…nevermind die nuwe SA!

Annie ·

Ek stem .. le beslag om hulle familie eiendom as hulle gesteel het ..

Joe ·

Mmmmm ….. ja nee …. weereens ‘n leek sonder kwalifikasies wat ‘n job gekry het net vir die salaris ….. tipies …. sulke ANC lede & hulle trawante wat nie gedink het hulle sal uit gevang word nie … dit is baie duidelik dat sy sekerlik ook nie kon getel het of haar werk behoorlik gedoen het nie !!

Johan ·

Sy moet aangekla word vir moord en in die tronk gegooi word

Jordaan ·

Ek raak vies oor die vergelyking met Marikana. Daar was gewapende stakers wat lewens bedreig het (en mense vermoor het in die dae voor dit). Deur iets soos hierdie daarmee te vergelyk word ‘n narratief bevorder van arme stakers, stoute polisie. Dit was glad nie so eenvoudig nie

Anoniem ·

Jordaan, ek stem saam, hierdie kan nie met Marikana vergelyk word nie. Appels en pere. By Marikana is gewapene myners doodgskiet. Die pasiënte wat dood is, was nie gewapen nie.

Sal graag wil weet hoe is die NGO’s gekies waarheen die mense verplaas is. Is behoorlike prosedures gevolg? Ek twyfel!!! Daai NGO’s se eienaars is net so skuldig. Hulle het nie die geld wat ontvang is vir die versorging van die pasiënte reg gebruik nie. Die NGO’s moet ook aangekla en ondersoek word.

Oosie ·

Ek stem saam. Ek sien nie dat klagtes van BEDROG aan beide kante ingedien word nie. Blatante bedrog en korrupsie is hier ter sprake. Hoeveel borgskappe/subsidie kry hierdie NGO’S en hoe het hulle die geld verdeel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.