Mahumapelo kondig bedanking aan

Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Supra Mahumapelo, die omstrede premier van Noordwes, het Woensdag vanuit Luthuli-huis in Johannesburg aangedui dat hy oplaas as premier van Noordwes bedank en op vroeë aftrede sal gaan.

Mahumapelo het spesifiek melding gemaak van die dorpe wat skade gely het tydens die betogings om sy bedanking te eis. Gewelddadige betogings het sedert 18 April in dié provinsie gewoed.

Mahumapelo het twee redes aangevoer vir sy vroeë aftrede. Eerstens het hy gesê indien die onderskeie ondersoeke wat tans aan die gang is in die provisie in sy teenwoordigheid plaasvind en voortgaan sal hy beskuldig word daarvan dat hy sy amp gebruik om homself te beskerm.

Tweedens het hy melding gemaak van die “teen-revolusie” wat in die provinsie plaasvind en dat die mag van die ANC gebruik sal moet word om te kan oorwin. Hy meen as hy steeds in sy hoedanigheid as premier deel van die ANC is, sal hy daarvan beskuldig word dat hy sy amp gebruik om na ander te kap wat polities van hom verskil.

Hy het die ANC bedank dat die party van sy dienste gebruik gemaak het, asook dat die party sy besluit om te bedank ondersteun. “Ek wil net byvoeg ek verwag nie vergoeding in die vorm van ʼn nuwe posisie nie. Ek is nie ʼn politieke selfbehoudende aktivis nie – die revolusie kom eerste,” het Mahumapelo gesê.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het die provinsiale regering in Noordwes vroeër vandeesmaand onder administrasie geplaas. Mahumapelo het op 9 Mei tydens ʼn nuuskonferensie gesê dat hy teen die volgende dag die “voormalige premier van Noordwes sal wees”. Die volgende dag het die ANC se provinsiale uitvoerende komitee in Noordwes egter aangekondig dat Mahumapelo nié sal bedank nie, aangesien hy deur die ANC ontplooi is en dus deur die ANC teruggeroep moet word.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het Woensdag gesê daar was intussen heelwat debat binne die ANC oor die politieke situasie in die Noordwes. Sy het bevestig dat Mahumapelo sy bedankingsbrief aan die speaker van die provinsiale wetgewer oorhandig het.

“Hierdie ding is nou verby. Vind ʼn manier om aan te beweeg en om terug te gaan na die gemeenskap toe en régte ANC-werk te doen,” het sy aan joernaliste gesê.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gaan ʼn besluit moet neem oor wie Mahumapelo se opvolger gaan wees.

“Mahumapelo sal aanbly as voorsitter van die ANC in die provinsie, want hy is tot daardie posisie verkies. Die ANC in Noordwes is oukei.”

Mahumapelo het op vrae van joernaliste gesê dat hy mense in die Noordwes-provinsie wil versoek om nié te brand en te breek en infrastruktuur te vernietig nie. “Dit is teen-revolusionêr. Dit is verkeerd en die reg sal sy gang moet gaan,” het hy gesê.

“Die ANC is groter as ons almal, van bó tot heel onder. Ek is nie onvervangbaar in die revolusie nie. Daar kan nie so iets wees soos ‘no Supra no vote’ nie. Niemand van ons is groter as die ANC en die revolusie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marous ·

Onherstelbare skade berokken en hy gaan op vroee aftrede sonder enige gevolge. Nog ‘n briljante sukses verhaal trots geborg namens …… die uitgeroeide belasting betaler

Spike ·

Hierdie man en die meeste van die verlostes leef in die verlede met hul revolusie. Dit is hoekom hulle niks gedoen kry, want hulle kannie aanpas nie. Pleks hul revolusie in hul werk plek kry bewyse van spoed

V ·

Alewige gesanik oor die revolusie… Is daar enige realiteit waarin daar ‘n inklusiewe toekoms kan wees? Die masker van die cANCer val elke dag verder af. Enigste opsie is om selfbeskikking na te jaag. ‘n Mens kan nie “onderhandel” vir ‘n inklusiewe toekoms as jy niks het om na die tafel te bring nie, en jou teenwoordigheid aan die tafel die ander partye laat walg nie. Wat ‘n klugspel?

Johann ·

Nog n geval van absolute blinde lojaliteit tussen die ANC kaders. Jy sorg vir my n ek vir jou en ons almal saam vir ons self.

Arrogante selfwaan wat wegstap met ay sakke vol van geld ban n provinsie wat leegbloei aan korrupsie onder die ANC

hester ·

DIS BAIE GOEIE NUUS. ALLES OPGENEUK. Nou bedank hy , ja ek wonder ook die goue handdruk.

Michael ·

hy gaan aftree en glo my hy sal seker nog elke maand sy pay pakkie kry en n groot pakket; cell toelae; motor toelae; onthaal toelae; mediese toelae;en n baie groot toelaag omdat hy aan bly as voorsitter. Zuma het hier die ou baie goed geleer.

Oom Kalahari ·

Sjoe die jongman tree vroeg af. Natuurlik kry hy ‘n goeie goue handdruk en hy het tydens sy tydperk goed geskep en sakkie gevul. Nou is dit weer tyd vir die revolusie en dit is sy stukkie grond, hy gaan boer en het sterk finansies. Dit is maar wat sy Nasionale Uitvoerende Kommitee met hom bespreek het en ons sal na jou kyk. Lagwekkend. Die Kommunistiese revolusie bestaan al vir oor die honderd jaar.

Koos ·

Goeie genugtig!
Soveel arrogansie van een mens gaan alle verstand te bowe.

As die mense in die provinsie sy bedanking eis en hom openlik verkla van korrupsie en bedrog, wat nog is daar om hom in enige sodanige leiersposisie te behou?

Ondersoek al die klagtes teen hom behoorlik en indien die man skuldig bevind word, dank summier af sonder enige verdere voordele – inteendeel verkoop sy bates uit om die bedrae deur hom verkwis terug te wen vir die mense in daardie provinsie se voordeel.

Die ANC laat bloot teveel toe en alles gaan rustig en korrup voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.