Mahumapelo-mosie: ‘EFF weet hulle gaan verloor’

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes (12 Mei 2017) Foto: ANA

Die ANC in Noordwes het Dinsdag gesê die EFF het sy planne vir ʼn mosie van wantroue in premier Supra Mahumapelo laat vaar toe die party agtergekom daar wag ʼn nederlaag op hulle.

“Die ANC in Bokone Bophirima [Noordwes] is teleurgesteld in die EFF se politieke speletjies tydens ernstige sake soos ʼn debat oor ʼn mosie van wantroue wat die party voor die wetgewer gebring het. Noudat die EFF sien hul ligsinnige mosie sal nie suksesvol wees nie, krabbel die party skielik terug oor die beplande mosie,” het Gerald Modise, die ANC se provinsiale woordvoerder, gesê.

“Dit is verrassend vir die EFF om net ʼn aand voor die debat oor die mosie aan die Speaker van die wetgewer te skryf met ʼn versoek dat die debat uitgestel word, terwyl die party sedert verlede week geweet het van die speaker se besluit dat die mosie met ʼn oop stemproses beslis sal word.”

Speaker Sussane Dantjie het in ʼn memorandum aan lede van die wetgewer gesê die debat rondom die mosie is uitgestel op versoek van die EFF hangende die finalisering van hul voorgenome regsaksie. Die EFF het aangedui hulle sal die hof nader om die wetgewer te verplig om die mosie met ʼn geheime stemproses te beslis.

Modise het gesê die EFF se aandrang dat die mosie deur ʼn geheime stemproses beslis moet word bevestig die party se “desperaatheid” omdat die party net verlede jaar geen probleem gehad het met ʼn oop stemproses in die Nelson Mandelabaai-metro en Mogale City nie.

“Dit is dieselfde EFF wat gesê het hulle het ondersteuning van sommige ANC-lede in die wetgewer, terwyl hulle weet hul bedoeling is bloot om opslae te veroorsaak en dan te hoop vir die beste. Dit is duidelik die mosie wat hulle gebring het sal nie suksesvol wees nie, omdat die mosie nie die ondersteuning gekry het waarvoor hulle gehoop het nie.”

Modise het bygevoeg die ANC het vertroue in Mahumapelo se vermoë om die provinsie te lei.

Die EFF se mosie van wantroue in Mahumapelo sou vandag gedebatteer geword het. Vir die mosie om suksesvol te wees, sou die EFF al die opposisie se stemme plus sewe stemme uit die ANC-geledere nodig gehad het.

Die ANC het 23 van die 33 setels in die wetgewer, terwyl die EFF vyf het. Die DA het vier setels en die VF Plus een setel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.