Mahumapelo-mosie nié deur geheime stemproses beslis

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Die mosie van wantroue in Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, sal volgens speaker Susan Dantjie deur middel van ʼn oop stemproses beslis word.

Die EFF het die mosie ter tafel gelê en dit sal 17 April tydens ʼn spesiale sitting van die provinsiale wetgewer gedebatteer word.

Dantjie het Donderdag gesê sy moes alle feite rakende die mosie in ag neem voor sy kon besluit of dit ʼn oop of geheime stemproses gaan wees.

“Ek moes ook in ag neem dat alle lede hul sienings moet kan uitdruk sonder om blootgestel te word aan onregmatige beïnvloeding, vrees vir afkeer of enigiets soortgelyks,” het Dantjie gesê.

Sy het gesê dit was nie maklik om die besluit te neem nie en dat die EFF nie sy redes kon aanvoer waarom ʼn geheime stemproses versoek word nie.

“Ek neem daarvan kennis dat die mosie van wantroue in die premier een van die beskikbare meganismes van oorsig vir lede van die provinsiale wetgewer is om diegene in uitvoerende posisies verantwoordbaar te hou. Hierdie meganismes is nog altyd in die wetgewer beoefen sonder vrees of voordeel.”

Volgens Dantjie het die wetgewer nog nie sedert 2014 toe sy as speaker oorgeneem het enige situasie beleef waarin lede van die wetgewer belemmer, geïntimideer, bedreig, afgekeur of op enige wyse beïnvloed is om ʼn besluit te neem of stappe te doen wat dit op die een of ander manier vir hulle moeilik sou maak om hul grondwetlike mandaat uit te voer om ʼn oorsigtelike rol oor die uitvoerende beamptes te speel nie.

Mahumapelo sal na verwagting die mosie oorleef aangesien die ANC ʼn beroep op sy lede in die provinsiale wetgewer gedoen het om teen die mosie te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.