Mahumapelo sal begrotingsrede lewer

Premier Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Supra Mahumapelo, die premier van Noordwes wat onder toenemende druk verkeer om te bedank, sal na verwagting Dinsdag die begrotingsrede in die provinsiale wetgewer in Mahikeng lewer.

Brian Setswambung, woordvoerder vir die provinsiale regering, het gesê Mahumapelo sal na verwagting ʼn aksieplan vir dié provinsie uiteensit. Mahumapelo sal ook na verwagting verantwoording doen oor sy kantoor se prestasie tydens die vorige boekjaar wat spesifiek verband hou met hul pogings om die plaaslike regering se vermoë te verhoog om dienste te lewer deur prestasie-evaluasie en ingrypingspogings.

Die bevestiging dat Mahumapelo wel sal voortgaan om die begrotingsrede te lewer kom te midde van mediaberigte dat ANC-leiers Mahumapelo verlede week tydens ʼn vergadering van die nasionale werkkomitee in Kaapstad gevra het om te bedank. Daar word beweer dat Thandi Modise, die voorsitter van die nasionale raad van provinsies, gereed staan om die leierskap in Noordwes oor te neem.

ʼn Ministeriële span onder leiding van Nkosazana Dlamini-Zuma is tans in Mahikeng om kwessies van regering in die provinsie te bespreek.

Die kabinet het die Noordwes-gesondheidsdepartement onder administrasie geplaas te midde van die departement se struwelinge met korrupsie en die uitwerking van ʼn staking deur lede van die National Health and Allied Workers Union (Nehawu) wat twee maande gelede al begin staak het.

Ander lede van die taakspan sluit Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering, Bheki Cele, minister van polisie, Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, en Dipuo Letsatsi-Duba, minister van staatsekuriteit, in.

Dlamini-Zuma het vroeër gesê ʼn verslag sal Woensdag voor die kabinet ter tafel gelê word.

ʼn Vlaag gewelddadige betogings het verlede maand op talle plekke in Noordwes opgevlam. Winkels is geplunder en eiendom beskadig toe betogers geëis het dat Mahumapelo bedank. Die premier, wat ook die ANC se provinsiale voorsitter is, weier egter om te bedank en voer aan dat die betogings deel was van ʼn plan om ontslae te raak van destydse ondersteuners van Dlamini-Zuma by die ANC se verkiesingskonferensie verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik om te sien hoe die ANC anargie saai, en dan terugstaan en eenvoudig ANC eerste, die res laaste, toepas. Tipies Zumaikie… klou soos n neet aan sy mag en pag.

kas ·

hOEKOM SAL JY NOU DIE GANS SLAG WAT GOUE EIERS VIR JOU VOORTBRING.Hy sal nie sy pos vrywillig verlaat nie nie,soos baie ander.Hy maak nog goue eiers bymekaar en intussen gaan noodsaaklike dienste tengronde.

Hanna ·

Die land brand, maar ou Supra blyk salig onbewus te wees. Dit reen mos pap, so skep gaan ou Supra skep! Zuma-boetie vir seker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.