Mahumapelo sal met tradisionele leiers vergader

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes (12 Mei 2017) Foto: ANA

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het ingestem om met provinsiale tradisionele leiers te vergader te midde van gewelddadige betogings wat die provinsie die afgelope week op sy knieë gedwing het.

Brian Setswambung, Mahumapelo se woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê die premier het ingestem tot die vergadering “om te bespreek wat tans in die provinsie aan’t gebeur is”.

“Die noodsaaklikheid om met die premier te vergader is een van die besluite wat vandag [Woensdag] tydens ʼn vergadering van die provinsiale huis van tradisionele leiers in Rustenburg geneem is,” het Setswambung gesê.

Mahumapelo sal vandag met die tradisionele leiers vergader.

Kgosi Moshe Mabe, die voorsitter van die huis van tradisionele leiers in Noordwes, het aan verslaggewers gesê tradisionele leiers wil deel wees van die oplossing in die voortgesette betogings om te eis dat Mahumapelo bedank.

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

“Ons wil deel wees van gesprekke en deel vorm van die oplossings. Ons versoek dringend om met die president [Cyril Ramaphosa] en die premier [Mahumapelo] te vergader voordat enige aankondigings gemaak word.”

Hy het gesê die tradisionele leiers het ook met kommer kennis geneem van die bewerings teen Mahumapelo en wil daarom ook met die mense byeenkom wat eis dat Mahumapelo se kop rol.

Hy het gesê alle vlakke van die regering, onder wie tradisionele leiers, moet betyds op gemeenskappe se griewe reageer. “Daardeur sal ons verseker dat daar nie ʼn platform geskep word waar betogings uiteindelik in totale chaos ontaard nie.”

Woedende Noordwes-inwoners het die afgelope week die strate ingevaar in gewelddadige protesaksies waartydens voertuie aan die brand gesteek, geboue beskadig en winkels geplunder is. Die betoging het verlede Woensdag in Montshioa naby Mahikeng begin wat dié gebied tot stilstand gedwing het.

Betogings naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: Twitter

Ramaphosa moes sy besoek aan die Verenigde Koninkryk kortknip om hom terug na Suid-Afrika te haas en dadelik Noordwes te besoek.

Die betogings het sedertdien versprei na ander plekke soos Taung naby Vryburg, Klerksdorp en Zeerust.

Mabe het ʼn beroep op die gemeenskappe gedoen om kalm te bly en nie eiendom te beskadig of mense seer te maak nie.

Die vergadering tussen Mahumapelo en die tradisionele leiers sal by die Sun City-oord buite Rustenburg gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cornelius du Rand ·

Pad tussen Ottoshoop en Lichtenburg weer toegepak met groot klippe. Een voertuig reeds beskadig. Die SAPS skitter in hulle afwesigheid en versuim om hulle pligte toe te pas. Ek stel voor individue wat skade lei dagvaar die SAPS. Dit is al manier waarop ons hulle gaan dwing die m wet en orde te herstel.

John ·

Nou moet tradisionele leiers (teen watter prys?) glo die belange van Super-trooper help beskerm want boetie wil sky-high voortleef. En CR beskerm sy glibberige kaders al die pad. Dit gaan kos… meer as ‘n miljoen. Biljoene pas meer by Afrika se groot ryk na die sterre. Dis jammer dat die Concords nie meer vlieg nie. So ‘n kursus sou seker in daardie lyn gewees het…

Tradisioneles laaste uitweg ·

Tradisionele leiers is die laaste uitweg vir die slegste van slegte leiers voor hulle uiteindelike val, soos Zuma en Mugabe. Mag Supra hard val.

Casper Labuschagne ·

Die ingeboude foutlyne in ons land…

Van die langtermyn gevare van hoekom die demokrasie van 1994 dalk nie vir ewig werkbaar kan wees nie, is die ingeboude foutlyne in die land. Sulke foutlyne sluit in die verskil tussen ryk en arm, wit en swart, eie tale teenoor die oorheersing van engels ens. Maar hier sien ons nou verspreide onluste en ‘n provinsie wat onstabiel raak as gevolg van een van hierdie foutlyne naamlik waar tradisionele leiers in ‘n landelike provinsie eintlik die septer swaai en self die staatspresident moet terugstaan terwyl tradisionele leiers eers gekonsulteer word.

Die revolusionêres in die woonbuurte van Noordwes waar die EFF juis gister die plaaslike setel in Lichtenburg/Coligny gewen het, is die vyande van die tradisionele leiers. Die regerende ANC wat self ‘n revolusionêre party is, is ook die meerderheidsparty vir tradisionele leiers. Hier is die demokratiese prosesse wat juis opgestel is om sosiale onrus te kon ontlont nou ook gestuit deur die tradisionele leiers. Op sosiale media beskryf die revolusionêres vir Mahumapelo as Mangope 2.0.

As hierdie foutlyne in die samelewing nie ontlont word nie, sal dit die land uitmekaar ruk en daarna sal niks ‘n revolusie kan stuit nie, en vreemd genoeg gaan dit nie bloot net oor rasseverskille of ongelykheid in die samelewing nie.

Dieselfde foutlyn van tradisionele leierskap teenoor ‘n revolusionêre ANC prut in die vulkaan van Kwa-Zulu Natal asook in LImpopo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.