Mahumapelo skimp oor bedanking

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Supra Mhumapelo, premier van Noordwes, het Dinsdag sy begrotingsrede afgesluit met ʼn kriptiese boodskap wat talle meen ʼn duidelike teken is dat hy gaan bedank.

Mahumapelo het gesê hy sal “ʼn brief” Vrydag by die speaker indien. Hy het egter nie gesê wat in die brief sou staan nie, maar talle het aangeneem dat hy onder geweldige druk geswig het en gaan bedank.

Noordwes gaan gebuk onder verskeie gewelddadige betogings waar inwoners Mahumapelo se bedanking eis. Hulle beskuldig hom van korrupsie. Die premier het gekla dat hy met die dood gedreig word en het dit glo by die polisie aangemeld.

Mahumapelo het aan die begin van sy toespraak aangedui dat dit moontlik sy laaste begrotingsrede sal wees.

Intussen het Tsotso Tlhap, ANC-lid van die provinsiale wetgewer, gesê die kantoor van die premier in Noordwes moet steeds met die Valke-ondersoekbeamptes saamwerk. “As die ANC is ons dankbaar dat die premier met die Valke saamwerk. Dit is slegs die ANC wat korrupsie kan uitroei,” het sy tydens Mahumapelo se begrotingsrede gesê.

Die Valke het in Maart ʼn klopjag uitgevoer op Mahumapelo se kantoor en die departemente van finansies, ekonomie en ondernemingsontwikkeling. Die Valke in Noordwes het in daardie stadium gesê dit volg ná bewerings van wanadministrasie, bedrog en korrupsie ter waarde van ongeveer R160 miljoen.

Mahumapelo het Dinsdag gesê opposisiepartye mislei die publiek dat daar ʼn klopjag op sy kantoor uitgevoer is, “terwyl dit eintlik die kantoor van die direkteur van die verskaffingsketting is wat deursoek is”.

Hy het ʼn beroep op inwoners in die provinsie gedoen om kalm te bly. Hy het gesê mense het die reg om te betoog, solank as wat dit vreedsaam is. “Laat ons nie geweld gebruik nie, laat ons nie plunder nie, laat ons nie uitlanders haweloos laat nie,” het hy gesê. Daar was verskeie gewelddadige betogings in Noordwes en inwoners het versoek dat hy moet bedank.

Lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het vroeër uit die Noordwes-wetgewer gestap toe Mahumapelo sy begrotingsrede van R775.38 miljoen gelewer het. Betty Diale, provinsiale voorsitter van die EFF, wou weet wanneer die EFF- mosie van wantroue in Mahumapelo aangehoor sal word. “Ons het die speaker versoek om ʼn mosie van wantroue te skeduleer. Wanneer gaan dit gedebatteer word?”

Speaker Sussana Dantjie het gesê die reëlingskomitee het nog nie vergader om die mosie te oorweeg nie. “Die EFF sal nie deel wees van die begrotingsdebat nie,” het Diale geantwoord en die EFF-lede uit die vertrek gelei.

Die mosie van wantroue in Mahumapelo sou op 17 April gedebatteer word, maar die EFF het Dantjie skriftelik in kennis gestel dat hulle die hof wil nader om ʼn geheime stemming te verseker.

Die Demokratiese Alliansie het Mahumapelo se begroting verwerp en gesê dis ʼn begroting wat in die hande gelaat word van plunderaars, leuenaars en korrupte individue.

“ʼn Begroting van ʼn premier wat ʼn mosie van wantroue in die gesig staar. ʼn Begroting van ʼn premier wie se seun ʼn beurs van R1,1 miljoen ontvang het terwyl duisende in die provinsie sonder behoorlike onderwys of werk moet klaarkom. ʼn Begroting van ʼn premier wat toestemming aan die hoof van die departement van gesondheid gegee het om op belastingbetalers se geld oorsee te reis. Ongeveer R30 miljoen is onder sy neus aan Mediosa betaal terwyl geen dienste gelewer is nie – terwyl daar geen medikasie by meeste klinieke beskikbaar is nie. Mense ly, omdat daar geen mediese dienste hier is nie,” het Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vryheid ·

Supra ons gee nie om wat die brief se nie solank dit die woorde “ek bedank” bevat. Ons weet van beter jy mag dalk van die mense mislei maar nie almal nie.

Koos ·

Selfs al staan daar “Ek bedank julle vir die ondersteuning”?

Oom Kalahari ·

Supratjie se eindtyd het ook aangebreek. Baie geldjies het verdwyn, familie is verryk en swak dienslewering. Tyd om die koffertjies te pak. Ai jammer tog, lyk my nie die klompie lyfwagte gaan nou van nut wees nie waaroor jy so geraas gemaak het nie. Die hammertjie het geslaan en jy kwalifiseer vir geen goue handdruk of pensioen nie. Bye-Bye Meraai, laat jou hakskene klap.

Oom Kalahari ·

Supra en die Guppies is groot maats en kuier by dieselfde shebeen. Tyd dat die Guicci pakke vir ‘n oranje danspak verruil word en gaan uitkamp saam Oom Jacob daar op Robben Eiland waar hy al ‘n ou bekende gasheer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.