Mahumapelo verwelkom Valke-klopjag by sy kantoor

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het Donderdag ʼn klopjag deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) by sy kantoor verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig die Valke in Noordwes het Donderdag op sy kantoor toegeslaan om ʼn soek-en-beslagleggingsoperasie uit te voer. Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, het gesê die klopjag kom ná ʼn ondersoek wat verband hou met wanadministrasie, bedrog en korrupsie. “Die geldelike waarde verbonde aan die beweerde misdaad is sowat R160 miljoen,” het Rikhotso gesê. Die Valke het beslag gelê op verskeie dokumente van verskillende kantore.

Mahumapelo het ure ná die Valke met die klopjag begin het, gesê hy het nog in al sy provinsiale redes, sedert 2014, die belangrikheid van ʼn veldtog teen hebsug, misdaad en korrupsie benadruk. “Die Noordwes-regering het in dié verband ʼn maandelikse Setsokotsane-program van stapel gestuur wat op 10 veldtogte fokus, insluitend dié kwessie.”

Mahumapelo het gesê hulle verwelkom daarom dié inisiatief deur die Valke en hulle gee hul volle samewerking. Volgens hom het die provinsiale regering verskeie ondersoeke van stapel gestuur.

Brian Setswambung, woordvoerder vir die provinsiale regering, het vroeër gesê die Valke het die kantoor besoek met ʼn lasbrief om dokumente te bekom oor betalings wat aan Nepo Data Dynamics gemaak is. “Dokumente wat met dié maatskappy verband hou, is verlede week onwettig bekom en op sosiale media versprei. Ons verwelkom die soektog, aangesien dit ooreenstem met ons pogings om hebsug, misdaad en korrupsie te bestry, soos die premier in sy provinsiale rede aangekondig het. Ons sal met hulle saamwerk.”

Die maatskappy het ʼn driejaarkontrak om rekenaardienste en ʼn bemarkingstransformasieprogram aan die provinsiale regering te verskaf.

Die opposisieparty die Demokratiese Alliansie het gesê die klopjag is al lank agterstallig. “Ná jare wat daar van die mense van die provinsie gesteel is, met ʼn rits aanklagte en ondersoeke, en die wiel draai nou uiteindelik vir geregtigheid,” het Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA, gesê. “Mahumapelo moet nou alle bewerings teen hom in die gesig staar en ook verslag doen oor sy verhouding met die Gupta-familie en betrokkenheid by staatskaping.”

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het gesê die kontrak met Nepo Data Dynamics is aangegaan vir die tydperk van 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan die maatskappy oorbetaal. “Die beweerde ongerymdhede spruit glo hieruit voort. Dit is onaanvaarbaar dat staatskoffers gestroop en belastingbetalers se geld langer gesteel word deur blatante tenderbedrog en korrupsie. Sekere diensverskaffers buit die staat al vir die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering se bewind uit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Hy verwelkom dit, geen skaamte, daar waar n rokie trek is gewoonlik n vuurtjie, sy comrade Ace is in dieselfde bootjie.

DjH ·

Hy dink nou omdat hy dit verwelkom gaan hy straf vryspring???? ……asof hy wil seg ek het nie die nodige insig of kennis om sulke dinge te keer nie?……dan moes hy in die eerste plek nie premier gewees het nie…….dis tipies van die mense om wanneer jy hom uitvang te konstateer dat “ek het nie geweet nie, dis nuus vir my”…….of heel ‘onskuldig’ …..dit het buite my beheer plaasgevind!…….regtig nou?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.