Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes en huidige provinsiale voorsitter van die ANC, sal dié week regsdokumente beteken op mense wat hom vroeër van korrupsie beskuldig het.
Mahumapelo het Sondag gesê mense kan nie net ander so swartsmeer en hul aansien in die samelewing se oë skade berokken en dan “alleen gelos wil word omdat jy sê daar moet eenheid wees nie”.
“Eenheid gaan daaroor om die waarheid te praat en om die waarheid na te jaag. Ek sal ʼn voorbeeld gee – ons kan nie vermy om oor rassisme te praat omdat ons ʼn verenigde Suid-Afrika wil hê waar daar nie rassisme is nie. Dit is aan die orde van die dag, maar ons moet steeds die land verenig,” het Mahumapelo aan verslaggewers gesê by ʼn praatjie oor Jeugmaand in Mahikeng.
Dié praatjie is deur die ANC jeugliga in die Ngaka Modiri Molema-streek gereël.
Volgens hom sal 13 mense, insluitend die “revolusionêre raad” en Betty Diale, die EFF se provinsiale voorsitter, voor die hof gedaag word. Die eerste dokumente sal na verwagting Woensdag beteken word.
Mahumapelo het gesê hy het besluit om te bedank uit sy pos as premier om deur middel van die wet met sy kritici af te reken.
Daar het 18 April gewelddadige betogings in Noordwes losgebars toe inwoners sy bedanking begin eis het as gevolg van die korrupsie waarby hy na bewering betrokke is.
Mahumapelo het ook ʼn beroep gedoen dat daar stappe gedoen moet word teen munisipaliteite wat onwettig geld belê het in die omstrede VBS Mutual Bank. “Ingevolge die beleid moet daar drastiese stappe gedoen word teen enige munisipaliteit wat belastingbetalers se geld belê het sonder om gehoor te gee aan beleidvoorskrifte en die wet,” het hy gesê.
Waar ‘n rokie trek moet ‘n vuurtjie brand . . .
As die skoen jou pas, trek hom aan en dra hom
Ek wonder hoe lank gaan dit nog aanvaarbaar wees om die word swartsmeer te gebruik? Is dit nog polities korrek?( tong in die kies,maar met die EFF in die rondte,is niks onmoontlik nie)
Sterkte met die regsproses . Hopenlik vat dit nie lank nie …..
Solank hy dit net met sy fondse aanpak…