Maile hou vol besluit was reg, al keer hy dit om

Die LUR vir samewerkende regering in Gauteng, Lebogang Maile. (Foto: Twitter)

Lebogang Maile hou vol hy het niks verkeerd gedoen nie rakende die skorsing van die voormalige speaker van die Johannesburgse metroraad asook die speaker van die Tshwane-metroraad.

Maile, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Gauteng, het Vasco da Gama en Katlego Mathebe, al twee DA-lede, verlede week vir onderskeidelik drie en ses maande sonder betaling geskors vir hul beweerde oortreding van die etiese gedragskode vir raadslede.

Hy het dié besluit egter Maandag omgekeer. Maile het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie gesê die hoofrede vir die aanvanklike skorsing van die twee raadslede was omdat hulle op ʼn manier opgetree het wat hul persoonlike belange bo dié van die inwoners van Pretoria en Johannesburg gestel het.

Volgens Maile is die besluit nie ligtelik geneem nie en geld die meriete en korrektheid van die besluit steeds aangesien dit strook met die Grondwet en toepaslike munisipale wetgewing.

Nadat regsadvies ingewin is, is daar besluit om die skorsings terug te trek. “Ons hou egter vol dat die raadslede se gedrag op wesenlike misbruik van hul ampte neerkom, versuiming van wetgewende pligte en dat dit skade aan die inwoners van albei stede berokken het.”

Maile het gesê sy optrede toon die onverbiddelike verbintenis tot die handhawing van die oppergesag van die reg en onbetwisbare respek vir eie regbank. “Weens ons beslissing het ons sedertdien korrespondensie ontvang van die DA se regspan dat hulle die saak effektief en onmiddellik van die hofrol sal verwyder.”

Mike Moriarty, die DA se provinsiale voorsitter in Gauteng, het vroeër gesê Maile se regspan het hom ongetwyfeld aangeraai dat hy die saak sou verloor as die DA sou voortgaan met regstappe oor die LUR se omstrede besluit.

Die DA het gesê hy gaan nou ʼn mosie by die Gautengse wetgewer indien waarin hy Gautengse premier David Makhura vra om Maile van sy amp te onthef.

Maile het tydens die mediakonferensie benadruk dat hy geen belang daarin het om ʼn munisipaliteit onder administrasie te plaas of by hul sake in te meng nie.

“In die lig van die meriete van ons aanvanklike besluit het ons ʼn brief aan die hoofsweep van die Tshwane-metro geskryf en ʼn versoek van die hoofsweep van die Johannesburg-metro aanvaar om ondersoek in te stel en binne sewe dae ʼn beslissing te maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

As jou persoonlik belange bo die burgers s’n gestel word, ‘n rede is om ‘n persoon te skors en wetlik korrek is, behoort ons nie ‘n regering te hê nie.

Piet Snot ·

Vasco da Gama;
Mike Moriarty (Sherlock Holmes se nemesis):
Is julle seker daar is mense met daai name in die DA?

My opinie ·

Wat kan mens nou se ne? “No amount of evidence will persuade and idiot” (Mark Twain). Seker maar by Lesufi geleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.