Maimane behou amp as DA-partyleier

DA-leier Mmusi Maimane. Foto: Ian Landsberg/ANA

Die DA-leier, Mmusi Maimane, sal sy amp as partyleier behou tot die volgende federale kongres in 2021 en geniet die ondersteuning van die DA se hoogste besluitnemingstruktuur, het Athol Trollip, die DA se federale adjunkvoorsitter, Maandag gesê.

“Daar was baie bespiegeling oor die toekoms van ons leier, Mmusi Maimane. Ons wil dit stel dat mnr. Maimane ons leier sal bly totdat die federale kongres, geskeduleer vir 2021, andersins besluit,” het Trollip gesê.

“Enige praatjies van ʼn verandering in leierskap voor die federale kongres moet uit die weg geruim word. As die leierskap van die party, op nasionale sowel as provinsiale vlak, is ons eenparig in ons steun vir mnr. Maimane wat die DA sedert die 2015 Nelson Mandelabaai- federale kongres, en sy onbetwiste verkiesing in 2018, uitsonderlik gelei het.”

Die DA het vanjaar ʼn groot verlies by die stembusse gely deur 1,4% steun te verloor – ʼn afname van 23,23% in 2014 tot 20,77% vanjaar.

Tydens ʼn mediakonferensie ná afloop van ʼn vergadering van die DA se federale uitvoerende komitee het Trollip gesê dié verlies kan nie aan ʼn individuele leier toegedig word nie. “As lede van die federale uitvoerende komitee, wat die bedrywighede van die party rig en beheer en die besluit van die federale raad implementeer, neem ons almal verantwoordelikheid vir die uitslag van die verkiesing – of dit nou goed of sleg is,” het hy gesê.

“Daardie las kan nie op die skouers van ʼn individu geplaas word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter du plessis

Ek hoop hy leer uit sy foute en besef minderhede het ook bestaansreg in SA en diskriminerende wette gebaseer op velkleur(apartheid) moet na 25 jaar afgeskaf word of minderhede moet n eie tuisland kry om hulself te regeer.

KJA

Mmusi, hoe voel dit om alleen verantwoordelik te wees vir al die stemme wat die DA verloor het? Ek’t met TROTS nié vir julle gestem nie.

MC

Ja, dis die “touleiertjie” waarvan Siener van Rensburg gepraat het, hy is werklik nie ‘n baie sterk leier nie. Die DA se interne slordige politiek los ‘n wrang smaak in ‘n mens se mond. Maar ek moet toegee, ek wil op die oomblik in geen ander provinsie as in die Wes-Kaap wees nie. As hulle dit regkry om hulle verskille eenkant te sit, bestuur hulle die Wes-Kaap uitstekend en is verbetering en instandhouding aan ons infrastruktuur daagliks sigbaar. Baie dankie daarvoor. Ek dink egter Mnr. Trollip is verkeerd. Die DA het kiesers verloor juis oor Mmusi so ‘n gematigde leier… Lees meer »

John

Alle kompetisie vir Maimane is uit die weg geruim, dus is daar niemand anders nie en dit gaan die DA se einde verhaas. Om die sondelose, alwetende party te speel is nie volhoubaar nie. De Lille is soos Zuma beskerm om die party se eenheid te behou. Die 2 duwweltjies gooi saad die hele land vol… Dit gaan ‘n eina-wèreld word.

Genieve

Ek dink hy het uit se foute geleer maar nou moet hy dit vinnig regmaak darem meer eerliker as Ramaphosa soos ek deur die lyne lees kyk nou eerste na sy kabinet dis n skande nadat hy weet wat die mense gedoen het wat hy weer wil aanstel maak net jou foute reg Mmusi wees daar vir almal.