Maimane dreig met regsaksie oor grond

Mmusi Maimane (9 Oktober 2017) Foto: ANA

Die Demokratiese Alliansie sal regstappe neem teen die regering oor die oordrag van grond na opkomende boere, het leier Mmusi Maimane Maandag gesê.

“Ons sal die ANC hof toe vat om te verseker dat die grond oorgedra word. Die leuens wat hulle vertel dat alle grond oorgedra is, is nie die waarheid nie. Ons het vandag met boere vergader wat in dieselfde program is, wat nooit enigiets besit het nie, maar steeds elke maand huur betaal. As ons ernstig is oor grondhervorming, moet ons seker maak dat Suid-Afrikaners wat nie grond besit nie, dit wel moet besit,” het hy by Nooitgedacht-plaas naby Northam in Limpopo gesê.

Hy het in Northam met boere vergader wat begunstigdes is van die regering se Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkelingsprogram (GHLOP). Dié program het ten doel om voorheen benadeelde burgers te help om grond en landbou-implemente spesifiek vir landbou-doeleindes aan te skaf.

Die boere het aan Maimane gesê ondanks beloftes van die regering dat die grond na hulle oorgedra sal word, besit hulle nie die grond waarop hulle boer nie. Hulle het gesê mense betree onwettig die grond en rig plakkershuise op, omdat hulle aanvoer die grond behoort aan die regering en nie aan die boere nie.

Hulle wil hê die regering moet die grond aan hulle oordra.

David Rakgase het gesê hy boer reeds sedert die Bophuthatswana-era op Nooitgedacht-plaas, ongeveer 8 km van Northam, en die grond is ná die 1994-verkiesing aan die Limpopo- provinsiale regering oorgedra. Hy huur al sedert April 1991 die grond van die regering en het nog nie ʼn enkele betaling gemis nie. Hy bedryf ʼn suksesvolle boerdery en het ook ʼn mentorskapprogram waar hy jong opkomende boere met opleiding en ontwikkeling help.

In 2002 is hy gevra of hy, as deel van die GHLOP, die opsie wil hê om die plaas te koop. Hy het dit aanvaar en het sy voornemens om die grond te koop bevestig, en die regering het dit goedgekeur. Hy het later ʼn brief van die provinsiale regering ontvang om te bevestig dat hy wel die nuwe eienaar is.

In 2011 moes hy ʼn nuwe vyfjaarhuurkontrak met die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming aangaan, ondanks die feit dat die regering agt jaar vroeër reeds bevestig het dat hulle besig is om die grond en titelakte na hom oor te plaas.

Maimane het gesê hulle sal met ʼn klasaksie teen die regering begin.

“Ons regspan het skriftelik die staatsprokureur se kantoor versoek om ʼn verduideliking te gee waarom die grond nog nie na Rakgase oorgedra is nie, en om ʼn datum te verskaf wanneer dit gedoen sal word. Ons glo Rakgase het ʼn goeie saak, en hy word onregverdig ontneem van die grond wat, volgens ʼn kontrak, aan hom behoort. Ons sal nie huiwer om namens hom op te tree nie.”

Maimane het gesê sy party is van mening dat swart boere eienaarskapsbelang moet besit in die grond waarop hulle boer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris Ws ·

Ek besit nie grond nie maar sal graag ‘n lappie grond wil bekom.Ek het nie geld om te koop nie so Hoe maak ek?Vir die DA begin stem?Ek sal graag wil weet.Daars mos nie meer apartheid in die land nie so ek moet ook mos kwalifiseer vir grond vir die eerste keer in my lewe.

Apache ·

Soos ek verstaan as ek die nodige geld het om n stuk grond te bemagtig en ek betaal die staat in eenmalige bedrag en die grond en titelakte word aan my oorgedra dan bly die Staat (regering) eienaar van die grond, dis mos nie regverdig nie.
Sal maar n stukkie grond in die buiteland koop dan weet ek seker die grond is myne en ek kan veilig op kleinskaal boer.

Basjan ·

Wat van onder deur die tafel betaal? Op die tradisionele Suid-Afrikaanse manier?

Adam ·

Ek kan nie glo dat die DA pastoor nou eers hiervan bewus word nie. Ons gewone nederige landsburgers is al lankal bekend met die onaanvaarbare situasie.

Dalene de Vente ·

Dagsê Skepties

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

John ·

Ag, Mmusi weet nie nie wat hy nog kan vind om weer ‘n hofsakie te begin nie. Hy soek net stemme en sal uiteindelik ook grond uitdeel soos toebroodjies by ‘n kerkaksie. Dit sou beter wees as hy respek begin ontwikkel vir die’ mense wat sy arms hoog hou en diegene wat hom gebring het waar hy is… Hy moet sommer ook ophou om hom as predikant voor te doen as hy die Bybel saam met die kolonialiste by die agterdeur uitgooi ~ die twee het saam die land binnegekom. Sonder sy voorheen Progressiewe Party-raadgewers staan hy gestrand teen ‘n sandbank in niemandsland. Volmaaktheid is die een kenmerk wat Mmusi as sy en sy party se motto wil voorhou. Dis juis hier waar sy botterbroodjie galsterig begin proe ~ ten spyte van die soet ‘jam’ bo-op.

Susan ·

Ag nee man. Doen jou huiswerk John en ander kritikusse. Agriforum baklei al lankal dat die grond in die swart boere se naam geregistreer moet word sodat hulle vorentoe kan boer. Hulle kan nie geld bekom vir insetkostes as die grond nie in hulle naam geregistreer is nie. En wie kan nou sonder geld boer? Ek verstom my net hoe mense net altyd negatief wil wees omdat hulle niks anders te sê het nie.

bgj van der westhuizen ·

da al wat hy wil doen is hof saak na hof saak die egeing is slim hy hou die grond en hulle moet dit huur maak geld uit dit

SjN ·

Indien daar wel n wettige koopkontrak in plek was en die prys betaal is dan word die grond in die koper se naam geregistreer, Daar is n verskil tussen koop en verniet kry.

jennifer ·

Susan jy is 100% reg, Afriforum eis al lankal grondbesit, ook vir die wat n HOP huis ontvang het. Die arme mens dink dis sy huis maar dit behoort aan die staat.

Michelle ·

More word die arme plaas boer uitgemoor en sy grond word gevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.