Maimane gryp in by De Lille-twis

Patricia de Lille. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het besluit om die getwis binne sy party oor die posisie van die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, self te beredder.

Maimane sal weet hy gaan die wysheid van Salomo en die geduld van Job nodig hê om die De Lille-geskil en ander meningsverskille in die DA by te lê ná ’n vergadering van die party se federale raad die afgelope naweek waar tweespalt en spanning soms aan die orde van die dag was.

Bronne binne die federale raad het aan Maroela Media vertel daar was ’n poging van twee prominente lede van die Wes-Kaapse DA-leierskorps om die De Lille-geskil en die deurmekaarspul in verskeie ander DA-beheerde Wes-Kaapse munisipaliteite by te lê met ’n voorstel dat geen verdere mosies van wantroue deur DA-koukusse in DA-burgemeesters toegelaat word tot ná volgende jaar se verkiesing nie.

Sedert die DA in April die terugroep-klousule aanvaar het, is DA-mosies van wantroue in die DA-burgemeesters van Kaapstad, George en Matzikama (Vredendal) aanvaar, asook in die DA-speaker van Stellenbosch. Boonop is die DA-burgemeesters van Knysna en Beaufort-Wes ontsetel deur veelparty-mosies van wantroue in die onderskeie stadsrade.

Die voorstel van die twee Wes-Kaapse leiersfigure is egter deur Maimane afgeskiet, dus kan interne mosies van wantroue voortgaan. Maimane het onderneem om self ’n oplossing vir die De Lille-fiasko te vind.

Intussen is nog ’n mosie van wantroue in De Lille ingedien om op die volgende stadsraadsvergadering te dien. Die mosie is ingedien deur twee DA-raadslede, Marian Nieuwoudt en Brenda Hansen. De Lille-ondersteuners voer egter aan die korrekte DA-prosedure is nie gevolg nie.

Benewens die De Lille-kwessie was daar ook heelwat verdeeldheid oor ’n plan om provinsiale DA-leiers meer inspraak te gee in die opstel van DA-kandidaatlyste vir aanstaande jaar se verkiesing.

Dié kwessie, wat deur sommige waarnemers as meer van ’n aanval op die voorsitter van die DA se federale bestuur, James Selfe, gesien word as ’n werklik substantiewe meningsverskil, is na ’n subkomitee van ses senior lede van die federale raad verwys, wat besluit het om ’n regsmening in te win.

Op ’n meer produktiewe noot is die DA se nuutste ekonomiese beleidspunte deur die party se beleidshoof, Gwen Ngwenya, voorgelê. Na verstaan word is dit ’n baie liberale beleid, met groot klem op vryemarkbeginsels.

Die eerste stappe om die federale regskommissie van die DA korrek saam te stel is ook geneem. Die Kaapse hooggeregshof het onlangs beslis dat die regskommissie reeds verskeie jare lank verkeerdelik saamgestel is, wat die geldigheid van ’n klomp interne dissiplinêre besluite in die gedrang bring.

Maimane het die federale raadsvergadering afgesluit deur op ’n mediakonferensie die eerste aanduidings te gee van die vyf hoofpunte waarop die DA-veldtog vir aanstaande jaar se verkiesing kan berus.

Die DA sal homself bemark as stryder teen korrupsie, skepper van ’n klimaat vir werkgeleenthede, voorstander van sterker en meer doeltreffende maatreëls om misdaad te bekamp, voorstander van strenger grensbeheer en laastens as ’n party wat meer doeltreffend as die ANC regeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Se maar net

Nou moet mens vir so n party stem. Aiai

pieta

klomp kinderagtige snert. bestuur tante pattie die kaapse munisipaliteit te goed? want ditt steek nogal skerp af teen menige stede. haar muni spog met heel skoon strate. bitter min lekkende krane, minder bedelaars by groot verkeerskruisings. kan die klaers beter vaar?

Whahahah

Ag Mmusi jou party is soos die NP van ouds hy is stadig (eintlik vinnig) besig om uit te bloei, jou steun het halveer want jyt mos nie die wittes en bruines se stem nodig gehad nie jy het agter die etniese swartes se stemme gehol en daarmee wittes en bruines sleggese en beledig .. kyk nou hoe lyk jou party sonder wit en bruinmense .. Julle gaan heeltemal non existing raak in die volgende verkiesing .maak jou en jou groot kop gereed daarvoor .dit is die prys wat jy betaal vir ARROGANSIE en RASSISME .want jy kon nie wag… Lees meer »

JAN

DA is so besig met interne gevegte , hulle vergeet wat buite hul party aangaan ek voel jammer vir die enkele lojale raadslede wat probeer om in hulle dorpe of wyke n verskil te maak…. DA is gedoem vir volgende jaar se verkiesing JAMMER

Wilma

Waarom so baie tweespalt. Kan mense ni ma die strydbyle begrawe dat hul kan vorentoe beweeg met positiewe resultate ni. Politicians maak my siek. VF+maar my kruisie kry