Maimane lig sluier oor nuwe party

Mmusi Maimane (Foto: Mmusi Maimane/Facebook)

Mmusi Maimane, die voormalige DA-leier, se nuwe ‘party’ wil mense verenig, eerder as om deel te neem aan die algemene verkiesing.

Maimane het die sluier effens gelig oor sy nuwe politieke projek, die Movement for South Africa (Mosa), toe hy Woensdagmiddag die Kaapse Persklub toegespreek het by Kelvin Grove in Nuweland.

Hy het verduidelik dat Mosa nie ‘n politieke party gaan wees nie, want hy meen met 48 partye op die stembrief in verlede jaar se algemene verkiesing, het die land nie nóg ‘n party nodig nie. Wat hy eerder in gedagte het, is iets soos die destydse United Democratic Front (UDF), wat ‘n losse samekoms van burgerlike organisasies was wat verenig is deur hul opposisie teen apartheid. In hierdie geval wil Maimane mense saamvoeg teen die ANC.

Mosa het nie in hierdie stadium strukture nie, maar hoop om dit teen April in plek te hê. Maimane het gesê duisende mense het reeds belangstelling getoon en baie het aangesluit. Lidmaatskapgeld beloop R25 per persoon.

Wat beleid betref het Maimane aan ‘n paar punte geraak. Dit sluit in nie-rassigheid, groter gemeenskapsgerigtheid en die omvorming van staatsbeheerde ondernemings sodat Suid-Afrikaners individueel aandele daarin kan bekom. Hy het nie presies uitgespel hoe hy dit wil doen nie, maar hy het in die rigting gepraat dat dit as ‘n tipe regstelling van die verlede se onregte gebruik kan word, wat nie betaling vir die gevolglike aandele impliseer het nie.

Maimane meen voorts toerismevisums is ‘n blote geldmaakskema en dat burgers van belangrike handelsvennote Suid-Afrika moet kan besoek sonder visums. Hy het ook uitgevaar oor die swak bestuur van Eskom en die SAL.

Nadat Maimane die afgelope naweek in ‘n Twitter-skellery met verskeie DA-leiers betrokke was, was hy vanmiddag die ene liefde en welbehae teenoor sy voormalige party. Hy het gesê hy wens die DA alles van die beste toe, maar aangesien dit die party se fokus geword het om kiesers vanaf die VF Plus terug te wen, is dit nie meer die party vir hom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

maimane, kom ons glo jou, dis nie ‘n politieke party nie, maar kyk maar wat gaan gebeur as die volgende verkiesing kom, dan is dit ‘n politieke party

Zirk ·

So, die DA teiken lede wat weggedwaal het na die VF+. Die DA het “high hopes”. Daar’s ‘n spreekwoord wat lui; ones bitten, twice shy”. En buitendien. Bemerk ek so ‘n tikkie rassisme by Maimane. Sou hy reken die VF+ is net vir blankes bedoel.? Of is dit TE konserwatief en TE behoudend na sy sin.? Wat probeer hy sê.?
Na my mening is die VF+ oop vir almal wat met sy beleid en grondwet saamstem.

Jinksie ·

Nie as mens na party van die vf+ se lede luister nie. Jammer maae as WIT VROU voel ek nie eens welkom by vf nie en solidarityt is n mors van geld en tyd en net n gekerm en kla. En ek weet maroela media is te diep ingekruip om die kommentaar te lewer.

RB ·

Maimane, ek glo jou net soveel as wat ek Pinocchio glo! Jou woord is so min werd soos n 1000 Zim $!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.