Maimane, Malema soek antwoorde oor Bosasa-bewerings

Mmusi Maimane, leier van die DA, en Julius Malema, leier van die EFF. 

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Woensdag gesê almal wat betrokke was by die beweerde korrupsie by Bosasa, moet agter tralies beland. Terselfdertyd meen Julius Malema, leier van die EFF, dat pres. Cyril Ramaphosa ook antwoorde oor sy betrokkenheid by die omstrede maatskappy moet gee.

Dié twee opposisiepartyleiers het albei gereageer op die verdoemende bewerings wat aan die lig gekom het tydens Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, se getuienis voor die Zondo-kommissie oor staatskaping.

Agrizzi het in sy getuienis lede van die ANC, staatsamptenare, lede van die parlement en vakbondleiers geïmpliseer by omkooptransaksies waarby Gavin Watson, Bosasa se uitvoerende hoof, glo betrokke was. Agrizzi beweer sleutelindividue het glo miljoene rande se omkoopgeld ontvang in ruil daarvoor dat tenders aan Bosasa toegeken word.

Maimane het die kwessie Woensdag in Umlazi, eThekwini, aangespreek tydens sy party se KwaZulu-Natalse been van hul “Kasi-to-Kasi”-toer vir die komende algemene verkiesing.

“Oor die afgelope paar dae het getuienis voor die Zondo-kommissie ons ʼn intieme kykie na ANC-styl korrupsie gegee met betrekking tot Bosasa,” het Maimane gesê.

“Hierdie onthullings het ʼn einde gebring aan die mite dat korrupsie in die ANC bloot iets was wat tussen voormalige pres. Jacob Zuma en die Gupta-familie voorgekom het. ʼn Stelsel van korrupsie wat ʼn muur tussen binne- en buitestanders vorm, staan sterk binne die ANC.”

Maimane het verder gesê dat dit moeilik is om ʼn Bosasa-skenking van sowat R500 000 aan Ramaphosa nié as omkoopgeld te ag nie. Ramaphosa se 2017-veldtog om die volgende ANC-president te word, het glo ʼn kontantinspuiting van ’n halfmiljoenrand van Watson ontvang.

“Die feit is dat Ramaphosa R500 000 ontvang het van ʼn maatskappy wat al twee dekades lank omkoopgeld aan die ANC betaal. En dít is waarom die president die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid nie aan die mense van Suid-Afrika verskuldig is,” het Maimane gesê.

“Die ANC, nes hul eweknieë in Zimbabwe, het gedink hulle kan Suid-Afrikaners bedrieg deur net die bestuurder van ʼn stukkende bus te verander. Ons moet nou op ’n bus klim wat op pad is in die regte rigting.”

Malema het op sy beurt Woensdag tydens ’n mediakonferensie oor sy party se voorbereiding vir die opkomende verkiesing, ’n ultimatum aan die president gestel. Hy het gesê Ramaphosa het net kans tot die einde van die maand om sy onskuld in die Bosasa-debakel te bewys, anders sal die EFF seker maak dat dié kwessie tydens sy staatsrede volgende maand onder die vergrootglas kom.

“As president moet Ramaphosa ʼn ope mediakonferensie hou en die land se vertroue wen rakende sy bedrywighede met Bosasa,” het Malema gesê.

“Sy verduideliking in die parlement oor Bosasa het hom blootgestel aangesien sy seun sowel as Bosasa hom weerspreek het.”

Tydens ʼn presidensiële vraag-en-antwoord-sessie verlede jaar November is Ramaphosa in die nasionale vergadering gevra oor ʼn betaling van R500 000 vanaf Bosasa. Die betaling is onder die naam African Global Operations aan Ramaphosa se seun betaal. Die president het verduidelik dat dié geld vir raadgewende dienste was wat deur sy seun, Andile, se maatskappy aan Bosasa gelewer is.

Nadat Andile dit ontken het, het Ramaphosa egter begin klei trap en ’n brief aan die parlement geskryf wat verduidelik dat hy per ongeluk LP’s van verkeerde inligting voorsien het. Hy het toe erken die geld is eintlik betaal om sy veldtog as ANC-president te finansier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chris du preez ·

Malema is seker omgekrap omdat hulle meer as hy gekry het

leser ·

kry “stir-all” vir getuienis / ondervraging voordat hy weer landuit “vlug” om vure in ander dele van die wereld dood te slaan maar te lamsakkig is om sy gesig in sa te verdedig

Riaan ·

Rasisme is net so erg ondien nie erger as korrupsie, maar musi en juju is stil hieroor veral die aandeel wat hulle persoonlik of hulle partye daaraan het!
Lekker om te praat maar NIE om te “act” nie.
Wat het muso bv gedoen tov sy jeugleiertjie se aandeel in SR? NIKS#

Jacques ·

Maimane en Malema , julle moet die polisie vra om te soek , hulle doen dit vir n lewe .
Wat dink julle is die kans dat julle die regte antwoorde gaan kry en dit hoor wat ons almal wil hoor ? Tussen NUL en NIKS , hou dop .

Karel ·

Die twee maak seker ‘n grap want hulle sal eers nog heelwat tronke moet bou om almal te kan huisves.

Louis le Roux ·

Manne wat agter deure staan moenie ander daar soek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.