Maimane meen verkiesing is referendum oor ANC

Die DA-leier, Mmusi Maimane. Foto: DA via Facebook

Die DA-leier, Mmusi Maimane, meen vanjaar se verkiesing is ʼn referendum oor ANC-regering en dat Suid-Afrikaners die enigste party wat prakties getoon het dat hy beter as die ANC kan regeer, naamlik die DA, ‘n regeerkans moet gee.

Maimane het Woensdag in Kaapstad ‘n baie lang toespraak afgesteek as alternatief tot die staatsrede wat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in die parlement gaan hou.

Volgens Maimane moet Suid-Afrikaners hul verwagtinge grond op wat met die aanvang van die demokratiese era in 1994 ten doel gestel is, nie met die wyse waarop die ANC-regering verwagtinge sedertdien laat daal het nie.

Die DA-leier het uitgewys dat 40% van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark tans nie ‘n standhoudende werk kan kry nie, dat 1,2 miljoen Suid-Afrikaners onder die broodlyn leef, dat 17 miljoen staatsubsidies uitbetaal word, dat misdaadvlakke onaanvaarbaar hoog is en dat die welvaartgaping in die land al wyer word.

Volgens Maimane verseker die ANC-regering dat Suid-Afrika wêreldwyd berug is vir korrupsie en plundery. “Dinge raak al erger, en dis die ANC se skuld,” aldus Maimane.

Hy meen vanjaar se verkiesing is ‘n referendum oor die ANC as regering eerder as ʼn uitspreek van hoop oor wat die ANC kan word, en dat dit ʼn versaking van plig is om nie teen die ANC te stem nie.

Hoewel hy Ramaphosa as persoon respekteer, kom die eenheid en magsbehoud van die ANC vir Ramaphosa voor landsbelang, het die DA-leier aangevoer. In hierdie verband het hy verwys na die getuienis voor die Zondo-kommissie oor die rol van ministers soos Gwede Mantashe (minerale hulpbronne) en Nomvula Mokonyane (toerisme), asook die ANC-LP Vincent Smith, met geen optrede deur Ramaphosa nie.

Volgens Maimane is die ANC ʼn party wat leef in die verlede en is sy plan vir ʼn nasionale demokratiese rewolusie ʼn plan wat daargestel is vir ʼn era wat verby is.

“Die ANC is ʼn gebreekte bus, en sal ʼn gebreekte bus bly ongeag die busbestuurder,” het die DA-leier gesê.

Wat die memorandum van vyf buitelandse regerings betref wat waarsku oor toekomstige beleggings in die land, het Maimane gesê dit help nie die ANC gaan tekere as die onttrekking van sulke beleggings in byvoorbeeld die motorbedryf stede soos Port Elizabeth en Oos-Londen in spookdorpe kan verander nie.

Volgens Maimane is die ander politieke partye se manifeste pure fiksie – dis net die DA wat al bewys het hy kan beter as die ANC regeer, spesifiek in Kaapstad en Wes-Kaapland.

Die Wes-Kaap het die laagste werkloosheidsyfer want die provinsiale regering soek aktief na nuwe beleggers, die trek van toeriste en behoorlike ondersteuning aan die landbou. In hierdie verband het hy die rol van Alan Winde, die DA-premierskandidaat, beklemtoon.

Die Wes-Kaap spog ook met die beste matriekvoltooiingsyfer, die beste basiese dienste en die hoogste lewensverwagting in die land, en die Kaapse metropolisie is ʼn voorvegter teen misdaad.

Dieselfde verskil is volgens Maimane reeds in ʼn kort rukkie onder DA-bestuur in Tshwane en Johannesburg se metro’s gemaak, met R700 miljoen ekstra wat vanjaar in Johannesburg vir die uitbreiding van basiese dienste beskikbaar is danksy skoon DA-regering.

Die DA se verkiesingsmanifes, wat later vandeesmaand bekend gestel word, sal beleidsekerheid bring, het Maimane beklemtoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jose ·

Nee wat Mmusi, jy het enkelhandig gemaak dat ek nooit weer DA sal stem nie.

Pierre ·

Hier is ook maar net ‘n voorbeeld van baie praat. Ek is dit eens dat my stem nie vir die DA sal gaan nie aangesien ook hulle dae getel is, ek voorspel in elkgeval dat hulle minstens 3% minder steun gaan kry hierdie jaar. Hulle binnegevegte het gewys dat daar ook in hierdie party geen eenheid is nie en dat elkeen vir hom ‘n mishoop wil bou waarop hy kan sit en aansien geniet. So kan Mmusi maar praat soos hy wil, dit gaan net stomme woorde bly.

Dries ·

Di Wes-kaap as voorbeeld van ‘goeie regering’?
Sonder di hof kan di DA ni regeer ni. Behalwe oa. di debakel rondom Patricia de L, is die jongste di Zille/Selfe voorbeeld.
Nee dankie!

Daan Erasmus ·

Stem reg. Bly weg. Dit is natuurlik die beste manier om VIR die ANC te stem. Elke ou (en vrou) wat wegbly is ‘n stem vir die ANC. Sonder dat hul ‘n vinger lig. Enige stem vir enige opposisie party(amper almal) is ‘n stem teen alles wat die ANC verkeerd doen.

karen ·

Daan jy is heeltemal reg. Elkeen wat kwalifiseer behoort sy / haar deel te doen en ‘n kruisie te gaan trek daardie dag. In my opinie as jy die NIE doen nie, verbeur jy jou reg om te kla

Db ·

Ek DA stem vir daardie gladde bek wese. Nooit , dan byt ek liewers my polse af

Andre ·

MM moet eerder maar stil bly a.g.v hom gaan die DA die wes kaap verloor. Ek stem eerder vir die ANC as die DA, en ek haat die ANC.

DA ·

Die mense kan moan soos hulle wil oor die DA, waar hulle in bestuur van sake is, is dit nou maar net beter as in ander gebiede. Die probleem met vandag se mense is hulle verwag die land moet binne 6 maande omgekeur word. Die DA doen goeie werk en waar hulle in bestuur is word dinge gedoen. Mens kan nie ‘n ekonomie binne ‘n dag bou wat besig is om te verbrokkel nie. Ek sien nie dat die VF+ enige merkwaardige kostes gesny het nie, inteendeel hulle verteenwoordig nie ‘n sekere groep mense en sal defnitief nie ons land se ekonomie kan red nie. Ja almal gaan korupsie opbring, maar wys my ‘n land in Africa, of in the wereld waar dit nie ‘n probleem is nie. En as jy een kan noem hou tog net ingedagte dat mens bly mens (politikuste) sekere geheime kom net nie altyd op die lappe nie.

neels ·

Jy slaan die spyker oppi kop. DA is net een party wat die anc monster kan gas gee. Al die klein partye verdeel net die opposisie en dit gaan ons niks in die sak bring nie. Geen party is perfek nie. Bere al julle irritasietjies met die blou party vir nou, ons voortbestaan hang van julle helder denke af, nie emosies nie.

Wynand ·

Die mense wat stem, maw deelneem aan die proses van “regerings” kies, het NIE die reg om te kla as hulle nie hulle sin kry nie – jy moet mos die uitkoms aanvaar want jy het mos deelgeneem en jy weet mos hoe werk demokrasie – majority rules. Deur deel te neem aan die proses, erken en beaam jy die proses, en moet jy die uitkoms aanvaar – dis soos in sport een span wen ander verloor en niemand luister na die gekerm van die verloorders na die tyd nie. So, die wat nie deelneem aan die proses nie, en dit nie “condone” as’t ware nie het die volste reg om te kla want hulle is NIE DIE MENSE WAT DIE idiote verkies het nie.

TN ·

Ek neem aan dat jy nie demokrasie ondersteun nie ? Jou alternatief ? As jy nie ” teen ” die ‘ idiote ‘ gestem het nie het jy hulle a’st ware ondersteun en behoort jy doodstil te bly .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.