Maimane sê Ramaphosa moet ‘self opdok’ vir regskoste in Bosasa-saak

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

DA-leier Mmusi Maimane sê pres. Cyril Ramaphosa moet uit sy eie sak betaal vir die regskoste wat verband hou met sy voorgenome hersieningsaansoek van die openbare beskermer (OB) se verslag oor Bosasa.

Die OB se finale verslag hieroor word na verwagting binnekort uitgereik.

Maimane sê die president het die volste reg om die verslag te laat hersien.

“Daar kan egter nie van Suid-Afrikaners verwag word om die president se regskoste te dra om homself teen bewerings van korrupsie, magsmisbruik en geldwassery te verdedig nie.

“Ons voer aan dat pres. Ramaphosa ingevolge wetgewing uit sy eie sak moet betaal vir ʼn hofsaak, omdat hy dit in sy persoonlike hoedanigheid voer,” het Maimane gesê.

Maimane het in ʼn verklaring gesê hy het aan die president geskryf en gevra vir ʼn onderneming dat hy nie openbare geld vir die hofsaak sal gebruik nie. “Die president moet Suid-Afrikaners ook verseker dat hy nie die staatsadvokaat of die staatsprokureur gaan gebruik om regslui namens hom te betaal nie.”

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het ná ʼn klagte deur die DA, ʼn ondersoek gedoen na of Ramaphosa die parlement mislei het oor ʼn sogenaamde donasie van R500 000 deur Bosasa se Gavin Watson. Die DA het die OB ook gevra om die omvang van die beweerde botsing van belange tussen Ramaphosa, sy seun Andile Ramaphosa en Bosasa te ondersoek. Die OB ondersoek ook moontlike geldwassery.

Die DA hou vol die skenking is nie aan die president, as die destydse adjunkpresident gemaak nie, maar is gedoen in sy persoonlike hoedanigheid.

Maimane sê ʼn volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria het vantevore ʼn presedent in dié verband geskep, deur te bevind die staatsadvokaat was verkeerd deur te betaal vir oudpres. Jacob Zuma se regskoste in ʼn saak wat Zuma in sy private hoedanigheid geraak het.

“Hierdie gee aan pres. Ramaphosa die perfekte geleentheid om aan Suid-Afrikaners te wys dat hy anders as sy voorganger is, deur te onderneem om vir sy eie regskoste op te dok.”

“Geen burger is verhewe bo die reg nie, ook nie die president nie. Die DA gaan nie toekyk hoe politici staatsmag misbruik nie en sal verseker dat verkose verteenwoordigers aanspreeklik gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Tarentale in n trop vertoon identies, dood natuurlik

Christa

EK stem. Die regering gee Groot salarisse aan hulle ministers maar nog Sal hulle van die die publiek verwag om hulle uitgawes te betaal. Van vakansies, hofsake, ens.

Gert van Wierdapark

Dat die DA nou wragtie waar oor elke ou dingetjie waar by CR betrokke is, politieke munt probeer slaan, slaan my dronk! Konsentreer eerder op die “brood-en-botter” kwessies soos om Tshwane en Jhb beter te bestuur en n behoorlike diens aan inwoners te lewer. Dus, kry jul ore teen die teer en kry n benul van wat op grondvlak aangaan, en vergeet bietjie van die Groot Tent, die Sirkus en al die narre!!!

Jerry

Zuma, CR, Mabuza, Ace = ANC=Koppe in een mus! Verskillende faksies speel misleidende toneel.

John

Nee, broeders, CR moet geweeg word. En as hy te lig gevind word, moet hy aanskuif of uitskuif. Om hom oor te sien en Zuma te kap, is verkeerd. Wanneer wil ons begin om konsekwent te wees. Wie na hom kom, is moontlik ook ‘n groen druif, maar dan vervolg ons hom ook, totdat die tak skoon is.