Maimane skryf aan Ramaphosa oor ekonomie se ‘donker dag’

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: DA)

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Woensdag aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf in ’n beroep aan die president om ’n noodherstelplan vir die ekonomiekrisis op te stel ná Dinsdag se “donker dag” vir die land se ekonomie.

Maroela Media het vroeër berig Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het gister die bevindinge van sy jongste navorsing bekend gemaak. Dit toon dat Suid-Afrika se werkloosheidsyfer op 29% staan, die hoogste sedert daar in 2008 met die kwartaallikse opname begin is.

“Ek skryf om ’n beroep op u te doen om [landsburgers] toe te spreek oor gister se werkloosheidsyfers wat deur StatsSA vrygestel is en die aankondiging van Eskom se rekordverliese, om voorts ’n herstelplan vir die ekonomiekrisis op te stel saam met die betrokke belanghebbendes van die regering en politieke partye ten einde die ekonomie en Eskom te hervorm, asook die werkafleggings stop te sit,” het Maimane geskryf.

“Ek wil oplossings aan u bied om ons ekonomie te help red. Die oplossings is gegrond op ingrypings wat al in DA-geleide regerings oor die hele Suid-Afrika gewerk het. As u in belang van Suid-Afrika werk, sal die DA met u saamwerk – net soos u met alle regeringsvlakke sal moet saamwerk om die ekonomie te laat groei en werksgeleenthede te skep.”

Maimane het in sy skrywe gesê dat Suid-Afrikaners leierskap van die land se president asook dringende optrede verwag om staatsinstansies reg te ruk.

Hy het gesê die DA glo dat Ramaphosa die verdeling van Eskom in twee behoort aan te kondig, asook die verkoop van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en nienoodsaaklike bates by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Die DA wil ook hê dat die land se arbeidswette hervorm word om meer ondernemings in staat te stel om werk te skep en die nasionale minimumloon te skrap.

Maimane wil dit volgens hom aan Ramaphosa duidelik maak dat daar oplossings beskikbaar is om die land se ekonomie te red. Dié oplossings is gegrond op ingrypings wat reeds vantevore onder DA-bewind gewerk het.

“Die amptelike opposisie het reeds voorstelle oor ekonomiese hervorming beproef om die ekonomie te help herstel van hierdie krisis. Ek sien uit daarna om saam met u te werk om die ekonomie te help omkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert van Wierdapark

Die “Donker dag” vir die land het al ‘n kwart eeu gelede begin!!!

Peet

Is daar wragtag nog ‘n regdenkende mens wat dink énige iemand in die ANC stel belang in die opregte vooruitgang van Suid-Afrika…?

Ekke Dink

Nes Zuma moet Ramaphosa hom na die howe wend om die saak te probeer regstel. Ek hoop sy termyn strek oor die volgende 25 jaar sodat hy die bollie wat sy voorgangers en die kaders in sy huidige parlement en top 6 reg te maak, As die bevolkings aanwas en vigs op die huidige trant aangaan, sal sowat 2 000 000 mense hiv positief wees. Hy sal sekerlik daaraan moet begin dink om meer hospitale en klinieke te bou. Los maar die bou van gratis huise.

Clipper

Ek is oortuig daarvan dat die anc nie die aanbod sal aanvaar want daar is nie ‘n ietsie om in die sak te steek nie. Ramaphisa is ook te veel van n swak leier en bestuurder om iets daadwerkliks te doen om die ekonomie om te draai

Dries

Skraap BEE, affirmative action, human rights en vakbonde.