Maimane verloor hofsaak oor skole

Mmusi Maimane in die hof. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency)

Die voormalige DA-leier Mmusi Maimane en sy nuwe organisasie, One South Africa Movement, het weer bloedneus in die hof gekry toe die hooggeregshof in Pretoria vroeër vandag sy dringende hofaansoek om skole weer te sluit, van die hand gewys het.

Die saak is deur ’n volbank regters aangehoor wat beslis het dat die regering die nodige voorbereidings getref het om kinders se veiligheid by skole te verseker te midde van die Covid-19-pandemie.

Dipolelo Moime, woordvoerder van One South Africa Movement, het intussen in ’n verklaring gesê die organisasie is teleurgesteld met die uitspraak hoewel hy dit respekteer. “Die hof was tevrede met die regering se plan om die verspreiding van Covid-19 in ons land se skole hok te slaan. Tyd sal leer of dit die regte besluit was,” het Moime gesê.

Solidariteit, wat as vriend van die hof opgetree het, het die uitspraak verwelkom.

“Maimane het ’n opportunistiese en bedenklike saak gevoer, waar hy onder eed gestel het dat alle mense in hulle huise opgesluit moet bly, en skole moet sluit. In die hof het hy nog verder gegaan en aangevoer die oopmaak van skole is soos om kinders in ’n brandende vuur te stuur.

“Hierdie doelbewuste poging om ouers en kinders vol vrees en angs te laat, is verwerplik en onaanvaarbaar,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in ’n verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig Maimane het aanvanklik ʼn dringende aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om te vra dat skole eers oor drie maande heropen. Dié aansoek is ook van die hand gewys op grond daarvan dat Maimane se organisasie nie behoorlik gemotiveer het waarom hy dié hof direk nader nie.

Volgens Maimane is dit onverantwoordelik om skole te midde van die Covid-19-pandemie oop te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gerhard ·

Ag ou Mmusi…miskien moet jy maar vir jou n regte werk kry soos almal van ons maar.

Anel ·

Die land is siek. 2000+ mense is die afgelope 100 dae dood. Jaarliks gaan meer mense aan verkoue, griep, moord, motorongelukke ens dood. Maar die land word nie gesluit nie. Wat is nou anders? Mense gaan nog steeds aan al die ander goed dood. Waarvoor is julle bang? Bang om by die voorvaders aan te sluit? As dit jou tyd is, is dit jou tyd. Aanvaar dit. Nog voor jy gebore is, is jou lewensstorie geskryf. Dis hoe dit is. Ons kinders is in Nederlamd. 3 weke terug het hulle by vakansieoord gaan vakansie hou. Die kinders is ook al terug by die skool. Die lewe gaan normaal aan. Hoe lank nog wil die land voortgaan met die histeria? Ek is ook bo 60 en is nou mooi keelvol om voorgesê te word wat ek mag en nie mag doen nie. Ek het gedink ons woon in ‘n demokratiese land en nie onder komunisme nie. Duidelik het ek my misgis!!!

Karel Kobus Kruger ·

Volgens die CIA World Factbook, is ons totale sterftesyfer 9.3/1000 mense en ons bevolking is so 57 miljoen.
M.a.w. ons totale DAAGLIKSE sterftesyfer is
9.3/1000×57 000 000/365= 1452
Ander bronne gee min of meer dieselfde syfers.
So ja, waaroor die yslike bohaai oor die handjievol (in vergelyking met die res) covid sterftes? En dit geld nie net SA nie, maar ander lande ook. Gaan doen maar self die somme vir ander lande.

Thea ·

Jy is reg, jou tyd is jou tyd maar mens stuur nie jou kind in ‘n oorlogveld in nie! Jy kan nie regtig praat nie want jou kinders is nie in SA nie. Ignorance is bliss!

Johann ·

Shame…dat die ou nou so desperaat is vir aandag? En wie betaal vir die hofsake?

Sakkie ·

Ek hoop regtig iemand gee hom nou n fopspeen en n droe doek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.