Majuba-fees dalk in gedrang

Die Majuba-fees.

Dit is amper weer tyd vir die Majuba-fees, maar vanjaar hang daar ʼn donker wolk oor dié viering.

Jaarliks trek honderde Afrikaners van heinde en verre na Majubaberg naby Volksrust, ter gedagtenis aan dié legendariese veldslag tussen die Boere en die Britte op 27 Februarie 1881.

Die Boere se oorwinning is in 1981, in die eeufeesjaar, amptelik gevier en sedert die laat 1980’s het dié viering ʼn jaarlikse instelling geword.

Vanjaar kan dit egter moontlik die laaste keer wees wat dié fees plaasvind, weens ʼn gebrek aan geld.

“Almal van ons kan aan ons eie sakke voel hoe dit jaar na jaar taaier raak om te oorleef. Net so raak dit ongelukkig by die jaar finansieel taaier om hierdie geleentheid aan te bied en dit is moontlik dat 2021 se fees in omvang kleiner mag wees en dat die skyngeveg dalk in die slag kan bly,” sê Anné van Zyl, mediaverteenwoordiger van die Majuba Trust. “Dit sal verskriklik wees om dit prys te gee, want dit maak die geskiedenis elke jaar vir elkeen wat daar is, weer lewend.”

Boere wat geveg het in die slag van Majuba

Maar die Majuba Trust glo steeds, nes bykans 140 jaar gelede, ʼn boer maak ʼn plan.

“Ons het ʼn paar jaar gelede op klein skaal begin om mense aan te moedig om Majuba Burgers te word, hoofsaaklik om die terrein te help onderhou en te ontwikkel. Ons beplan egter om tydens 2020 se fees ʼn groot projek van stapel te stuur om die getal burgers drasties uit te brei sodat ons die jaarlikse fees, wat ʼn groot geskiedenisbate is, se toekoms kan verseker.” Majuba Burgers sal die jaarlikse fees gratis mag bywoon én die geleentheid kry om een week en naweek per jaar gratis op die terrein te mag vakansie hou.

“Ons nooi mense om vanjaar se fees te kom bywoon,” sê Van Zyl, “want dit is werklik ʼn geskiedkundige geleentheid. Ons staan weer voor ʼn berg. En elkeen wat kom kamp en Majuba Burgerskap opneem, gaan ons help om hierdie berg weer te oorwin.”

Vanjaar sal die swepe nog klap tydens die skyngeveg.. Die perderuiters gaan pronk en daar gaan in die nag weer ʼn fakkelloop teen die berg uit wees. Ons gaan Cantus en sing en die kinders gaan swart wees van die modder.

Die fees word van 28 Februarie tot 1 Maart aangebied plaas. Die kampterrein is egter ʼn week voor die fees en ʼn week ná die tyd oop vir mense wat langer wil kom kamp.

Besoek www.majubaberg.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Herman G ·

Dit is baie goed dat hulle die veldslag vier en onder mense se aandag bring. Dit is ‘n baie belangrikke veldslag in Afrikaner geskiedenis.

Net een ding, die 2de foto is van die 2de Boere Oorlog, en is geneem na die slag van Spioenkop.

Mariette ·

Hierdie is eintlik so awesome om dit te sien….. O’Neils Cottage (aan die voet van Amajuba) speel n GROOT rol in my lewe. Dit was my oupa en ouma Grootjie se plek gewees… en ek het op Ingogo groot geword. Amajuba van die stalle afgesien en eintlik was ons plaas n erfplaas gewees (“Samsonsklip”) het gestrek van Inkwelo af tot teen die Buffels Rivier. Dis so mooi om sulke geleenthede te kan sien plaasvind.

Grassie ·

Tweede foto is Spioenkop. Dis baie jammer dat ons almal se stories so deur die jare sal verdwyn.

Hagar ·

Baie nodig. Wie nie sy verlede ken nie het geen identiteit nie. Wens ons kon daar kom kamp, die berg uitklim en saans om die kampvuur sit, vet skaapribbetjie braai, en dankbaar wees teenoor ons voorgeslagte se offers wat meebring dat ons vandag hier is, maar Naminie SWA is n bietjie wyd.

PC ·

Dit is dan ook die veldslag by Spionkop wat veroorsaak het dat party sokker stadions in England n pavilion (gewoonlik regs van die hoofpavilion, agter die doelhok) het wat bekend staan as DIE KOP. Anfield in Liverpool het die bekendste kop. Die Kop by Anfield is legendaries. Hulle praat van Spion kop. Fotos soos die het waarskynlik aanleiding gegee tot die benaming.

Marthinus Engelbrecht ·

Veld kornet Engelbrecht en nog berede manskappe het aan die weste kant van Majuba die Engelse ontsnap roete afgesny. Sy Martini Henry is nog in ons familie.

Willem Pelser ·

Daar was geen Afrikaners by die Slag van Majuba betrokke nie. Afrikaners is nogtans volkome welkom omdat Boer & Afrikaner nog moet saamkom: Bring net jou beursie ook saam en maak ‘n bydrae benewens jou toegangsfooi – ons Boere was nog maar altyd die flentergatte….

WP ·

Hemel, die berig oor Majuba was nie ‘n doodsberig nie! Wat het van ons volk geword of reageer julle net nie omdat julle nie weet van die Transvaalse Republiekeinse Ordonnansie dat ons die dag moet herdenk nie? Kom nou Boer & Afrikaner – laat ons mekaar respekteer en hande vat: Die Majubafees is so ‘n geleentheid. Afrikaners kan ook hier bes moontlik tot die besef kom dat hulle & hulle voorsate nog altyd Boere was…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.